Skip to main content

‘Baard en Boerboel maak jou nie ‘n Boer nie’

Mans was oor eeue die bastions van die samelewing na buite wyl vroue stiller in die agtergrond gefigureer en huis en haard bymekaar gehou het. Ditto in ons kultuur wat sterk in die patriargale stelsel onderlê is, en mans lank ongesteurd laat koning kraai het. Met die opkoms van feminisme en die transera verander die prentjie drasties en is manwees ongekend onder druk. Met vroueregte hoog op alle agendas, swaai evas al wyer die septer. Splinternuwe geslagsidentiteite betree ook die speelveld en ding luidvurig om aandag en plek mee. In ons land word die tradisionele rol van manwees en spesifiek van die blanke Afrikanerman toenemend kwaai uitgedaag. In die werkplek en sportveld is dit skraler geduik deur politieke kleur- en geslagkwotas en tuis kerf die opbreek van huwelike en gesinne ook diep in die man en pa se rol. In Vrouemaand het Sonnette Lombaard ‘n halfdosyn Afrikaanssprekende mans landwyd nader gehark om te gesels oor vroueregte en moderne manwees.  

Dirk Lotriet (56), Johannesburg, hoof van Die Waarheid Mediahuis. Getroud met twee kinders, Rikus (29) en Eva (6).

My eie houding en wat ek self sien in die kringe waarin ek beweeg, is vroueberegtiging op koers en ‘n gegewe. Ek beskou myself as ‘n feminis – dit kan nie anders nie, ek het ‘n ma, vrou, suster en dogter. Maar ek flous myself nie deur te glo my eie klein lewensruimte is die hele regte wêreld nie. Blatante voorbeelde van vroue-onderdrukking klouter uit die krake en staar jou in die gesig as jy dit die minste verwag. Ondanks die geweldige werk van vroue vir vroueberegtiging, lê ‘n stywe pas nog voor.

Is ek self skuldig aan diskriminasie teen vroue? Natuurlik sal ek graag wil sê nee, en ek glo opreg ek sal nooit doelbewus teen vroulikheid diskrimineer nie. In ‘n onbewaakte oomblik kan ‘n opmerking wel uitglip wat nie klink soos dit bedoel is nie, en optrede verkeerd geïnterpreteer word. Gelyke vrouebehandeling is ‘n mynveld, want biologiese verskille beteken dit kan nooit heeltemal gelyk wees nie. Ons verskil so, dis onmoontlik om mans en vroue ooit 100% gelyk te behandel. Ons wil tog nie ‘n wêreld bewoon nie waarin daar nie afsonderlike afdelings vir mans en vroue in sport is of geen ruimte gelaat word vir vroulikheid of manlikheid, wat bietjie van ‘n vloekwoord geword het. Absolute gelykheid is g’n droom nie – dis ‘n nagmerrie. Billikheid is waarskynlik die beste waarna ons kan streef.

Het ek al diskriminasie van vroue teen my ervaar? Diskriminasie is diskriminasie. Noem dít eerder ontradisionele diskriminasie en dít het ek al ongelukkig meer beleef as wat ek sou wou. As ‘n pa wat my dogtertjie tydens haar eerste twee jaar opgepas het, het ek die diskriminerende ouerskap-terrein eerstehand beleef. Bv. toe ek my dogter as eenjarige na ‘n moeder-en-kleuter speelgroepie gevat het, was die openlike antagonisme deur party ma’s (nie naastenby almal nie) teleurstellend. Ek en Evatjie is ook al ‘n paar keer van ma-en-kleuter-parkeerplekke weggewys. Een keer moes ek my motor letterlik na die parkeerplek reg langs die ma-en-kleuter-plek toe skuif om die motorwag tevrede te stel (foto aangeheg). Sy woorde het diep gesny: “Dis ‘n parkeerplek vir ma’s en hulle kinders, nie vir oupa’s en hulle kleinkinders nie …” Dit sal my leer om later in my lewe ‘n laatlammetjie te wil hê! Skole stuur ook boodskappe aan “die mammas”; pa’s se insette oor opvoeding word weinig ernstig opgeneem en Eva se arbeidsterapeut stuur alle terugvoering aan haar ma, al het ek tot onlangs haar weekliks na die klassies geneem.

Die moderne Afrikanerman voel dikwels dat hy as ‘n ongewensde element gesien word. Manlikheid word alte graag gelykgestel aan “toksiese manlikheid”, redelike opinies word gelykgestel aan “mansplaining”, ens. Nogtans wil ek nie enigiets anders wees nie. Ja, daar is nog hopeloos te veel chauviniste onder mans. Nes die ver te veel mannehaters onder vroue. Maar ek glo die breë gemeenskap respekteer vroue se gelykheidstryd, al reflekteer dit nog nie reg in die daaglikse handel en wandel nie. Ons probeer, en dis ‘n uitstekende begin!

