Biokapitalisme is nuwe mensmynveld vol turksvye …
Hoe ver moet ons met geneterapie gaan om die ‘perfekte’ mens te skep? Dié vraagstuk weergalm wêreldwyd, want die mens is voor sy volgende uitdaging om langer en beter te leef. Met die snelle vooruitgang in die mediese wetenskap, maan kenners oor die wavrag morele en etiese kwessies wat daarmee saam afgelaai word. Japannese navorsers het pas vrugbaarheidselle uit ‘n manlike muis ontwikkel, wat die geslagspeelsveld dramaties kan karteer. Vandat biomedisyne ons samelewing betree het, ontketen dit een ná die ander mediese rewolusie wat by stamselle begin het. Nou wink ‘n nuwe, omstrede grens. Geneterapie se hoë hekkie sal alles onherroeplik omstamp, skryf Sonnette Lombaard.
Welkom by die volgende groot hoop in die mensbestaan want geneterapie is gerat om die leef-speelveld en onsself vir goed te transformeer. Asof dit nie reeds in die supervinnige 21ste eeu ‘n gespook is nie om by te bly met die landskap wat haas op elke terrein deurlopend omgedolwe word. Voor in die koor is vooruitgang in die mediese wetenskap wat lank nie meer suiwer medies is nie, maar in die biotech-era ook super ingenieursvaardighede vereis, veral in die heersende rewolusie wat geneterapie aanbring. Die dawerende sukses met mediese vooruitgang lei reeds daartoe dat die millenniummens al ouer raak soos kure vir ernstige skete gevind word, wyl die magtige moontlikhede met en winsgewendheid van geneterapie nie durf onderskat word nie.
Moderne, eietydse terapieë steek groot grense oor, ook in die geslagsveld. Mans en vroue skenk lankal vir mekaar, ouderdomloos, stamselle. En dit was juis die stamselrewolusie wat die diaspora van heropgeboude mense ingelui het waarin jy jouself gesond kan maak van gevreesde siektes soos kankers of ‘n geskikte skenker kry om dit te help doen.
Met geneterapie wat nou oorgeneem het en volstoom voorloop, verbreed die speelveld nogeens en is die moontlikhede boonop oneiendig. Maar wyl genemanipulasie hopelik sekelselanemie, spierdistrofie, kanker, diabetes en sommige vorme van oorerflike blindheid in die afsienbare tyd kan genees, is dit ‘n duur ingryp met dorings.
Die ingrypende manipulasie in die menslike samestelling of DNA hou geneterapie in die spervuur. Sekere kringe frons oor die morele en etiese kwessies daar rondom, wat van kenners tot gewone mense onrusting stem. Nogtans verwag kundiges, van genetici en openbare gesondheidsnavorsers tot bio-etici en filosowe, ‘n vlaag van geneterapie-klinieke oraloor in die volgende vyf jaar.
Daar sal siekteveroorsakende mutasies in pasiënte se weefsels en organe reggestel word. Navorsers ondersoek reeds hoe om verskeie wysigings gelyktydig te maak om selfs die brein te bereik om neurodegeneratiewe siektes te behandel. Die eerste genoomterapie vir behandeling van sekelselsiekte, ‘n bloedstollingsversteuring, sal waarskynlik vanjaar nog in die VSA, Europa en die VK goedgekeur word.
Terselfdertyd baan genetegnologie die omstrede weg vir terapieë om gesonde mense te “verbeter” deur hulle vinniger, slimmer, sterker of meer weerstandig teen siektes te maak. Kenners wys egter daarop dat geneverandering vir “verbeter” moeiliker is as vir “regstel” van foutiewe gene. As deel van peperduur reproduktiewe tegnologieë, maak geneterapie se moontlikhede om menslike eienskappe te verander en vermoëns te verbeter, opslae.
Stamselterapie het vanaf die vorige eeu die grondwerk vir die ongekende mediese vooruitgang gelê. Stamsel- en geneterapie werk afsonderlik en/of gesamentlik. Eersgenoemde behels die oordrag van selle gekoppel aan die betrokke liggaamfunksie, en met laasgenoemde word genetiese materiaal oorgedra vir opname van die geen in die toepaslike selle. Saam met weefselgemanipuleerde produkte is dit deel van die nuwerwetse veld van regeneratiewe medisyne waarmee organe, weefsels, selle, gene en metaboliese prosesse in die liggaam aangevul, herstel, vervang of regenereer word.
Laas maand het ‘n babameisie die eerste mens in die VK geword om lewensreddende geneterapie te kry vir die dodelike metakromatiese leukodistrofie (MLD). Haar stamselle is eers geoes om die foutiewe geen te verwyder voor die behandelde selle teruggeplaas is, wat haar genees het. Teen £2.8 miljoen – die duurste terapie tans in Europa – kan sy nou ‘n normale lewe lei. Wyl geneterapie dus helende hoop baar, het dit verreikende gevolge en kom teen ‘n hengse prys.
