Skip to main content

Van Kathu tot Broadway?

Die veelsydige Augusta Zietsman se talente ken geen perke nie – sy speel toneel, sy sing en sy skryf. As een van sewe kinders, het haar onderwysers en ouers al vroeg geweet sy gaan iets spesiaals doen. Gerald Eloff het met Augusta gaan gesels oor haar droomrolle, die uitdagings wat die bedryf inhou, en haar raad aan ander kunstenaars om kop bo water te hou.

Jy het in ʼn vorige onderhoud genoem dat jy familie van die aktrise Tinarie van Wyk Loots is – dien sy ook in ʼn mate as inspirasie vir jou?

Sy is “soort van” familie van my! Sy is my half-boetie se niggie. Sy was, en is, definitief ʼn groot inspirasie; as dit nie vir haar was wat my aangemoedig het nie, sou ek definitief nie gaan drama studeer het nie, veral na matriek, nadat ek nie regtig geweet het wat om na skool te doen nie. Sy het my geleer om in myself te glo. Sy was nog altyd met ʼn bemoedigende gedig of boek wat ek moet lees vir my daar, van die begin van my loopbaan af.

Jy het redelik onlangs ʼn album uitgereik – hoe belangrik is veelsydigheid in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidslandskap?

Ek dit dis essensieel – nie net om soveel as moontlik werk te kan doen nie, maar ook om jou eie werk te kan skep. As jy nie jou eie werk kan skep nie, gaan jy die heeltyd moet wag vir ander geleenthede. Dis vir my belangrik om te voel ek speel een of ander kreatiewe rol in die dinge wat ek aanpak, hetsy dit musiek, toneelspel of skryf is.

Hoe moeilik is dit vir ʼn aktrise om vandag kop bo water te hou? Watter uitdagings is daar in die bedryf?

Man, ek dink solank jy aanhou probeer en nie met oudisies moed opgee nie. Baie keer voel mense hulle word verwerp as hulle nie ʼn rol kry nie. Ek glo die rolle wat vir jou bedoel is, sal oor jou pad kom. Net omdat jy nie ʼn rol kry nie, beteken dit nie dat jy nie goed genoeg is nie. Daar kan ʼn klomp redes wees, soos byvoorbeeld dat hulle iemand gesoek het wie se oë blou is! Dis maar soos dit is – as jy lank genoeg aanhou sal jy iewers uitkom.

Watter plaaslike akteurs en sangers het ʼn indruk op jou gemaak, en waarom?

Definitief Tinarie Van Wyk Loots en Cintaine Schutte as dit by toneelspel kom. Wat sing betref – Lucinda Greyling, Gert-Vlok Nel en natuurlik Jan Blohm. Met my nuwe album was Bittereinder ʼn groot inspirasie, dis iets waarna ek steeds gereeld luister. Dis voel vir my dis meer performance art, veral hulle live shows. Ek moet ook bieg dat ek van kleins af nog altyd ʼn fan van Nataniël se werk was.

Daar is verskeie musiekgenres in Afrikaans – hoekom het jy die popmusiek-roete gevolg?

Dit was nie ʼn besluit wat ek geneem het nie, ek het maar net musiek gemaak en toe het mense vir my gesê dis die genre waarin dit val! Ek weet ook nie of my musiek darem heeltemal popmusiek is nie, twee van die liedjies leun bietjie meer na die alternatiewe kant oor.

Is daar ’n spesifieke rol as akteur wat jy baie graag sal wil vertolk, plaaslik of internasionaal?

Ek sal met my hele hart Velma Kelly in die musiekblyspel Chicago wil speel – natuurlik op Broadway! Wat film betref – as daar ooit ʼn fliek op plaaslike bodem gemaak word oor die lewe oor Daisy de Melker, sal ek dit met beide hande aangryp.

Het jou grootwordjare in Kathu jou in ʼn mate die vaardighede gegee om te doen wat jy vandag doen?

Daar was ʼn onderwyser gedurende my laerskooljare, Meneer Kudu, en hy het in graad ses ons almal mooi laat verstaan dat dit glad nie saak maak waar jy vandaan kom nie. Jy moet so groot droom as wat jy moontlik kan en dan jou drome volg. Al was Kathu ʼn afgeleë myndorpie, was ek toegelaat om te droom. Dit het dalk te doen gehad met die feit dat ek die jongste van sewe kinders was – daarom was my ouers oukei met die feit dat ek iets “kunstig” sou aanpak!

Jy is baie veelsydig – jy sing, jy speel toneel en jy skryf toneelstukke – wat lê jou die naaste aan die hart?

Ek sou sê skryf – net omdat dit my toelaat om bietjie my eie stories te vertel. Om toneel te speel is heerlik en dit voel ook soos speel, nooit soos werk nie. Die vreugde wat ek egter kry deur om iets self te skep, of iets wat uit my pen vloei, is heerlik en vervullend. Skryf was nog altyd een van my voorliefdes. Ek het eers later in my lewe begin, omdat ek altyd my spelvermoë in twyfel getrek het – en daarom het ek gedink ek mag nie skryf nie! Gelukkig is daar auto correct, woordeboeke en Google. Daardeur kan ek maak of ek kan spel, so nou kan ek skryf na hartelus. Dit is altans deel van my gene, my ouma en my pa was baie goeie skrywers.

Hoe sien jy die toekoms van die plaaslike vermaaklikheidsbedryf – en watter rol speel stromingsdienste deesdae?

Stromingsdienste maak my baie opgewonde. Hoe meer toeganklik jou werk vir die publiek is, en hoe meer mense jou werk kan sien, hoe beter. Hoe meer stromingsdienste met mekaar kompeteer, bestaan daar die vooruitsig dat hulle ons as akteurs meer kan betaal! Kompetisie is mos altyd goed, reg?

Leave a Reply