Die kitaarbouer wat boer op trefferparades
Die sanger Stefan Jansen het al in Nederland opgetree en daar is reeds ʼn VONK-toekenning in sy vertoonkas. Gerald Eloff het met hom gesels oor die Boerenasie en cowboys, hoekom hy vir oumense musiekmaak en sy aftreeplan om eendag kitare te bou.
Hoe verskil jou benadering ten opsigte van liedjieskryf tussen Engels en Afrikaanse lirieke?
Dit verander nie noodwendig nie, die taal waarin ek skryf is irrelevant. Deesdae begin ek met ʼn frase, al het ek vroeër altyd eers lirieke of musiek geskryf. Nou begin dit met ʼn frase wat ʼn melodie insluit – ek sal een lyn hê, en dan besluit waar ek die lyn wil gebruik in die liedjie, saam met die melodie, hetsy dit die koorgedeelte of die vers is.
Jy het al in ʼn mate sukses in Nederland ook behaal – hoe verskil die gehore daar van plaaslike gehore?
Die gehore in Nederland is oor die algemeen ʼn luister-tipe gehoor – hulle hou daarvan om te sit en nie enige detail te mis van wat aangaan nie. Dis in teenstelling met Suid-Afrikaanse gehore – dis maar ʼn geraas en gedans hier – as daar ʼn lekker beat is, is alles lekker. In Nederland is daar meer intimiteit en hulle is oop vir ʼn musikale reis. Hulle kultuur is oud en gevorderd, maar ek glo ons sal nog daar kom.
Jy en Tertius Human werk gereeld saam en jy gee hom vir vervaardiging krediet – hoe vul julle mekaar gedurende die kreatiewe proses aan?
Ons is al vriende voordat ons begin musiek vervaardig het. Ons is ʼn goeie span – ek is die een met die kern-idee en Tertius is die ou wat uitvoering gee daaraan – en ook kom met nuwe idees. Soms kom ek met buitensporige idees, dan is Tertius die een wat ons terugneem na die oorspronklike. Tertius is ʼn ou wat die groter prentjie verstaan. Ek dink ons “dien” die liedjie – ons laat nie dat ons ego’s, begroting of die mark in ons pad staan nie. Ons hou mekaar op daai spoor.
Jy is die trotse wenner van ʼn VONK-toekenning. Hoe belangrik is toekennings vir jou?
Dis eerstens baie inspirerend om erkenning te kry vir harde werk, veral voor mense wat ek baie respekteer, soos by die VONK-Toekennings, byvoorbeeld. Dis beslis ook ʼn confidence boost. Dit maak vir mense ook saak, het ek gesien in Nederland – hulle wil weet hoeveel nommer een posisies jy al op radio beklee het en of jy al toekennings gewen het. Dis ʼn baie lekker item om op jou CV te sit.
Jy meld in ʼn ander onderhoud dat jy al vir drie jaar voltyds musiek maak – hoe vind jy dit en dink jy dis volhoubaar?
Vandat ek voltyds musiek maak voel dit vir my of ek my tyd spandeer aan iets wat regtig belangrik is. Dit voel of ek uiteindelik kan wees wie ek is. Dis definitief volhoubaar. Finansieel gaan dit selfs beter nou as met my vorige loopbane. Solank as wat ʼn mens hard werk, is dit definitief volhoubaar. Jy moet ook maar jou oë oophou vir ander geleenthede om geld te maak – as dié musikale avontuur jou in ander rigting vat soos merchandise of ʼn TikTok-kanaal wat geld maak, moet jy dit aangryp.
Hoekom voel jy, is so baie Afrikaanse sangers so lief vir Country-musiek? Of eerder, Afrikaanse sangers wat ook kontemporêre musiek maak?
Suid-Afrikaners is baie verwesters. Ons kom dit nie eintlik agter nie maar ons kyk skaars Europese televisie en luister ook nie eintlik Europese musiek nie – ons kyk Amerikaanse reekse en luister na Amerikaanse musiek. Ek dink, ons as Boerenasie, het baie in gemeen met die cowboys! Dis maar ’n kombinasie van blootstelling en ooreenstemming in kultuur.
Jy is ook betrokke by die Liedjie-bus inisiatief van die FAK – vertel ons meer daarvan en hoekom is dit vir jou belangrik?
Dié inisiatief lê my naby aan die hart. Ek het redelik onlangs musiek gemaak vir my ouma en oupa en ek kon sien hulle waardeer dit soveel meer as die studente in die kroeë waar ek soms speel. Daar is tans ʼn kulturele leemte as dit by die ouer mense kom want hulle word nie blootgestel aan baie musiek nie. En met alle respek gesê, hulle het minder tyd as ons almal. Ek voel dis my manier om dankie te sê vir die talente wat ek gekry het en om onselfsugtig terug te gee aan hulle.
Baie van die musiek in Afrikaans begin soms bietjie generies klink – hoe hou jy jou musiek oorspronklik?
Ek dink die belangrikste is om nie resepte te volg nie. In die Afrikaanse musiekbedryf is daar wel ʼn baie maklike resep om te volg. Daar is ʼn spesifieke BPM (beats per minute) wat almal weet baie lekker is om op te sokkie. Almal weet, as jy wil geld maak uit ʼn Afrikaanse liedjie uit, maak ʼn sokkieliedjie teen 120 BPM. Wat moet jy sing? Iets oor liefde, iets onder die belt, drink of braai en goeie tye. Die mense wat musiek maak om kommersiële redes, weet daar is ʼn resep om te volg en almal melk dit. Ek glo ook dat die publiek besig is om agter te kom dat al die musiek dieselfde klink. Dit is hoekom kunstenaars soos myself wat nié van ʼn resep af werk nie, wat letterlik individuele boodskappe vir die wêreld wil stuur met ʼn spesifieke doel (soos byvoorbeeld, om liefde te versprei) deesdae gehoor word. Daar is ʼn honderd verskillende maniere om dit doen, sonder dat die liedjies dieselfde klink. Jy moet egter ook genoeg vir jou kuns omgee om nie net te wil geld maak nie. Jy moet aanvaar dat nie almal van jou liedjies gaan hou nie, maar êrens gaan dit iemand raak. Dis hoe jy jou merk los.
Dis een van jou drome om akoestiese kitare te bou. Hoe vorder jou planne tot dusver?
Dis iets wat ek nog altyd wou doen. Kitare is eintlik my grootste passie – ek het in die musiekbedryf beland as gevolg van akoestiese kitare. Ek het gedurende die pandemie baie tyd gehad en onderdele uit Amerika bestel en my eie kitaar gebou. Ek is op die oomblik besig met my tweede een en ek het reeds ʼn koper! Dis my langtermyn aftreeplan.