Skip to main content

Die stil en vreedsame plaasdorp van Stella in die Noordwes herbesin steeds oor die grusame gebeure wat sowat vyf jaar terug hulle gemeenskap kom ruk het, net soos wat die moordkultus in Krugersdorp tot vandag vir inwoners daar nagmerries gee.

Op 17 Maart gaan Showmax en die vervaardigers van die immergewilde en onstellende ware misdaad-reeks, Devilsdorp, weer die kollig op die veelbesproke Stella-moorde plaas.

Die dokumentêr, Stella Murders, gaan die verhaal volg van die twee beste vriendinne, Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16), wie se lyke by Stella Hoërskool se koshuis gevind is.

Op 26 Mei 2018 is Sharnelle by die trappe gevind waar sy gehang het en Marna is in die badkamer gevind. Dit het eers soos selfdood gelyk.

Dit het later uitgekom dat 20 jarige Xander Bylma die twee boesemvriendinne vermoor het. Hy is in Februarie 2020 skuldig bevind aan die moorde.

“Stella Murders is ’n hartverskeurende verhaal,” sê Yolisa Phahle, uitvoerende hoof van Showmax.

“Dit handel oor elke ouer se grootste nagmerrie en die vervaardiging van die reeks is gedoen in samewerking met Sharnelle en Marna se families. Hulle hoop dat hulle verhaal soortgelyke tragedies sal voorkom.”

Die 90 minute dokumentêr sluit onderhoude in deur Sharnelle se ouers, Ronnie en Sonja Hough, Marna se ouers, Stefaans en Rianet, asook die ondersoekbeamptes in die saak.

“In so ’n klein en intieme dorpie verwag mens dat gevaar van buite sal kom,” sê die kliniese sielkundige, Elmarie Classens.

“Jy verwag egter nie dat die gevaar van binne gaan kom nie.”

Volgens die vervaardigers van die dokumentêr is die dorpenaars steeds besig om tot verhaal te kom.

“Dit was vir ons belangrik om tydens die vervaardiging van Stella Murders te probeer verstaan waardeur die gemeenskap en die inwoners gaan en hoe hulle hierdie trauma verwerk,” sê David Enright, regisseur.

“Die impak van hierdie gebeure het groot letsels gelaat en die kollig was met hierdie moorde weer op geslagsgeweld geplaas. Hopelik kan hierdie dokumentêr nie net die gevaartekens uitlig nie, maar kan dit ook deel word van die landswye debat oor die skandelike vlakke van geweld teen vroue in Suid-Afrika.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!