Tommy Thompson (54), Kaapstad. Besigheidsontwikkelingkonsultant in die eiendomsbedryf, enkellopend, geen kinders.

Vroueberegtiging is op koers. In my bedryf en die omgewing waarin ek bly en werk word nie onderskeid tussen geslag gemaak nie en baie vroue is op verskeie vlakke in die bedryf van grondvak tot eienaarskap en topbestuur baie suksesvol en geniet respek. As enigste kind en ‘n plaasseun van Frankfort in die Vrystaat is ek ordentlik grootgemaak. Ek maak my dus nie skuldig aan diskriminasie teen vroue in die algemeen nie. Ek moet egter bieg dat ek in die werkplek al wel skuldig was daaraan.

Ek beleef manwees binne myself en in my kringe. Ek het Afrikaanse mansvriende van verskeie agtergronde en geografiese gebiede en weet teen nou dat dít alles ook ‘n rol speel in ‘n mens en/of man se verwysingsraamwerk en optrede. Soos in alle sosiale kringe, bly dit interessant hoe die ingesteldheid oor geloofsbeoefening en politieke sienings in die algemeen effe verskil op grond van die geografiese gebiede waarin my vriende en kennisse bly en blootgestel word. Kyk ek na die Afrikanermans in my onmiddellike omgewing, sien en beleef ek vandag se Afrikaanse mans as akkomoderend, gesond-kompeterend, meer gesondheidsbewus as in die verlede en ook optimisties rakende die uitdagings waarmee ons almal daagliks te doen kry.

SJ Du Venhage (53), voorsitter van die burgerregte-organisasie Toekomsfront. Ongetroud van Melkbosstrand.

Vanaf die skepping verskil die gawes van mans en vroue. Sonder om te veralgemeen, vroue is emosioneelgedrewe en kan multitask wyl mans beter fokus. ‘n Gesonde samelewing word gebou word op die huislikheid wat die vrou skep. Dit beteken egter nie sy moet net tuisbly-ma wees nie, sy kan ‘n aktiewe kernrol speel in die gemeenskap en kerk. Mans wil vanaf die oertyd jag en die broodwinner wees en die kinders in die moeder se veilige hande oorlaat. Dít skep ‘n gesonde grondslag, maar ek aanvaar baie vroue wil meer as dit doen.

Gelagsdiskriminasie gedy. As Minister van Gesondheid en Maatskaplike Welsyn, was dr. Rina Venter destyds die eerste vroulike minister in die NP se kabinet. Sy vertel in haar boek hoe sy as vrou steriel was en enduit nie erken is nie. Bv. FW de Klerk het met die “manne” gepraat, al was sy teenwoordig. En hoe elke plan van haar, met meriete en al, telkens afgeskiet is deur FW, Roelf en sy manne. Dis jammer sy is onwaardevol geag, want van haar briljante voorstelle kon ons land anders laat lyk het.

Ek is fyn grootgemaak deur ‘n tuisblyma en wis die waarde daarvan. Dit het my geleer hoe om ‘n vrou te behandel, om deure oop te maak, hulle voor te laat loop … As troepie was dit vir my lekker om swanger vroue te salueer. Vooruitgang se prys is dat die volgende generasie deur iemand anders grootgemaak word. Ma’s werk en grootouers is in outehuise. Dit bedreig die gesinslewe. In die korporatiewe ongewing kom huwelike in die versoeking want almal braai saam op spanbousessies weg van die kantoor.

As blanke Afrikaanse man ervaar ek al meer diskriminasie. Ons is met ons rug teen die muur want mans se volwaardige rol word nie meer erken nie. Vroue raak mislik en wil deesdae self braai ook. Wanneer jou werkaansoek onsuksesvol is bloot weens jou geslag, beïnvloed dit meeste mans se optrede teenoor ander geslagte.

My generasie is taf, ons het die weermag oorleef. Ons kan Boere en butch wees, maar in die nuwe generasies is die man ‘n afwesige figuur met enkelma’s wat meestal die kinders grootmaak. Daar is ‘n gebrek aan emosionele en spirituele intelligensie. Godsdiens het goedkoop geword, daar word nou aan Bybelpastoortjies se lippe gehang. Ons is in die moeilikheid – ‘n verlore generasie heers nou wat glo as jy ‘n baard en Boerboel het, is jy ‘n Boer.

