Maandag se bedenklike klopjag deur die likwidateurs nadat die voorlopige likwidasiebevel in die hooggeregshof in Mahikeng teen Tariomix toegestaan is, beteken nog lank nie dat Louis Liebenberg ‘n uitklophou gekry het nie. Die geveg begin nou eers.
“Die hofstukke om die voorlopige likwidasiebevel, wat in die afwesigheid van Tariomix toegestaan is, is nou feitlik klaar. Die aksies van die voorlopige likwidateurs, soos hulle nou fluks tekere gaan, is deel van die hofstukke om te wys wat die destruktiewe gevolge is van so ‘n bevel,” sê Walter Niedinger, Liebenberg se prokureur.
Niedinger glo nie hulle sal hierdie week reeds in die hof wees nie. “Ons sit met Maandag se chaos en Dinsdag wat ‘n vakansiedag is. Dit lyk of ons Woensdag in die hof gaan wees om hierdie ding uit te baklei. Tariomix sal dan sy kant van die saak stel en dit is mos wat nog gekort het in enige regverdige bestel. Mens moet twee kante hoor voordat jy geregtigheid kan laat geskied.
“Ons wil graag vir die opponent die geleentheid gee om onder eed te antwoord op al hierdie dramas wat hulle veroorsaak het, want ‘n eedsverklaring is bietjie moeiliker as om net op sosiale media te praat. Dalk het hulle vir ons antwoorde hoekom hulle dit so gedoen het en wou doen,” sê hy.
Hy sê indien dit blyk dat die oorspronklike aansoek kwaadwillig gebring is, sal die partye wat dit gebring het pa moet staan vir enige skade wat hulle kon voorsien wat Tariomix of enige persoon gely het. Die optrede van die likwidateurs gaan dan onder ‘n vergrootglas geplaas word en hulle is aanspreeklik vir enige oorskryding van magte.
“Daar is drie likwidateurs. Daar was Maandag net een op die toneel, maar al drie is aanspreeklik. Dit gaan oor die besigheid se verliese, maar sluit in skade aan derde partye, soos privaatheidskending. Die likwidateurs het daar ingevaar sonder konsultasie met direkteure en sonder om uit te vind hoe die besigheid werk. Om alles net te wil vat en skade te maak is in niemand se belang nie,” sê hy.
Liebenberg sê: “Ons praat van intimidasie deur ‘n sisteem wat gebroke is.
“Ek gaan die konstitusionele hof nader om die insolvensiewet van 1936 te verander. Ons werk met ‘n dinosaurus wat gewetenlose likwidateurs die vermoë gee om my huis te betree en van die werkers wat basies net broeke stryk en vloere vee se fone te neem. Iets in mens se wese sê vir jou dis nie reg dat iemand wat duidelik vir ‘n ander maatskappy werk deursoek en selfs betas kan word deur die polisie op die perseel nie. Daar is soveel menseregte wat geskend word aan die hand van ‘n stuk 1936 wetgewing.
“Is ons werklik in ‘n vyfdewêreldland waar ons so lukraak met die reg handel dat dit 44 000 mense se lewens benadeel?
“Die likwidateurs het selfs vir Walter gesê het hy moet afstaan as die prokureur van Tariomix. Ek glo ons gaan teen Woensdag, Donderdag in die hof wees en ek glo geregtigheid gaan seevier.”
Niedinger sê hy hanteer ‘n saak soos hy hom sien en hoe hy die reg verstaan. “As hulle daardeur bedreig word, sê dit iets,” meen hy.
Liebenberg sê sy regpan bestaan uit twee advokate en drie prokureurs. “Mense onderskat vir Walter Niedinger. Hy het nie net 29 jaar ervaring nie, maar het 12 jaar ervaring met een van die moeilikste kliënte wat jy kan kry. Ek salueer my prokureur.
“Ons moet onthou hier is geweldig baie maatskappye betrokke en dat Tariomix eintlik maar ‘n voertuig was om geld van een party na ‘n ander te vervoer. Daar is 23 mynpermitte in die groep. Hulle hou daarvan om te sê ‘Forever Diamonds and Gold’. Hierdie is aparte entiteite. Aparte direkteure. Aparte bates. Hierdie mense gooi nou ‘n laken oor alles sonder dat die reg daaroor besluit het en ek dink dis waar die likwidateurs, soos die boere sê, hulle gatte hard gaan stamp.”