Skip to main content

Sonja Brown

Mens kan nie help om die man dadelik raak te sien by Johann van Heerden se gallery in Jacqueline Rylaan, Garsfontein nie. JJ (Koos) Bronkhorst se teenwoordigheid is net so treffend soos sy skilderye.

Sy uiterlike weerspieël ‘n teddiebeer-oupa-kunstenaar, laasgenoemde vanweë die swart beret op sy kop wat lang grys hare – wat in ‘n gemaklike poniestert vasgebind is – versteek. Dan, wanneer ek neffens hom by die heldergroen houttafel gaan sit, tref sy warm aura my vol in die gesig.

Koos se oë en hande praat saam wanneer hy gesels, en wanneer hy regtig geniet waaroor hy praat, word sy bruin oë klein getrek, en sy glimlag is wyd en warm.

Dat hy passievol is oor kuns en musiek, is nie te betwyfel nie. Hy praat graag en gemaklik daaroor.

Wanneer het jy agtergekom dat jy ‘n aanleg het vir kuns?

Ek het op laer skool al agtergekom dat ek hierdie oorgeërfde talent het. ‘n Onderwyser het dit ook raakgesien. Daardie tyd het ek meestal bokke geteken. Veral koedoes.

Waar is jy gebore en getoë?

Ek bly al donkiejare in Pretoria maar is in 1957 in Krugersdorp gebore en het daar grootgeword.

Wat is jou gunsteling-onderwerp om in ‘n kunswerk vas te vang?

Lig. Dit gaan alles oor lig. Veral in landskappe. En wolke … die see … mense wat besig is met eerlike werk. Vissermanne is vir my mense wat die eerlikste werk doen. Ek praat nou van die klein vissermanne wat hulle eie ou skuitjies het. Ongelukkig het fabrieke en groot maatskappy vissermanne in plekke soos Paternoster uitgemoer uit ‘n eerlike bestaan maak. Baie van hulle gaan nou in die nag uit. Hulle moet oorleef. Hulle moet eet. Daar is min so eerlik soos vissermanne en mussel-pickers.

Paternoster kom nou in my gedagtes op … ek was die eerste keer moerig toe ek ‘n seiljag daar sien. Ek wou die bleddie ding gaan sink. Dit in sy moer in opblaas. Húlle maak die vissermanne dood.

Ek hou van mense wat oop en eerlik is, en daardie vissermanne val in daardie kategorie.

Ek het eendag op die jetty in Kalkbaai gesit. Daar is moerse rotse, so as die see rof raak, slaan dit oor die rotse. Dis gevaarlik, dus is daar ’n veiligheidshek om mense weg te hou as die see rof is.

Op ‘n dag sit ek daar en skilder. My esel moes aan ‘n rots vasgemaak word sodat dit nie wegwaai nie. Terwyl ek sit en paint, kom ‘n ou en sê ek moet loop, hulle wil toesluit.

Ek sê toe: Maar ek paint.

Skree die een vir die ander een: Hierdie Valie, hy vertel my ‘n klomp k*k. Hy draai toe na my en sê: Ons wil nie hê jy moet hier versuip nie. Loop versuip op ‘n ander plek.

Ek haal geld uit en sê: Gaan koop vir ons vis en tjips dan kom pas julle my op dat ek nie versuip nie.

Is dit al wat meneer doen? vra die een ou.

Ja, sê ek.

Nou wat kos so ‘n skildery? wil hy weet.

Ek sê hom toe.

Jissie, as ek kon gepaint het, dan het ek ook nie gewerk nie, was sy eerlike antwoord.

Hoe sien jy jou skilderwerk?

Jy kan sien my werk is vreeslike los. Mense vra my oor skerp kante; hoekom ek dit nie in my werk het nie. Daar is tonne mense wat soos ek wil skilder. Selfs voor die impressionistiese tye het mense soos Frans Hals los kwaswerk gedoen. Hy is ook een van die ou meesters maar het oorleef op ‘n munisipaliteit-pensioen en is in ‘n ongemerkte graf begrawe. Dit is een van die ouens wat ek kon bestudeer het. Ek kon mooi sien in hoë resolusie foto’s presies wat die ou gedoen het. Die vryheid wat hy gehad het… In my opinie wil mense nie deesdae stywe skilderye hê wat soos afdrukke lyk nie.

Buiten skilder, watter ander talent/e het jy?

Ek kon musiek lees dieselfde tyd wat ek gewone boeke kon lees. Vir ons was die lees van musieknote natuurlik.

Al ons kinders het take gehad wat ons tuis moes verrig. Myne was om in die tuin te werk. Ek was nog nie op skool nie, maar was toe reeds geskool in my deel van die huistake.

Ek het daai tyd na Bert Kaempfert of Eddie Calvert geluister en altyd gedink hoe mooi die trompet se geluid was. Toe ek die trompette hoor terwyl ek in die tuin werk, hol ek na my pa toe en sê ek wil ‘n trompet hê.

My pa het vir die munisipaliteit in Krugersdorp gewerk en het jare lank fietsgery. Na werk het hy op sy fiets gery en mense se klaviere gaan stem of musiekklasse gegee.

