Skip to main content

Kyk mooi, en jy sal vind

Anina Deetlefs se kuns trek jou in. Agter die magiese blompatrone wemel dit van simboliek. Gerald Eloff het met dié bekroonde Kaapse kunstenaar gesels oor die rol van die vrou in haar werk, kunstenaars wat haar inspireer en haar liefde vir Afrika.

Watter rol speel jou agtergrond in grafiese ontwerp in jou kuns?

Ek dink my agtergrond in grafiese ontwerp asook binnehuisversiering het met ʼn wye draai in die laaste paar jaar ʼn groet invloed op my kuns gehad. Die portretstudies word gekombineer met die skoon kliniese lyne en plat kleurvlakke wat met grafiese ontwerp geassosieer word. Ek vind ook inspirasie in patrone wat in tekstiel en muurpapier ontwerp gebruik word – beide kontemporêr en histories van aard. Gedurende die proses waarin ek die werke skep, maak ek gebruik van al die olieverf en illustrasietegnieke wat ek deur die jare geleer het.

Watter oorsese, of internasionale kunstenaars het jou beïnvloed?

Ek het heel op my eie by hierdie spesifieke en unieke tegniek uitgekom deur om bloot net een dag te besluit om al my geliefde tegnieke te kombineer binne een konsep. Ek moet erken dat ek sedertdien op heelwat beroemde kontemporêre blomkunstenaars afgekom het, wat absoluut puik is met hul idees en uitvoer daarvan. Dis inspirerend dat almal ʼn sterk eie identiteit het, en dat hul werk dadelik herkenbaar is as hul eie. Ek vind Talita Martin en Glenda Wiley as inspirerend, as ek nou twee oorsese kunstenaars moet noem.

Het jou onmiddellike omgewing (waar jy woon in Kaapstad) ʼn direkte invloed op jou kuns?

Ja, my omgewing, kultuur, geslag en Suid-Afrika het ʼn geweldige invloed op my werk. Ek woon net buite Kaapstad en is gelukkig om ʼn groot tuin te hê, as ek kyk vanuit my studio is ek omring deur die natuur, soos dit telkemale weerspieël word in my werke. Meeste van my portretstudies is van pragtige Afrika vroue, met gelaatstrekke eie aan ons Suid-Afrikaanse nasies. Ons Suid-Afrikaanse kultuur is ʼn behoorlike potjiekos van verskillende tale, kosse en gelowe. Ek is trots Suid-Afrikaans en verwys telkemale na dié elemente in my Artist Statement oor my werk.

Jou onlangse werke volg ʼn tipe floral of “blom”-styl, wat is die rede daaragter?

Almal weet dat blomme betekenis dra, maar nie almal weet wat die betekenis van sommige blomme is nie. Oor menigte kulture en eeue heen het blomme so ryk geraak aan simboliek – geïnspireerd deur mitologie, fabels, ouvroustories en geheime boodskappe. Blomme help ons om uiting te gee aan emosies en sentimente wat moeilik is om te verwoord – van geboorte tot dood, van maagdelike suiwerheid tot vuurwarm passie, van die vars jong bloeisel tot die vaal oop blom, word blomme geassosieer met jeug, skoonheid en plesier. Wanneer blomme doodgaan en verwelk, assosieer ons hulle weer met die verganklikheid en die vlugtige reis van die menslike lewe. Blomme verskaf ʼn dieper betekenis en vorm bykans deel van al ons belangrike rituele – van die doop, troues en laastens, ʼn begrafnis.

Pen en olie as medium is baie interessant – baie plaaslike kunstenaars verf net met akriel en olie, of net met waterverf. Hoekom dié keuse, en hoe dra dit by tot jou werk?

Ek gebruik met meeste van my werk ʼn kombinasie van verskeie mediums – eintlik is dit net die pen en olie wat sigbaar is na die aanvanklike lyntekeninge en daarna die kleurpotloodverwerking, wat gevolg word met die eerste laag olie. Die werke is so ryk aan lae, soos wat hulle is in betekenis. Die verwerking van die olie met ʼn illustrasietegniek in pen bo-oor, verskaf ʼn dieper “diepte”.

Vroue speel ʼn belangrike rol in jou benadering en onderwerpe – vertel ons bietjie meer?

Die vroue-tema is so oud soos die mensdom self. Vroue is die fokus van die wêreld se grootste kunsmeesterstukke – dink maar net aan die Mona Lisa en die vele gesigte van die Madonna. Deur hulle persepsies van vroulikheid poog kunstenaars tot vandag toe nog om die essensie van die vroulike wese vas te vang, hetsy dit in portretvorm, naakstudies, vreugdevol of aanloklik is. Ek gebruik die vrou as onderwerp om soveel positiewe aspekte van nie nét vrou-wees nie, maar mens-wees aan te spreek. Vir my is die vrou die simbool en skepper van die lewe. Hulle is beide sag en kragtig, prakties en spiritueel, hulle is dapper en onafhanklik. ʼn Sterk vrou weet wie sy is, en sy het die vermoë om ander op te bou. Ek dink my werk bevat ʼn tikkie van die element van “The female gaze”. Dit is ʼn term wat verwys na hoe visuele media (film, fotografie en kuns) toegepas kan word om die vroulike perspektief van die wêreld uit te beeld. Kyk byvoorbeeld na die element van die natuur wat ek telkemale gebruik – die natuur word ook gesien as vroulik (Moeder Natuur).

Watter ander simboliese elemente inkorporeer jy in jou werk?

Met die eerste oogopslag sien jy net ʼn pragtige vrou gevul met blomme. Sou jy belangstel, is daar soveel meer om te ontdek. Soos met die “gaze” – wat is eintlik die doel van hierdie blik? Waarna en hoé kyk my onderwerp? “Kyk” het ʼn kragtige invloed op die waarnemer. Die manier hoe die blik gebruik word, dra beslis ʼn boodskap oor – is die gesigsuitdrukking een van sagtheid? Of dalk intensiteit? Portretstudies is intens intiem. Die werk trek jou in en maak jou deel van ʼn oomblik en ʼn ander wêreld. Die Afrika-vrou word gebruik as ʼn sterk simbool van my Afrika-identiteit. Soos reeds genoem, is die wêreld van blomme ryk aan simboliek. Hier sal ek spesifiek gaan navorsing doen oor die betekenis van blomme binne ʼn gegewe werk – hetsy dit die lelie, die orgidee of ons geliefde protea is – wat groei, deursettingsvermoë en transformasie simboliseer. Daar word ook simboliek aan die kleure wat ek gebruik geheg.

Benader jy groter werke anders as kleiner werke, ten opsigte van skaal?

Die konseptualisering neem definitief dieselfde hoeveelheid tyd op. Met groter werke, moet jy bepaal of die beeld sterk genoeg gaan wees om dit op ʼn groter skaal te vertoon. Gaan dit ʼn groot genoeg impak maak? Dan is dit net die uitvoering daarvan wat oorbly.

Leave a Reply

error: Content is protected !!