Foto: Fabien Galthié, afrigter van Frankryk, meen sy span is die een om te klop wanneer die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar in sy tuisland beslis word. Foto: Twitter / @FranceRugby
Kobie Cilliers
RUGBY
Sjoe, wees gewaarsku, alle moontlike aanspraakmakers op rugby se Wêreldbeker-titel wat later vanjaar in Frankryk beslis word, want daar is ‘n paar Europese spanne wat reeds verwag om vir die eerste keer die Webb Ellis-trofeë omhoog te hou!
“Bring die Wêreldbeker-toernooi,” sê Johnny Sexton, Ierland se kaptein, nadat sy span Saterdag die Sesnasies-Grand Slam vermag het.
Frankryk “is die span om te klop” in vanjaar se rugbyskouspel wat hy van 8 September tot 28 Oktober op tuisbodem aanbied, sê Fabien Galthié, die afrigter van Les Blues. Dié voormalige Franse kaptein was vol bravade nadat sy span Saterdag met 41-28 teen Wallis geseëvier het om die tweede plek agter Ierland op die Sesnasies-puntelys te beklink.
Goed, die wêreld se voorste twee spanne (Ierland 1ste en Frankryk 2de) het die afgelope twee maande in Europa se mees gesogte rugby-toernooi die septer geswaai, maar is hul windmakery nie dalk effe voortydig nie?
Aldus Sexton (wat Saterdag sy 60ste en laaste wedstryd in dié reeks gespeel het): “Ek het in die kleedkamer gesê dat hierdie nie die einde is nie, daar is nog baie oor in hierdie span. Bring die Wêreldbeker-toernooi, dit is waarop ons na dese moet fokus.”
Ierland het destyds ook verwagtinge geskep in die aanloop tot die Wêreldbeker-toernooi in 2015 en 2019 met soortgelyke sukses in die Sesnasies-reeks, maar die span se veldtogte was in albei gevalle teleurstellend. Die Iere is steeds die enigste top-rugbyland wat nog nooit verby die kwarteindronde kon vorder nie.
“Ek hoop spanne is na dese bang vir ons,” het die Franse afrigter, Galthié, gesê nadat sy span teen Wallis geseëvier het.
“Ons is beslis die span om in die Wêreldbeker-toernooi te klop. Ons wenrekord is indrukwekkend. Ons het die afgelope twee jaar nog net een keer op tuisbodem verloor, teen Skotland.”
Galthié het slegs drie nederlae in die Sesnasies-reeks gely sedert hy Jacques Brunel ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi in 2019 vervang het.
“Vier oorwinnings in vyf wedstryde beteken ons wenpersentasie is 80% in vanjaar se Sesnasies, dit is baie positief indien jy ’n feitlike oorsig van ons vertonings doen.”
Gaaf. Kom ons wag en kyk wat die Bokke – en die All Blacks en die Wallabies en die Argentyne en dies meer – oor die Iere en Franse se aanslag op die Wêreldbeker-titel te sê het wanneer die toernooi oor ses maande afskop.
* Die Bulls is tans ‘n skadu van die span wat verlede seisoen die “Crusaders van Europese rugby”, Leinster van Ierland, teen alle verwagtinge in, in Dublin in die halfeindronde van die United Rugby Championship (URC) geklop het.
Die trots van Pretoria het Vrydagaand op sy tuisveld op Loftus Versfeld waarskynlik sy beste moontlike 23-tal in ‘n Curriebeker-kragmeting teen die Westelike Provinsie ingespan – en met 33-41 verloor.
Die driemalige Superrugby-kampioen is die week vantevore met 63-15 deur die verdedigende Curriebeker-kampioen, die Pumas, verneder.
Jake White, die Bulls se direkteur van rugby, se erkenning Vrydagaand teenoor die media was: “My span, my skuld.”
Die Pretorianers het nie net albei hul eerste Curriebeker-wedstryde van die seisoen verloor nie, maar nou in hul laaste ses wedstryde in alle kompetisies gefaal.
Die Ligbloues se nederlaag teen hul oudste en grootste vyand het hul punteverskil op die Curriebeker-puntelys tot -56 laat sak, nadat hulle verlede naweek met 63-15 deur die kampioen, die Pumas, verneder is.
White het ná Vrydagaand se kragmeting saam met Edgar Marutlulle, die Bulls se Curriebeker-afrigter, by die media-konferensie opgedaag. “As direkteur van rugby het ek vandeesweek beheer geneem oor die groep, met die oog daarop om dit as voorbereiding vir volgende week se URC-kragmeting met Ulster te gebruik,” het White gesê.
