Skip to main content

Elri Boucher

Bekendes gesels oor hulle produksies by dié jaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat jy nie gaan wil misloop nie!

In die Klein Karoo op die dorpie van Oudtshoorn in die Wes-Kaap kom plaaslike sowel as internasionale feesgangers na die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) om verskeie produksies, vertonings, stalletjies en nog vele meer te bekyk en te beleef. Die 2023 KKNK program dié jaar wat vanaf 1-9 April gaan loop is stampvol en met die legendariese vermaaklikheidster Nataniël wat die fees gaan sluit met sy produksie Passi / Passio / Pasión / Passion weet ons dinge gaan op ’n hoogtepunt eindig, maar waar om dinge te begin? Met soveel toneel-en musiekproduksies, kinder-en dansteater, visuele kuns-en storievertellings asook Klein Karoo ervarings kan dit moeilik wees om te kies wat jy van deel wil wees, dus het ons by drie bekendes gaan aanklop om hulp.

Oudtshoorn is bekend vir sy verskeie wynroetes en vele volstruisplase in die gebied wat ’n verwysing is na die sêding ‘groot voëls’, dus het ons gedink dit is van pas om met ‘groot voëls’ in die vermaakindustrie wat by vanjaar se KKNK fees betrokke is, te gaan aanklop.

Die gesogte akteur Deon Lotz verskyn nie net in een nie maar in twee toneelproduksies by die fees en sê dis lekker lag-geleenthede wat feesgangers nie wil misloop nie. “In Geen Teks speel ek teenoor akteur Geon Nel waar ons die rolle van twee toneelspelers Tiaan en Egbert vertolk wat moet begin werk aan ’n nuwe toneelstuk, maar op die eerste dag van repetisies word hulle ingelig die teksskrywer het onttrek,” vertel Deon. “Steeds gedetermineerd om die toneelstuk deur te voer besluit die twee knape hulle gaan nou die teks skryf wat lei na chaos, improvisasie en skreeusnaakse gevolge.”

In Klinkklaar verskyn Deon saam met die formidabele aktrises Susan Beyers en Marinda Engelbrecht waar hy die rol van Cameron speel. Cameron is die regisseur van ’n nuwe TV-reeks waar die TV-sjefs Wilma (Marinda) en Jasmyn (Susan) wat nie ooghare vir mekaar het nie gaan verskyn. “Cameron gaan vinnig in die spervuur beland wanneer hierdie twee divas se verdraagsaamheid vir mekaar begin opdroog,” sê Deon, en Marinda eggo wat Deon sê. “Daar is ’n toneel wanneer Cameron flou word en dan word my karakter genoop om die man wakker te klap. Tydens repetisies lag ons onsself pap elke keer wanneer ek arme ou Deon moet klap, ek hoop net ek kan my pose hou wanneer ons die produksie voor die gehoor gaan optree want dan kan ons nie lag nie,” sê Marinda.

Ander toneelproduksies wat ook ons oog gevang het sluit in: Mirakel met Dawid Minnaar en Brümilda van Rensburg, Mirre en aalwyn met Amalia Uys, en Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell met Sandra Prinsloo. Vir meer inligting besoek die KKNK webtuiste: https://kknk.co.za/en/

Drie van die bestes Krediet: KKNK

Op die musiekfront is daar puik produksies van Amanda Strydom met Amber/Ombré, Amok (’n twee dae musiekfees), Daarin skryf ek, met Anna Davel en Jaconell Mouton, Boeremusiek, Roccostyl met die meester pianis Rocco de Villiers en Brel en Piaf – ’n Kabaret met André Schwartz en Amanda Strydom om ’n paar te noem. Maar die een vertoning waarin ons baie belangstel is Drie van die bestes met sangers Danie Niehaus, Mathys Roets en Germandt Geldenhuys.

Germandt, wie kykers goed ken vir sy sepierol as Louis in die Afrikaanse sepie Binnelanders (weeksdae op kykNET om 19:30) het verlede jaar deel geword van die trio toe die stigterslid en tenoor Kevin Leo na Panama verhuis het. “Ek ken vir Danie al sedert 2019 waar ons mekaar by ’n liefdadigheidsgeleentheid vir die Pioneerskool vir gesiggestremdes ontmoet het. Sedertdien het ons ’n goeie vriendskap gevorm en verskeie shows saam opgevoer tot ek verlede jaar die oproep kry om deel te word van die groep,” sê Germandt. “Ek spot altyd en sê ek is die nie-amptelike, amptelike lid van Drie van die bestes en is net te dankbaar om die verhoog te deel saam met die legendes soos Danie en Mathys.”

Tydens die KKNK se enkelproduksie van Drie van die bestes, kan die gehoor uitsien na ’n nuwe repertoire klanke en vars harmonieë. “Dis ’n elegante vertoning met goeie musiek wat die gehoor gaan bekoor en tydens die aand lag en gesels ek, Danie en Mathys ook lekker saam tussen die liedere wat ’n gemaklike atmosfeer skep,” sê Germandt.

Deon, Marinda en Germandt sê hulle sal ook graag soos die feesgangers die fees in al sy glorie wil geniet en selfs ’n produksie of twee wil gaan kyk of ’n stalletjie wil besoek as hulle genoeg tyd het tussen hulle eie vertonings. “Ek het al klaar my kaartjie bespreek vir my goeie vriend Wynand Kotze se fopdosser stand-up vertoning Tollie Parton (3 en 4 April om 20:00 by die Banketsaal); dit gaan ek vir seker nie misloop nie,” sê Marinda.

Dit klink na groot pret en met soveel wonderlike produksies op die KKNK-spyskaart die jaar is daar geen twyfel dat dit suksesvol gaan wees nie. So waarvoor wag jy? Gaan bespreek nou vir jou gunsteling produksies voor die kaartjies opraak!

*Geen teks, 2 April om 18:30, 3 April om 13:30 en 4 April om 17:30 by die Griesselsaal

*Klinkklaar, 3 April om 19:30, 4 April om 09:30 en 5 April om 13:30 by die Hoërskoolsaal

*Drie van die bestes, 8 April om 16:00 by die ABSA Burgersentrum

 

Leave a Reply