Skip to main content

Toiletpapier wêreldwyd bevat per- en polifluoroalkylstowwe (PFAS) en kan ‘n groot bron van waterbesoedeling wees, stel ‘n nuwe studie deur navorsers aan die Universiteit van Florida voor.

Volgens die studie, gepubliseer deur die Environmental Science & Technology Letters-joernaal, het die span rolle getoets van 21 groot toiletpapierhandelsmerke wat in die Amerikas, Afrika en Europa verkoop word, asook rioolmonsters van agt afvalwatersuiweringsaanlegte in Florida. Beide toiletpapier en rioolslyk het geblyk PFAS te bevat, met sogenaamde diPAP’s, spesifiek, 6:2 fluorotelomeer fosfaatdiester (6:2 diPAP), wat die volopste bestandeel was.

Op grond van die bevindinge, beskikbare data oor PFAS-vlakke in riool en per capita toiletpapiergebruik in ander lande, het die navorsers beraam dat toiletpapier kan bydra tot 89% van die 6:2 diPAP in afvalwater in Frankryk, sowel as tot 35% in Swede. Terselfdertyd is die higiëniese rolle verantwoordelik vir slegs sowat 4% van die inhoud in afvalwater in Kanada en die VSA, volgens die studie.

Die navorsers het die skerp teenstrydigheid erken en gesê dat “bykomende navorsing nodig is om te ondersoek of toiletpapier ‘n groter bydraer tot totale PFAS in Noord-Amerikaanse afvalwater kan wees en of die diPAP’s van toiletpapier kan transformeer deur die afvalwaterversameling en -behandelingstelsels.”

Handelsmerke wat herwinde papier gebruik het en dié wat nie-herwinde papier bevat het, blyk soortgelyke vlakke van PFAS in te hê. Die navorsers het opgemerk dat die chemikalieë nie noodwendig doelbewus deur toiletpapiervervaardigers gebruik word nie, maar moontlik met rou papier ingebring is of afkomstig is van masjinerie wat in die vervaardigingsproses gebruik is.

Die PFAS bestaan uit ‘n groep van sowat 14 000 mensgemaakte chemikalieë, wat tipies gebruik word om verskeie verbruikersgoedere hitte- en waterbestand te maak. Die verbindings staan algemeen bekend as “vir ewig chemikalieë,” aangesien hulle selde natuurlik afbreek.

Die PFAS-chemikalieë besoedel op die ou end grondwater en maak só hul pad terug na die voedselvoorraad. Die verbindings is gekoppel aan verskeie kankers, fetale skade, lewer- en niersiektes, sowel as ander ernstige gesondheidsafwykings. Die 6:2 diPAP kan byvoorbeeld gekoppel word aan verswakte testikulêre funksie by mans, volgens vroeëre studies.

Leave a Reply