Skip to main content

Sonnette Lombaard

Een van die mees ikoniese en geliefste, dog vreemdsoortige geboue op Moeder Aarde is te koop en enigeen kan bie. Dié bittersoetsage wat ‘n eietydse sprokie kan baar, ontvou tans naby die finansiële distrik Wall Street terwyl die Amerikaanse bankrisis verwoed uitkring. Die driehoekige Flatiron-gebou in Manhattan, wat al langer as 120 jaar New York woordeloos simboliseer, word binnekort opgeveil!

Dit volg nadat die statige argitektoniese meestertuk sedert 2019 leeg staan omdat die handvol eienaars nie onderling kon ooreeenkom hoe om dié beeldskone landmerk te benut nie. Raar maar waar. Gewone Yanks meen tereg dis ‘n skreiende skande én terselfdertyd tekenend van heersende tye waarin die moderne mens se ego gierig bult en vermorsing aan die orde van die dag is.

Geleë op die hoek van 23ste straat en die beroemde Fifth Avenue in New York, is die Fuller-gebou met sy 22 verdiepings, wat bykans 87m hoog is, in 1902 voltooi. Die argitekte Daniel Burnham en Frederick Dinkelberg staan pa vir dié hoofkwartier van die Fuller Konstruksiemaatskkapy se ongewone driehoekige staalraamwerkgebou. Dit het die wolkekrabberontploffing in die Groot Appel eiesoortig ingelui en was gou die groeiende wêreldstad se bekendste landmerk.

Die aweregse gebou het bykans onmiddellik die bynaam Flatiron Building gekry weens die driehoekvorm wat aan ‘n plat strykyster herinner. Wat ewe gou tot onvoorspelbare opslagwinde romdom die gebou sou lei wanneer omstaanders woes moes koes. Interessant, was daar oorspronklik geen toilette vir vroue in die gebou nie, maar dis later “reggestel”. Opinies oor die Flatiron se vreemde voorkoms het aanvanklik gewissel van A stingy piece of pie tot The greatest inanimate troublemaker in New York. Nogtans was die Flatiron lank die mees gefotografeerde struktuur in die stad, aldus die New York Times.

Die Flatiron het reeds in 1966 erfernisstatus gekry. Dit was ook bekend as die enigste kantoorspasie in die stad waar jy vanaf een punt die East- en Hudson-riviere én Central Park kon sien sonder om te beweeg. Omstrede of de not, New Yorkers het hul unieke gebou oor dekades liefgekry en jaloers gekoester. ‘n Reuse advertensieplakkaat wat 15 verdiepings van die Flatiron se fasade bedek het, is in 2005 ná hewige protesaksies van inwoners verwyder.

In 2021 het moeilikheid in die paradys weer opgevlam toe die eienaars stry gekry het. Die vier eiendomsontwikkelaars wat ‘n kollektiewe 75%-aandeel in die Flatiron-gebou het, het die vyfde eienaar, wat die oorblywende 25% besit, gedagvaar ná ‘n verhuringstwis. Dit het glo daartoe gelei dat die gebou leegstaan sedert die laaste huurder, Macmillian Publishers, in 2019 uitgetrek het. Die Hooggeregshof moes toe eindelik vandeesmaand ingryp nadat die groep ontwikkelaars ook nie kon ooreenkom oor restourasiewerk aan die Flatiron nie.

Daar is beslis dat die geskiedkundige gebou op Woensdag, 22 Maart op ‘n openbare veiling onder die hamer sal kom. Wat beteken enigeen kan bie, mits jy blitsig $40 000 in die hande kan kry siende dat dit as die openingsbod bepaal is.

Die vier meerderheidaandeelhouers sal na verwagting probeer om hul unieke betonskat te behou. Indien jy egter een van miljoene Aardlinge is wat al gedagdroom het om ‘n stukkie van die Groot Appel af te byt en selfs iets daar te kan besit, kan jy regskuif om eenmalig met die superrykes skouers te skuur en die groot Amerikaanse Droom te proe …

Leave a Reply