Rapport se Pieter Steyn is al weer besig om onwaarhede aan die voorheen gewilde Sondagkoerant se kwalik 63 000 lesers te verkoop.
In ‘n hernude media24-aanslag op die filantroop en diamanthandelaar Louis Liebenberg het Steyn gister te kenne gegee dat hy beplan het om ‘n berig oor ‘n klankgreep van ‘n gesprek tussen Liebenberg se skoonseun, Ernst van der Westhuizen en ander personeel, te publiseer.
Die aanslag teen Liebenberg duur al sedert 16 Oktober verlede jaar. In hierdie tyd het Media24 se publikasies altesame 141 negatiewe artikels oor die diamantmagnaat geskryf.
Steyn voer (verkeerdelik) aan Ernst het in die klankgreep:
1. Erken dat Liebenberg ‘n Ponzi-skema bedryf
2. Aangevoer dat die diamantpakkies wat ‘n kerndeel van Liebenberg se sakemodel uitmaak, nie bestaan nie.
Daar is egter geen sprake van sulke aantygings in die klankgreep nie.
Ernst sê trouens duidelik dat hy baie gemaklik is met die manier waarop Liebenberg sake doen. “Ek, Ernst, sou nie hierby betrokke geraak het as ek nie ‘n woord van God gehad het nie. Toe ek sien wat Louis doen, toe verstaan ek dit heeltemal.”
Enige intelligente persoon, asook Steyn, kan duidelik hoor Ernst verduidelik dat ‘n Ponzi-skema nie ‘n produk het nie, maar dat Liebenberg se bedrywighede om kontant- en gedokumenteerde diamanttransaksies – hetsy pakkies of gemynde diamante – wentel. Hy het genoem dat kontanttransaksies – “diamante is kontant” – vir hom as rekeningkundige ‘n nagmerrie is omdat diamantkopers nie altyd deeglik rekord hou van transaksies nie.
“Die pakkiestelsel het ‘n lewensduur. ‘n Myn is permanent,” het hy gesê as deel van sy verduideliking dat hy voorsien Liebenberg se maatskappye sal hulle in die vervolg grootliks op diamantmyne toespits – iets wat sy lewe as rekeningkundige baie makliker sal maak.
Liebenberg het gisteraand gesê hy vermoed die klankgreep kom uit ‘n debat wat op kantoor tussen twee helftes van die personeel gehou is. Ernst se opdrag was om duiwelsadvokaat te speel.
“Luister ek en jy na dieselfde opname? Waar kry jy wat jy nou hier skryf?” het Liebenberg aan Steyn gevra toe hy om kommentaar gevra is.
Hy het ook aangebied om Steyn persoonlik na sy myne toe te neem om aan hom te wys dat sy bedrywighede wel bestaan. Steyn het nie op die uitnodiging gereageer nie.
• Steyn was aan die spits van ‘n reeks Rapport-artikels wat deur halwe waarhede en versinsel gekenmerk is. Die Waarheid het hom gisteraand gevra of hierdie berig ‘n voortsetting van sy geskiedenis van foutiewe feite is. Hy wou weet wat hy al ooit geskryf het wat vals is. Die Waarheid het ‘n lys feitefoute uitgewys, insluitend dat Liebenberg se prokureur, Walter Niedinger, nie geregistreer is nie en dat Dirk Lotriet, redakteur van Waarheid, “lekker geld gemaak het uit pakkies”. Hy het verkies om nie hierop te reageer nie.