Markus Sevenster (38), Parys. Leier van die burgerlike beskermingsorganisasie 100Man en wenner van Die Waarheid se Saamstaan-videokompetisie. Getroud met ‘n seun.

My eie konserwatiewe beginsels rakende die posisie en rol van ‘n man en vrou is Bybelsgerig. Dit gaan oor God se wil, nie ons eie nie. Ek glo ‘n vrou kan ewe suskesvol enige beroep volg, maar ‘n gesonder balans is nodig want te veel mense is pro-seksisties. Aanstellings moet geskied op meriete en nie geslag of oor window dressing gaan nie. Kyk na vroue se kernrol in die Slag van Bloedrivier, hulle het voorlaaiers gelaai ėn kos voorsien.

Geen regdenkende mens wil skuldig wees aan diskriminasie nie, tog gebeur dit aan weerskante van die spektrum. In my geval, sal ek my sondes regstel as ek duidelik onregverdig was. Terselfdertyd ervaar ek baie moderne vroue as te seksisties en onregverdig teenoor mans.

Die Afrikanerman moet tans onder geweldige druk bly funksioneer. Hy het groot verantwoordelikheid daar buite en moet sy geliefdes tuis versorg. Dis in ons bloed om die jagter te wil wees en te voorsien. Ons erfenis is belangrik, maar oor wie en wat ons is en oor ons plek, heers verwarring. Dit en die onderlinge kompetisie hinder. Gee jou ego afstand, want ons maak ons eie gif en drink dit dan. Indoktrinasie verdeel en water ons volk af. Om snellers te trek, is g’n oplossing nie. Ons moet groepeer, saamstaan en oplossings kry en dit met ‘n fisiese plan in werking stel.

Kaz McFadden (38), Pretoria. Akteur/regisseur en eienaar van die PALI Incubation, ‘n slypbroeikas vir jong akteurs en tegnici. Ongetroud in ‘n vaste verhouding.

Ek dink verseker vroueberegtiging is op koers. Daar is daadwerklik niks wat ‘n vrou nié kan of mag doen nie. Vir my is die tyd nou ook ryp om dit meer deel van ons leefstyl te maak eerder as ‘n openbare aanslag op die wêreld en mensdom. Daar is vermoedelik wel nog vele mense wat nie positief oor feminisme voel nie – ek dink dit is hoogtyd dat hulle soos die minderheid begin voel, wat hulle is.

Ek is nie bewus van enige dikriminasie teen vroue wat ek pleeg nie. En was nog nooit daarvan beskuldig nie. Om te waarheid te sê, ek vind my gereeld omring deur sterk vroue in magsposisies en leer veel van hulle. Ek was nog net eenkeer in ‘n situasie waar ek van ‘n projek verwyder is en dit slegs op grond van my geslag was. Nie ‘n lekker gevoel nie en dit het my frustreerd gelaat. Maar, daar is ‘n gekompliseerde geskiedenis wat agter die rolspelers lê en ek maak vrede daarmee dat ek dit heel moontlik nooit ten volle sal verstaan nie.

Die moderne Afrikanerman is uiters uiteenlopend. Dit voel vir my soos ‘n evolusie wat nog aan die gang is. In my opinie is die doelwit van die toekomstige Afrikanerman meer belangrik. Dit behoort ons daaglikse doelwit te wees om te streef na bou eerder as breek, integriteit eerder as opportunisme en leierskap eerder as lafaardigheid.

PW van der Walt (37), Kemptonpark. Tegniese hoof en produksiebestuurder by Die Waarheid Radio. Getroud met ‘n seuntjie Aiden (6).

Ek glo die geslagsgelykheidstryd is op koers. Ek glo ook gelyke regte vir vroue is ‘n uitstekende strewe, want vrouens het regtig baie om tot enige tafel te bring. Hulle kyk maar net met ‘n ander, vars oog na dinge.

Ek glo nie ek is skuldig aan diskriminasie teen vroue nie. Ek het baie respek vir vroue en gun ‘n vrou om vorentoe toe te beweeg. Ek het ook gelukkig nog nie teenoorgestelde diskriminasie van vroue teen my ervaar nie, maar ek is seker as dit wel gebeur, sal dit nie lekker wees nie.

Ek persoonlik dink die moderne Afrikanerman lyk, klink en is soos enige ander man van enige ander eeu. Die omgewing en uitdagings mag dalk verander het en daag of dwing die man van die 21ste eeu uit om anders te dink en doen. Tegnologie verander gedurig, alles het vinniger geword. Die millenniumman het baie sterk fondasies in sy geloof, asook sterk waardes en is reg om nog groter dinge te bereik.

Leave a Reply