Isaac Cloete
Die polisie probeer hard om die moses te bly van onwettige sigarethandel in Suid-Afrika.
Vrydag was dit weer die geval toe die Springbok-polisie ‘n groot hoeveelheid onwettige sigarette gekonfiskeer het voordat dit op straat kon beland.
Die polisie was ondersteun deur ‘n multidissiplinêre span, bestaande uit die grenspolisie van die Noord-Kaap, Springbok openbare orde polisie, asook die K9- en die blitspatrolie-eenhede hier. Doeane-beamptes van SARS het die span gehelp.
Volgens Sersant Timothy Sam, polisiewoordvoerder, was ‘n buitelander (44) die keer in Springbok, vasgetrek weens die besit van vermoedelik onwettige Sahawi-sigarette.
Die polisie het vroeër op ‘n wenk van die publiek reageer dat ‘n besending onwettige sigarette vanaf Upington onderweg na Springbok was.
Hierna het hulle die besigheidsplek van die verdagte besoek tydens ‘n nakomingsinspeksie-operasie. Hier het hulle afgekom op 95 dose Sahawi-sigarette asook 35 dose sigarette met verskillende handelsmerke. Die waarde hiervan word bereken op ongeveer R1.6milj. Alles was gekonfiskeer.
Die eienaar was verder deur die ondersoekspan met ‘n nakomingsnota bedien vir die handel in onwettige sigarette. Hy het ook sewe dae kans gekry om dokumentêre bewyse voor lê dat hy wel die besending mag besit volgens wetgewing.
Intussen het verskeie rokers van die plaaslike gemeenskap gekla oor die vonds wat gebuit is. Van hulle het openlik gesê dat hulle Sahawi rook, veral tydens en na die Covid-19 pandemie. Hulle hoop en bid nou maar stilletjies dat alle dokumentasie in orde sal wees.
Die areabevelvoerder van die Namakwa-streek, brig Schalk Andrews, het die span geloof vir hulle knap en vinnige optrede.
“Langs hierdie weg bedank ek hierdie gesamentlike poging om onwettige aktiwiteite in ons streek hok te slaan. Ook waardeer ek die publiek, wat dit aangemeld het, se bydrae. Ek versoek hulle ernstig om voort te gaan om die polisie te help om gesamentlik sulke misdade hier te beveg.”