Susters durf nie nou ‘slap lê ná ‘n lang, moeisame pad’
Dit is vandag Internasionale Vrouedag. Binne ‘n transera en groeiende getal geslagsidentiteite en progressiewe kultuurbewegings, is die lang stryd om vroueberegtiging onder deurlopende druk, en verkeer feminisme in eietydse nood met vroue wat hewig onderling verskil. Sonnette Lombaard het agt vroue van verskillende ouderdomme en beroepe van regoor die land oor feminisme gepols. Diė vroue tussen 23 en 78 jaar is tans van enkellopend, in saambly-verhoudings, getroud, geskei of weduwees en vertel hier self hoe hulle in die jaar 2023 oor vrouwees voel.
Anne-Marie Mischke (78), Johannesburg, oudjoernalis, vryskutvertaler en -redigeerder
Ek is ʼn feminis. Hoe anders vir iemand uit ʼn tyd toe vroue nog in die tweede span gespeel het? Dit was nuus toe die eerste vrouebankbestuurder en vroueprofessor aangestel is. Toe Helen Suzman lank die enigste vroueparlementslid was. Ons kan nie nou laat slap lê ná ons lang pad nie. Naas die stryd om gelykheid wat nog nie afgehandel is nie, is dit ook nuwe tye, met nuwe kwessies, soos #MeToo bevestig. Ek het self diskriminasie as vrou ervaar. Dekades gelede was dit my beurt om bevorder te word tot my koerant se politieke beriggewer, toe ʼn gesogte pos by die parlement (die ou apartheidsparlement was feitlik in geheel ʼn manlike instelling). Daar was een vrou in die persgalery, Fleur de Villiers van die Sunday Times. Geen Afrikaanse vrou nie. Maar die mans in die hoofredaksie van my koerant het die redakteur oortuig dat ek nie die werk sal kan doen nie omdat ek nie saam met die manne sal kan drink nie. My hart het gebreek. Die man wat die pos gekry het, kon nie die mas opkom nie en ek het my beurt én my stories gekry, sonder om saam met die manne te drink (terloops, Helen Zille is dieselfde jaar persgalery toe, en sy het ook nie saam met die manne gedrink nie).
Dis ʼn cliché en veralgemening dat vroue hulself pootjie. Daar is sekerlik steeds vroue wat geen erg aan feminisme het nie, wat nie deel in die susters se stryd nie, en hulle dalk gewillig laat manipuleer in ʼn “manswêreld”. Hulle is nie die probleem nie. Die glasplafon is. Ook die objektivering van die vrou deur baie mans. Die hele #MeToo-kwessie, wat ook hier aan die orde van die dag bly. Noem dit by die naam: seksuele teistering. Maar daarteenoor is die tallose vroue wêreldwyd en hier wat deur die glasplafon gebars het, wat nie eens meer daaroor dink nie, en net voortgaan as gelykes en meerderes van wie en watter gender ook al. Dis meer genuanseerd as wie die grootste vyand is. Laat die susters wat nie wil meedoen nie, aan hulself oor.
Feminisme is steeds op koers. Jy kan nie die gees in die bottel terugdruk nie … wel nog soms hier te lank en daar te kort – kyk na die raadsale in die private sektor … nog donker van die manlike suits. In ons land se politiek lyk die getalle min of meer gelyk, en, vergeef my sinisme: ons wetgewende en uitvoerende susters staan nie ʼn tree agteruit by hul manlike kollegas rakende knoeiery en korrupsie nie. Feminisme is nie gekaap deur ander geslagsidentiteite nie. Lank was vroueregte alleen in die veld (hier het ons desjare nie daaraan gedink dat rassediskriminasie soveel meer pyn en ellende veroorsaak het nie). Wat gender betref, het vroueregte ʼn voorsprong gehad. Nou moet feministe daardie veld deel. So? Daar is plek vir almal. Hopelik sal ons mettertyd meer in terme van diskriminasie en menseregte in die breë dink, eerder as in kompartemente.
My vrouwees is ineengestrengel met my menswees en die lekkerste van my menswees is die vreugde van die lewe self. Natuurlik het ek hoop vir volle gelykheid vir vroue vorentoe, veral as ek dink hoe ver ons in ʼn korte halfeeu gekom het.