“Dit sou onregverdig wees om Edgar al die blaam te laat dra vir dié negatiewe uitslag. Ons probeer nie verskonings maak nie, maar ek probeer bepaal waar ons onsself bevind as ’n groep. As ’n unie het ons sake oorheers op junior en senior vlak die afgelope drie seisoene.
“En, nou sit ek en wonder wat het verkeerd geloop? Die feit dat ek siek was in Desember kan nie as verskoning aangebied word nie, maar dit het my tot ’n mate verwyder van die groep. Dus het ek besluit om ’n paar ouens af te gee, want verlede seisoen was rof vir almal.
“Rugby is egter nooit ’n presiese wetenskap nie. Wanneer ’n span in ’n groef verval, is spelers geneig om in hul doppe te kruip. Dis beslis nie ’n posisie waarin jy jouself wil bevind nie.
“Dis die eerste keer dat ons as ’n groep onder druk is, en dis ’n soort druk wat ons nog nie voorheen ervaar het nie. Ons moet eenvoudig seker maak dat ons hierdeur kom.”
TENNIS
Die Meesters 1 000-toernooi in Indian Wells, Amerika staan bekend as die nie-amptelike “5de major van die jaar”. En die gehalte van tennis in die Kaliforniese woestyn die afgelope twee weke was uit die boonste rake.
Die topgekeurde Carlos Alcaraz het Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) die vyfde gekeurde Daniil Medvedev van Rusland in die eindstryd met 6-3, 6-2 afgeransel.
Die 19-jarige Spanjaard het met sy oorwinning teen die witwarm Medvedev, wat in sy vorige 19 wedstryde onoorwonne was, ook vir die eerste keer sedert Januarie na die boonste plek op die wêreldranglys terugkeer.
Alcaraz vervang Novak Djokovic wêreld nommer een nadat laasgenoemde se aansoek om van ’n koronavirus-inenting kwytgeskeld te word om Amerika binne te gaan, van die hand gewys is. Djokovic sal dus vandeesweek se Meesters 1000-toernooi in Miami ook misloop.
Alcaraz het in sy ses kragmetings in die toernooi nie ‘n enkele stel afgestaan nie. Dit sal aan hom bykomende selfvertroue gee wanneer hy sy titel in die Miami-Ope verdedig en poog om die sogenaamde “Sunshine Double” te vermag.
* Wat die vroue betref het Elena Rybakina Sondagaand (SA tyd) in haar eerste WTA 1000-eindstryd met 7-6(11) 6-4 teen Aryna Sabalenka geseëvier.
Die 23-jarige Wimbledon-kampioen het met die oorwinning wraak geneem teen Sabalenka, die speler wat haar in Januarie in die eindstryd van die Australiese Ope geklop het. Dit is die vierde WTA-enkelspel-titel van haar loopbaan en die eerste keer in vyf pogings wat sy teen Sabalenka wen.
Rybakina skuif na dese op na die sewende plek op die wêreldranglys.
MOTORSPORT
Max Verstappen en Sergio Pérez van Red Bull was Sondagaand, twee weke nadat hulle in Bahrein onderskeidelik die eerste en tweede plekke in die eerste Formule Een-wedren van die seisoen verower het, weer onstuitbaar.
Maar hierdie keer was Pérez op die Corniche-straatbaan in Jedda in Saoedi-Arabië se Grand Prix eerste, met Verstappen tweede.
Dit was die 33-jarige Mexikaan, wat eerste weggespring het, se vyfde F1-oorwinning en sy 28ste podiumplek.
Fernando Alonso (Aston Martin) het weer derde geëindig, maar is ná die prysuitdeling met ‘n verdere tien sekondes gestraf omdat hy nie sy oorspronlike straf van vyf sekondes korrek in die kuipe uitgevoer het nie. Dit het hom sy derde plek gekos en die beamptes het George Russell (Mercedes) tot die derde plek bevorder.
Dit sou Alonso se 100ste podiumplek wees en hy het hom so byna by Lewis Hamilton, Michael Schumacher, Sebastian Vettel, Alain Prost en Kimi Raikkönen aangesluit, wat dit ook vermag het.
Die volgende wedren in die F1-reeks is die Australiese Grand Prix wat op 2 April in Melbourne beslis word.