SONJA BROWN
‘n Gesin wat in Kitzingerlaan in Anzac, Brakpan woon is nou al vier dae sonder elektrisiteit vanweë ‘n los draad aan die kragpaal net buite hulle huis.
Angelique Potgieter het aan Die Waarheid gesê hulle is nou net mooi gatvol vir die swak dienslewering in hul area. “Ons het al telkemale met mense by die munisipale kantore en die inbelsentrum – wanneer die foon beantwoord word – gepraat oor ‘n los konneksie net buite ons huis. Hoe moeilik kan dit wees om jou gat in ‘n voertuig te kry, op ‘n leer te klim en die los draad vas te maak?” vra sy woedend. “Sal hulle vir vier dae sonder krag wil leef? Ek glo nie! Elke keer is daar ‘n ander verskoning en ‘n belofte dat hulle iemand gaan uitstuur. My seun is ‘n elektrisiën maar hy mag nie aan die paal raak nie want hy werk nie vir Ekurhuleni nie.
“Alles in ons yskas en vrieskas is vrot en ons moet van dag tot dag leef. Mark, my man, was lank in die hospitaal nadat hy ‘n hele paar hartaanvalle gehad het. Ek kan nie eers vir hom iets warms maak om te drink nie, laat staan nog ‘n lekker warm bad tap.”
Die Waarheid het self probeer kontak maak met die elektrisiteitsafdeling by Ekurhuleni, maar sonder sukses. Ons het ook die kiesafdelingshoof van die DA wat Springs, Brakpan en Nigel beheer geskakel. Ashor Surapen se foon het net gelui totdat dit op ‘voicemail’ gaan. Stefanie Ueckermann, ook van die DA se foon het ook onbeantwoord gebly. Waarvoor het hierdie mense fone?
Die Waarheid het uiteindelik die inligting aan Refiloe Nt’sekhe, ‘n DA Ekurhuleni burgemeesteskandidaat in Kempton Park gestuur, om hierdie probleem te help oplos. Sy het belowe om die regte mense te kontak om hierdie probleem vandag nog uit te sorteer.