Elma Potgieter (60+), Johannesburg, vrou, aktrise en skrywer
Ek was nog nooit ‘n feminis nie – ek is heeltemal te mal oor mans: my pa, my eerste kêrel, my groot liefde, Schalk Jacobsz, my ooms, neefs, aan weerskante van die ouerlike spektrum, kollegas, kennisse en vriende …
In elk geval rebelleer ek onmiddellik teen etikettering – moenie my in ‘n blik druk met ‘n etiket daarop nie – nee! Dit laat my brul soos die sterreteken waaronder ek gebore is. Ek haal graag vir NP Van Wyk Louw aan: nie net is hy ‘n groot digter nie, maar lojaal aan en lief vir sy volk – hy het sy volk gekritiseer, maar altyd met begrip en liefde.
“In een opsig was my denke koppig soos ‘n muil …
Ons leef in ‘n wêreld wat so oorheers word deur -ismes: konserwatisme, liberalisme, kommunisme …
En ek het daartoe gekom om sonder die bril van ‘n enkele -isme die wêreld met ‘n skoon oog te bekyk.” (Uit Gedagtes vir ons Tyd).
Marie Beytell aka Afrikavrou (56), Johannesburg, opvoedkundige, dramaturg, kabaretkunstenaar en kreatiewe kommunikasiekonsultant
Ek is matig op die feminisme-spektrum. Nie ekstreem of bra-brandend nie. In my 20s het ‘n revolusionêre besigheidsidee my getref toe ek ‘n verteenwoordiger by ‘n bekende vervoermakelaar was. Dit was ‘n bemagtigende oplossing vir o.a. trokdrywerstakings. Ek het selfs ‘n groot belegger ingebring na die vergadering. Gróót was my verbasing en teleurstelling toe die CEO my beveel om eerder tee en koekies te bedien aan die manne om die tafel. Ek het kort daarna bedank! Vroue is inderdaad hulle eie grootste vyande. Om volwaardig deel te neem in die korporatiewe wêreld, wend vroue hulself na ‘n patriargale bestuurstyl: territoriaal, outokraties en keelsny-kompeterend. Narsisme wat spruit uit ‘n lae selfbeeld veroorsaak ‘n verlies aan diep sielskontak met onsself en ubuntu-beginsels word ‘n gejaag na materiële sukses. Só verloor vele vroue hulle matriargaal-magiese vermoëns om eerder sukses te bereik deur intuïsie, samewerking, ware demokrasie en empatie.
Gesonde feminisme is gekaap deur ander ekstreme identiteitsoorloë. Vrede en genot om net as VROU te identifiseer, word dikwels met spottende, neerhalende minagting bejeën, pleks daarvan om respek en erkenning te geniet as ‘n regmatige identiteit op die totale spektrum van vrouwees.
Om nog steeds begeer en waardeer te word as vrou deur my man, ná ‘n huwelik van 20 jaar+, maak my diep sielsgelukkig! My moederlike instinkte en sielsvoedende kontak met ons kinders, diere en die natuur! Swangerskap en om geboorte te kon skenk was ‘n ontsaglike voorreg wat ek wéér sal kies! Om in hierdie harde wêreld SAG, maar nie SWAK te wees nie, sal seevier vorentoe! Ek twyfel nie dat alles uit vrees gebore, soos oorloë, rassisme, seksisme en klassisme eindelik sal kniebuig en smelt voor die oorspronklike feminis, ons Moeder Aarde. Sy wag geduldig vir die mensdom om wakker te skrik op hierdie piepklein dofblou kolletjie in ons ontsaglike hemelruim. Om as gelýk aan ander geslagsidentiteite beskou te word, is nie my droomdoelwit nie. Moederlike vrouwees is die sagte oerbos-omhelsing waarheen ons álmal telkens sal terugkeer. Dis lánk terug só geskryf in die DNA van die mandelbrot-patroon van ons laslappiekombers-bestaan.