Die kragpotensiaal van genemanipulasie maak opslae binne en buite mediese kringe, wyl voorste lande soos Japan woeker met navorsing om met stamselle uit organe soos die vel en beenmurg babas te maak! Prof. Katsuhiko Hayashi van die Osaka Universiteit wat vrugbaarheidbehandelings navors, het juis pas eiers uit ‘n manlike muis ontwikkel. Dis gedoen deur die manlike XY chromosome in vroulike XX chromosome te verander met ‘n velsel van ‘n manlike muis wat eers in ‘n stamsel verander is. Die “Y” in die manlike XY-chromosome is uitgevee, die “X” gedupliseer en die twee “Xe” aanmekaar geheg. Met dié manipulasie kan ‘n stamsel geprogrammeer word om ‘n eier te word.
Sy prestasie kan gay en ander paartjies van dieselde geslag vorentoe help om hul eie kinders te hê. Volgens Hayashi, ‘n gerespekteerde kenner, is die navorsing nog in die beginfase en die ontwikkelde eiers laegraads en nie geskik vir veilige mensgebruik nie. “Maar as mense dit wil hê en die samelewing aanvaar dit, steun ek dit,” het hy betekenisvol bygevoeg.
Die pad na geneterapie loop deur stamselle wat reeds die laaste halfeeu suksesvol teen bloedsiektes ingespan word. As kragtige boublokke in ons liggame is stamselle pluripotent en alle organe word daaruit gevorm. Dit stel mense in staat om met stamseloorplantings hulself of mekaar onderling oor grense gesond te maak van ernstige en gevreesde siektes. Hoewel ‘n lewensbedreigende prosedure, is stamseloorplantings lank die voorkeurbehandeling teen bloedafwykings. Meer as een miljoen mense wêreldwyd is al met stamselle gered of die progressie van hul bloedkankers (soos leukemie, limfoom en veelvuldige miëloom) vertraag. Voor dit moes die omslagtiger en minder suksesvolle beenmurgoorplantings met beenmurgontrekkings red. Met stamseloorplantings word die beenmurg uit die stamselle in die bloed geoes, behandel en aan die pasiënt binne-aars soos ‘n bloedoortapping teruggegee. Hoë-dosis chemo vooraf, tydens en soms daarna is deel van dié oorplantingsproses.
Stamseloorplantings het Afrika in 1999 bereik en word sedertdien in ons land met groot sukses aan bloedkankerlyers van babas tot in die 70s gegee. Hoewel dit nie ‘n volledige kuur is nie, verleng dit lewens aansienlik. Jy kan meer as een keer so oorplanting kry en ook vir jouself stamselle skenk, mits jy gesond genoeg is. Andersins, word ‘n geskikte skenker met dieselfde weefselgroep gesoek op die Internasionale Beenmurgregister waarvan Suid-Afrika deel is. In ‘n militêr-beplande operasie gaan haal opgeleide koeriers skenkerselle oor grense om lewens te red.
Die reuse-sukses met stamselle het die deur na CAR T-selterapie oopgebeur. Deel van immunoterapie, span dit die pasiënt se eie immuunstelsel in teen siektes deur dit te verander. Die T-selle word geoes en in die laboratorium met hulp van virusse geprogrammeer om slegs kankerselle te teiken en te verwoes voordat dit aan die pasiënt teruggegee word. In 2012 was die sesjarige Amerikaner Emily Whitehead in Philadelphia op sterwe ná mislukte stamseloortappings vir akute limfoom (ALL). Sy was die eerste mens om CAR T-selbehandeling te kry. Nadat sy eers by die dood omgedraai het, was dit suksesvol en is sy heeltemal genees. Sy is steeds kankerskoon en vier aanstons haar 18de verjaarsdag.
Sedertdien word die CAR T-selterapie oral suksesvol teen bloedkankers ingespan, en sal hopelik ook lyers van brein- en ander kankers binnekort baat. Nou is die volgende rewolusionêre omdolwing van die leefspeelveld voor die deur van geneterapie. Dit sal na verwagting voor die einde van die dekade behandeling van bloedafwykings, asook toestande wat die hart, oë en spiere affekteer, en selfs neurodegeneratiewe siektes na die volgende vlak neem.
Maar die mense wat die meeste daarby kan baat, sal nie toegang daartoe hê nie, maan kenners. Leierkundiges waarsku ook dat die volgende generasie van gevorderde genetiese terapieë se diepgaande mediese en etiese kwessies eers uit die weg geruim moet word om te verseker dit bevoordeel pasiënte én die samelewing.
“Ons sal beslis binnekort genomiese terapieë sien vir hartsiektes, neurodegeneratiewe siektes, oogtoestande ens. maar diegene wat die meeste kan baat, sal uitgesluit wees,” het prof. Jennifer Doudna, wenner van die 2020 Nobelprys vir chemie vir haar geneterapie-navorsing, aan die Britse koerant The Guardian bevestig.
Prof. Françoise Baylis, ‘n Kanadese filosoof, het beaam die nuwe terapieë se buitensporige koste is te hoog vir ‘n groot deel van die wêreldbevolking, wat die gelykheidstrewe bedreig. Nogtans sal diegene wat daarvoor in private klinieke kan betaal, moeilik gekeer word. Baylis glo geneverbetering is onafwendbaar omdat meeste van ons “kras kapitaliste is, oorgretig om biokapitalisme te omhels”.