George April
Paternoster is in rou gedompel nadat ‘n egpaar van die vakansiedorpie Maandagmiddag in ‘n wrede padongeluk gesterf het.
Saam met die egpaar het ‘n vriend van Malmesbury ook in die ongeluk omgekom. Johan Williams van Hopefield was saam met kollegas direk agter die slagoffers se motor toe die ongeluk plaasgevind het.
Volgens Williams het hulle net gesien ‘n sleepwa met drie beeste haak af van die voertuig wat dit sleep. “’n Bakkie het uit Paternoster se rigting gekom, met die oorledenes in die teenoorgestelde rigting. Die slagoffer se kar was op die punt om dit te mis. Die sleepwa het egter skielik geswaai en vol met die kar gebots. Dis toe dat een bees vol op die motor gaan val het.
“Blykbaar het die sleepwa se pen wat dit aan die bakkie hou, uitgeglip of afgebreek,” het Williams vertel. “Die mense wat in die kar was, het geen kans gehad om die ongeluk te oorleef nie. Die impak was oorweldigend en die insittendes is op slag dood,” het Williams afgesluit.
Niyaaz Niyaaz, ‘n baie goeie vriend van die oorledenes in Vredenburg, het vertel wat hy gesien het.
“Ons het op die ongeluk afgekom, omtrent so vyf minute nadat dit gebeur het. In daardie selfde tyd het ‘n ambulans ook op die toneel gestop. Dit was ‘n traumatiese ervaring omdat ons die slagoffers geken het. Om my vriende daar dood te sien lê, was nie iets wat ek gou sal vergeet nie.
“Die ongeluk het op ‘n reguit stuk pad net buite Paternoster plaasgevind. Die beeste het in die land gelê, met die slagoffers wat leweloos in die kar gelê het.”
Navrae na die polisie en ambulansdienste is nie beantwoord nie.