Michelle Veenemans (54), Centurion, ad hoc opera-sopraan
Ek is glad nie ‘n feminis nie. Die woord alleen klink aggressief. Ek steun wel gelykheid op alle gebiede en dat elke vrou en man op meriete dieselfde kanse moet kry. In my 40 jaar in die klassieke musiek-arena is nog nooit teen my as vrou gediskrimineer nie. In die klassieke kunste het mans en vroue mekaar eweveel nodig. Dis min dat hulle teen mekaar werk, jy ervaar eerder hoe vroue teen vroue werk en mans teen mans. In die klassieke kunste het vroue ver gekom. Om te dink vroue was ‘n paar eeue gelede nie toegelaat op die verhoog nie, hetsy in dramas of operas. Belowende jong seuns-soprane is in die 15de-17de eeu voor puberteit gekastreer om hul pragtige sopraansstemme te behou. Bekend as “kastrate”, het hulle vroueklere aangetrek en die vroulike rolle vertolk. Hulle was die supersterre van hul tyd. Ek sou wat wou gee om hulle in lewende lywe te kon beleef.
Vandag staan vroue hul eie plek vol op die verhoog. Die lekkerste van vrouwees is om elegante, vroulike aandklere aan te trek en daarin die mooiste arias passievol te sing! Wat is beter as om in die arms van ‘n pragtige tenoor oor die liefde en al sy uitdagings te sing? Ek glo wel vroue is soms hul eie grootste vyande. Ons moet ophou met mans te kompeteer – gee ons ons vroulikheid prys, verloor ons ook ons grootste wapen.
Christina Kleynhans (42), Kaapstad, onderwyseres, skrywer en digter
Jy is geneig om iets te word wat jy bestry, meen Eckardt Tolle. Is dit dalk relevant tot wie ons is vandag? Het ons nie ons eie Nemesis geword nie? Ek is ook ‘n nihilis. Alles wat sin maak, sal in die niet verdwyn. Wat my dwars in die krop steek is die woke-kultuur. Almal wil nie verantwoording doen vir wie hulle inherent gebore is nie. Ons voornaamwoorde word uitgedaag met “hulle wat maandstonde kry”. Ons word biologies ontsê van ons waarheid en egtheid. Soos Nazi-isme word die ideologie verdraai vir eie gewin. Ons word ons eie slagoffers. In my lewensfeer, is vroulike intelligensie baie bevraagteken, omdat dit die status quo bevraagteken. Waarheen die nuwe cancel-kultuur beweeg, is ‘n narsistiese uitdrukking van die eie ek. Sojourner Truth sou seersekerlik in haar graf omdraai as sy die eietydse sirkus moes aanskou. Diė Ain’t I a woman-skrywer sou haar hande saamslaan in ongeloof. Haar woorde sou seker gedraai word na “Ain’t I a person?”. Ek weet wat en wie ek is en is gelukkig om in my eie vel te wees. In die aanslag van die woke– en cancel-kultuur voel ek egter taamlik onseker.
Nadia Oberholzer (40), Pretoria, mondhigiënis, lewensafrigter en skrywer
Ek verkeer in relatiewe onkunde oor die stryd vir gelyke geslagsregte. My kinderhuis was weliswaar gevul met beide professionele ouers met ‘n pa as tandarts en ma as mondhigiënis. Ek wil graag die idealistiese prentjie van feminisme skets. Dis vir my sleg om te sien en ervaar hoe mans hulle manlikheid verloor. Dalk is dit omdat daar baie huishoudings is waar vrouens hoër salarisse as die mans trek? Niks is meer onsmaaklik as ‘n emasculated of ontmande man nie. ‘n Man wat breëbors veg vir daardie rekening ná die eerste afspraak is tog so aantreklik in daardie oomblik! Byna asof hy nou net die bokkie tuis bring in die oertyd. Ek geniet dit om agter ‘n man se breë skouers te gaan wegkruip vir die spreekwoordelike predatoor. Dalk is ek onsensitief vir die stryd, dalk moet ek meer dankbaarheid betoon vir sweet en bloed wat getap is vir my regte, hulle voorregte. Meestal wil ek net ‘n dame wees, met my grootste bekommernis watter kleur lipstiffie om te gebruik. Ek is ‘n trotste 40-jarige bachelorette, wat al verskeie eerste ontmoetings gehad het!
