Sonnette Lombaard
Die Pretoriase Moot is breëbors Bloubulland en trotse Afrikanerkontrei waar jy nie skoor soek met saamgeflansde bogstories nie. Media24 kan gaan slaap want hier leef wakker volksgenote en word ‘n Afrikanerreus soos Louis Liebenberg en sy hart en harde werk vir sy volk en vaderland raakgesien en na behore waardeer!
“Ek vertrou Louis met my hele lewe,” val Dirk Reynecke met die deur in die huis. Van huisstandvastigheid wis hy immer self. Lief vir sy moedertaal en volk, hou dié oudonnie en sakeman van tradisies. Hy woon sy hele lewe lank in dieselfde huis in die Moot waar hy ook skoolgegaan én skoolgegee het. Dirk (57) het sy grootwordhuis by sy ouers oorgekoop.
Die eens woelige sakeman wat ‘n vroeë pensioen kan geniet ondermeer oor sy beleggings in Louis en sy besighede, sing uitgesproke voor in die Louis-koor. Een van Forever Diamonds and Gold se top JV-vennote, wis hy waarvan hy praat. Hy het reg van die begin Louis en sy besighede se potensiaal reggeskat en was een van die eerste vennote. En maak nie saak wat wie sê of skryf nie, hy koop steeds fluks pakkies én gaan nêrens heen nie. Boonop moedig hy graag mense wyd en syd aan om ook Louis en sy sakevisie en toekomsplan te ondersteun.
In sy dekade in die onderwys het Dirk vele kollegas in die pakkie-stelsel laat inkoop. En elke keer met uitbetalings wanneer hulle geld aansienlik vermeerder het, was gelukkige tye, sê Dirk.
Hy het daarna ‘n draai in die motorbedryf gemaak, ook as CEO. Dirk is getroud met nog ‘n oud-onnie Lannea. Hy was wewenaar nadat sy eerste vrou aan borskanker dood is, toe twee van hulle kinders hom en Lannea aan mekaar voorgestel het.
Saam met haar drie kinders en sy twee dogters is hulle nou een moderne gesin wat hulle tweede kans op geluk volskoot aangryp, vertel Dirk. Hy en Lannea het voor die pandemie vir drie jaar in Kunshan in China gaan skoolhou.
Dis die aard van die mens se bestaan dat ons soms uitgedaag word, maar jy hol nie weg wanneer tye taf raak nie. Wees rustig, dit sal weer beter gaan, is Dirk se raad aan vennote wie se vetroue wankel.
“Louis is dan self vuurvas en sy lewensverhaal getuig daarvan. By hom leer ons juis hoe om in stormwinde vas te bly staan. Ek het respek daarvoor.”
Boonop is die Afrikanervolk tans leierloos en is Louis se uitkomsplan aan sy volk tydig, benadruk Dirk. Dat hy die Boerevolk daadwerklik help en ondersteun, raak die Pretorianer se patriotiese hart.
Dirk is uitgesproke oor sy bewondering vir Louis. “Hy het visie en dink en doen met passie. Dit inspireer veral in die huidige negatiewe klimaat in ons land.”
As ‘n Louis-ondersteuner met mag en mening, hoop hy en Lannea om Louis en sy vrou Dezzi so gou dit kan in lewende lywe te ontmoet om kopstukke te gesels en persoonlik dankie te kan sê. “Louis Liebenberg is lankal op my bucket list.”