Maandag die 20ste Maart beoog die EFF om oor ‘n aantal van hul griewe te protesteer en gebiede tot stilstand te bring.
Lede van die GPF, die Privaat Sekuriteitsektor en SAPD vind reeds verlate hope trok- en karbande by sleutelpunte, soos kruisings wat omring is deur bome. Hierdie bande is verwyder aangesien daar vermoed word dat dit in die Maandag-betogings gebruik kan word om die paaie te versper wanneer die bande deur betogers aan die brand gesteek word.
Bande word reeds nou al op strategiese plekke geberg aangesien dit moeilik kan wees om bande na gebiede te vervoer deur stakers wat paaie só wil versper as deel van hul protes.
Die Blue Hawk Taktiese Eenheid vra dat inwoners op die uitkyk moet wees vir enige goed wat oral gestort word met die doel om paaie op die 20ste te versper. Hulle vra dat, as jy so iets sien, jy dit onmiddelik by jou plaaslike GPF of Sekuriteitsgroepe moet rapporteer met ‘n GPS-ligging en prentjie van die betrokke bande, sodat dit dadelik verwyder kan word.
“Kom ons wees proaktief en waaksaam om kriminele aktiwiteite te stop,” vra hulle.