Lara Lourens (30), Pretoria, regisseur, aktrise en dosent
Hierdie is tans ‘n moeilike onderwerp vir my want ek voel ons as vrouens het tot ‘n mate vergeet wat feminisme beteken. Ek kyk daagliks na sosialemedia-plasings van meisies wat verleidelik dans in hul onderklere of ‘n selfie plaas met ‘n minseggende aanhaling en by dit pryk #feminism. Dit begin al hoe meer voel ons het feminisme verklein na iets soos ‘n hashtag of ‘n modegier. Dan kry jy natuurlik ook diegene wat dink feminisme is “anti-man” of om teen die teenoorgestelde geslag te wees – dit is nie!
Wanneer ek aan feminisme dink, waardeer ek die vrouens wat geveg het vir my om te kan stem, om te kan kies wie ek wil lief hê, my droomloopbaan na te jaag … flip, bloot om die reg tot my eie bankrekening te hê!
Wanneer ek kyk na die strome #feminism en free the nipple en men are trash plasings op sosiale media wonder ek hoe hierdie enigsins ‘n verskil maak aan meisies in lande waar hulle steeds nie die reg het tot ‘n opvoeding nie? Ek wonder hoe dit ‘n verskil maak aan die meer as 100 vrouens wat elke dag verkrag word in Suid-Afrika? Is die reg om jou nipples op Instagram te plaas regtig so belangrik soos die feit dat meer as 27% van volwasse vrouens al fisies aangerand was deur hul lewensmaat? Ek wonder wanneer die feminisme beweging so oppervlakkig geword het? Moenie my verkeerd verstaan nie, as dit vir jou belangrik is om bietjie boob action aanlyn te hê, you go girl … maar moet dit asseblief nie die prioriteit maak nie van ‘n beweging wat geveg het vir jou om vryheid en regte te hê. En aan diegene wat lief is om te sê: men are trash – nie alle mans is só nie en nie alle dames is engele nie. As ek die paar vrot appels in die samelewing moes gebruik as voorbeeld vir hoe alle vrouens optree, was women are trash al lankal viral.
Lumé van Schalkwyk (23), Port Elizabeth, joernalis en radio-omroeper
Dit maak nog altyd iets in my wakker wanneer iemand teen die stroom begin swem. Die opgewondenheid wanneer iemand opstaan vir ‘n doel groter as hulself. Ek spring uit my nate as ek sien hoe vroue mekaar se krone regskuif, mekaar optel en ondersteun, maar …
Wat gebeur wanneer dit ten koste is van ‘n geslag wat jy geroep is om lief te hê soos jouself? Wat gebeur as ons dit vat en begin skade aanrig? Die “nuwe” moderne, militante manier van feminisme, roep vroue op, om op te staan en in opstand te kom teen die orde wat God aan die mensdom gegee het. Dié handelsmerk van feminisme poog om humanistiese waardes af te dwing in direkte opposisie met die Woord van God. Feminisme was oorspronklik ‘n positiewe beweging wat daarop gefokus was om vroue dieselfde basiese regte te gee wat God vir albei geslagte bedoel het. Tragies genoeg, fokus feminisme nou op die vernietiging van onderskeidings in die rolle van mans en vroue. Dit is hartseer, maar ook waar dat kunsmatige hindernisse nog altyd die mensdom verdeel het – hindernisse wat geen basis in God se Woord het nie. Dis sonde in die hart wat ongelykheid veroorsaak, sonde wat veroorsaak dat sommige mans vroue op neerhalende of objektiverende maniere behandel. En dit is sonde wat na vervalste oplossings soek om hierdie ongelykhede teen te werk.
Wat nie gaan help nie, is om vuur met vuur te baklei. Ons kan mekaar help gloei en nog steeds self skyn. Ek hoop dat ons in die toekoms vir mekaar tafel sal dek in die son, en nie ons krone van mekaar se koppe afruk nie. Mag ons leer om vir mekaar te klap, tot dit ons eie beurt is.