Skip to main content

Pasop! Werksgeleenthede vir jong mans is so skaars soos hoendertande, maar soms is dit nie die redding wat mens met die eerste oogopslag dink nie, waarsku ‘n ma van Pretoria.
Haar seun was verlede jaar al ‘n geruime tyd werkloos en moes geldjies met kelnerwerk verdien toe ‘n Facebook-advertensie van ‘n blindermaatskappy in Kameeldrift-Oos in Maart verlede jaar hulle aandag getrek het.
Die eienaar het gesê hy is op soek ‘n jong blanke mans om vir hom te werk. Haar twintig-jarige seun het hom gekontak, het vir die onderhoud gegaan en is aangestel.
“Aanvanklik was die eienaar baie aangenaam. Hy het selfs gehelp soek vir ‘n woonstelletjie in die omgewing vir my seun,” vertel sy.
Haar seun het sommer die week ná die aansoek begin werk. Hy het hard gewerk, en dit het goed gegaan, sê sy, maar wanneer betaaldag aangebreek het, was daar altyd verskonings. Hulle moes die 25ste van elke maand salaris kry, maar gewoonlik is ‘n deel van die salaris eers teen die tweede inbetaal – gewoonlik net die helfte van die salaris of selfs net genoeg om sy huur te betaal.
Haar seun sê dit het gereeld in die tien maande wat hy daar gewerk het, gebeur.
“Aanvanklik was hy baie opgewonde, want hy het baie geleer. Later het ek begin agterkom hy begin effe negatief raak, maar soos hy vir my gesê het: Hy het verantwoordelikhede en moes aangaan,” sê sy ma.
Die maatskappy sou op 16 Desember volgens kontrak gesluit het en weer die tweede week van die nuwe jaar begin. Toe sê die eienaar op die laaste nippertjie daar het ‘n groot kontrak ingekom, hulle moet langer werk. Daardie tyd het hulle soms tot nege-uur in die aand gewerk, maar die twee manne – haar seun en ‘n ander man – het hieroor stilgebly, want hulle het gehoop vir bietjie oortyd.
Die eienaar het ‘n uitval gehad met die een outjie wat daar gewerk het en die jong man het bedank. Die ma vertel hulle het tot die 20ste gewerk. Teen die 28ste het haar seun nog nie sy salaris gekry nie.
Toe sy hom kontak, het hy gesê dis ‘n “swart tydperk”. Hy het vir hulle gesê hy sal hulle nie dadelik kan betaal nie, hulle moet maar wag. “Ek het vir hom gesê werkers moet betyds betaal word, veral oor Kerstyd.
“Hy het die outjie wat bedank het die skuld gegee en gesê dit is as gevolg van sy negatiewe houding en dat hy die rede is dat ons nou moeilik raak oor die betaling. Ek het vir hom gesê dis twee goeie seuns, hy moet hulle nie beswadder nie en doen wat reg is. Eers in die tweede week in Januarie het hy een helfte van Desember se salaris betaal,” vertel die ontstoke ma.
Haar seun was nie gelukkig nie; toe hy die tweede week in Januarie terugkeer het hy vir die eienaar gesê dis al die tweede week in Januarie en hy is nog nie volledig vir Desember betaal nie. Die eienaar het toe gesê hy moet dan maar bedank en sy twee weke kennis werk. Die seun het hom gevra hoe verwag hy dat hy twee weke kennis moet werk as hy nog nie eers ten volle vir Desember betaal is nie. Die eienaar het toe aan hom gesê hy sal die geld wat uitstaande is in sy rekening inbetaal as hy sy werkklere en bedankingsbrief inhandig.
“Ek het later sy hemde en die bedankingsbrief gaan afgee op 7 Februarie net om die saak af te handel en aan te gaan. Die eienaar het my seun later per WhatsApp uitgetrap en in sy karakter ingeklim omdat hy die hemde ongewas teruggegee het.
“Hy het ook vir my seun gesê as hy die kennistyd gewerk het, was die res van sy salaris lankal betaal. Die besigheidseienaar wou nie my seun se verlofgeld uitbetaal nie omdat hy hom ‘daarmee gepenaliseer het omdat hy nie ‘n kennistydperk gewerk het nie’,” vertel die ma.
Sy vertel daar was die hele tyd verskonings en dreigemente van die eienaar se kant af. Haar seun het toe ‘n CCMA-saak aanhangig gemaak.
Drie dae voor die datum van die CCMA-vergadering aan die einde van Februarie, het hy die uitstaande bedrag oorbetaal.
By CCMA is die saak as ‘geskik’ aanvaar omdat die uitstaande geld reeds betaal is.
‘n Klein oorloggie het intussen op sosiale media uitgebreek. Die jong man se familielede is nie tevrede met hoe die eienaar jong mans behandel nie, en hoe die eienaar lelik in die jong man se karakter ingeklim het op sosiale media nie. Sy dreigemente is volgens hulle ongevraagd en sy beledigings onvanpas.
Nou adverteer hy ook weer op Facebook se groepe vir nuwe jong mans om die twee outjies wat bedank het, te vervang.
“Ek weet jong mense sukkel om werk te kry, maar ek dink dis noodsaaklik dat iemand wat hierdie werk oorweeg, my seun se ervaring in ag neem sodat hulle ‘n ingeligte besluit kan maak,” sê die ma.
Die eienaar sê hy beskou die saak as afgehandel. Die jong man het die begin van die jaar bedank en het “by die CCMA my probeer squeeze vir nog twee maande se geld,” sê hy.

Hulle het ‘n weermaggie van familie-ondersteuners – party met false profiele – bymekaargekry om die wêreld vir hom warm te maak en sy besigheid skade te berokken.
“Life goes on en ek stel voor hulle moet maar aanbeweeg!
“Die saak wat ter sprake was is afgehandel en gesluit, wat ook nou maar net bewys is dat ek binne die wet gehandel het.
“Hulle is net gedeeltelik betaal einde Desember. Sy balans is toe later wel ten volle betaal. Hy het nie kennistydperk gewerk nie … baie eenvoudig, as jy nie die kennistydperk werk nie, word jy net nie daarvoor betaal nie. Ek dwing niemand om hier te bly nie.”
Oor die ander jong man wat bedank het, sê hy: “Daar was geen meningsverskille nie, hy was blatant ongeskik en het slegte taal teenoor my gebruik en besluit hy wil loop.”
Die boodskap wat die ma wil oordra is dat hulle niks van die eienaar wil hê nie. Sy wil jong mense waarsku dat, al is hulle desperaat vir ‘n werk, ken jou regte. Laai die Wet op basiese diensvoorwaardes van die internet af. Gaan deur dit en moenie bang wees om jou werkgewer bewus te maak van onredelike optrede as hy buite die wet optree nie. Julle is ons toekoms.

Leave a Reply