My pa, ook ‘n musikant, het een Saterdag weer ‘n klavier gaan stem. Dìt sonder ‘n stemvurk. Toe hy later tuis kom was daar so ‘n swart tassie agterop sy fiets vasgemaak. Dit het vir my soos ‘n dokterstassie gelyk. Terwyl hy die volgende dag werk toe is, het ek ingesneak want ek wou gaan loer wat in die tassie was. Hy het ‘n lessenaartipe safe gehad, maar ek het geweet waar hy die sleutel wegsteek.

Ag liewe hemel, al wat daarin was was pypies en goed wat veronderstel was om ‘n trompet te wees. Party was heeltemal platgedruk. My moed was in my skoene. Weet jy, hy het daai ding weer nuut gemaak? Met stokkies en rollertjie en goed. My pa het ‘n goeie ses maande daaraan gewerk voordat hy dit uiteindelik vir my gegee het met dié woorde: “Oukei, my seun hier is jou trompet en dis hoe jy hom vashou.”

Ses maande later speel ek, ‘n sesjarige kind, in ‘n blaasorkes saam met grootmense. Almal het gevra hoe so ‘n klein seuntjie dit kon regkry. My antwoord? My pa klap my ore as ek aanjaag.

Dit was eintlik vir ons ‘n verskriklike interessante lewe. Finansieël nie welaf nie maar in ander opsigte skatryk.

Wat het jy na skool gedoen, en het jy steeds ‘n passie vir kuns en musiek gehad?

Na skool het ek by die weermag aangesluit en deel geword van die TSC-orkes. Daar was ek tweede in bevel. En na my uitpasseringsparade by die weermag het ek by die polisie aangesluit waar ek ook deel geword het van die S.A.P. orkes.

Vir ‘n groot deel van my lewe was ek ‘n professionele musikant. ‘n Tromboonspeler. Ek was vir lank in die polisie-orkes. Dit was ‘n fantastiese orkes daardie jare en ek het ook simfoniewerk gedoen, want ek is meer ‘n klassiek-opgeleide musikant.

Watter invloed het jou pa op jou skilderkuns gehad?

Buiten dat my pa ‘n goeie musikant was, het hy ook geskilder, maar meerendeels as ‘n stokperdjie. Hy het wel materiaal vir skilderye goed geken en ek moes van die begin af leer hoe om die materiaal te bewerk.

Waar het jy jou kunsopleiding gekry?

Die ou meesters se werk het ek sommer so privaat bestudeer. Baie mense sê hulle is ‘self-taught’, maar jy kan jouself nie iets leer wat jy nie weet nie. Dit is eintlik selfstudie wat mens doen.

Dit wat ek doen is verskriklik eenvoudig.

Hoe het jy oorspronklik jou kunswerke begin versprei?

Ek het eers begin waterverfsketsies doen. Toe my een broer, Gerhard, so 9 jaar oud was, was ons in ‘n vieslike motorongeluk. Die kar het gerol en hy is serebraal gestremd gelaat nadat hy vir drie maande bewusteloos was. Later jare het ek vir hom ‘n driewiel-fiets gebou want ons kon nie bekostig om een te koop nie. Hy was vreeslik chuffed met hierdie ding. Ek het vir hom ‘n mandjie opgesit, en hy het met die waterverfsketsies in ‘n lêer gery en dit gaan verkoop. Ons het die geld gedeel. Dit was sy sakgeld en vir my ekstra geld vir verf en materiaal. Hy was vir jare lank ‘n bekende gesig in Sunnyside.

Op ‘n dag het ‘n man van my waterverfsketsies by Gerhard gekoop, en my foonommer by hom gevra. Dié man was een van die voorste kunskenners/versamelaar/skrywers oor kuns. Enzo Mastromatteo was ‘n Italianer wat vir veral Europese tydskrifte geskryf het. Hy het my begin druk vir olieverfskilderye. Op daardie stadium het ek honderde gehad, maar dit was net my studies; iets wat mens maar oor en oor verf totdat jy voel dat jy nou ‘n produk het wat goed genoeg voel en lyk.

Enzo het van my olieverfwerk begin aankoop. Hy het presies geweet waarvoor hy soek en wat in die mark verkoop. Ons het goeie vriende geword. Hy was my pa, my mentor, my vriend, my impresario, my bemarker. Ek was eintlik gelukkig, want hy was ‘n vreeslike privaat persoon.

Ek hou nie daarvan om name dropping te doen nie maar die man was betrokke by veral die Kaapse ou meesters. Hy het persoonlik kontak gehad met Gregoire Boonzaier en het op ‘n keer ongeveer 100 van sy stukke Johannesburg toe gebring om te verkoop. Die mense wou dit nie koop nie, want volgens hulle was dit ‘lelik’. Hy het ook kontak gehad met Irma Stern en Maggie Loubser.

Ek het oorspronklik nie geweet wie die Enzo ou was nie want ek het glad nie met mense in die kunstewêreld gemeng nie. Ek was eintlik ‘n kluisenaar. Ek het my eie ding in my ateljee gedoen, en so het ek alles geleer.

Later het ek saam met meer gevestigde kunstenaars begin skilder. Meeste van my werk is oorsee verkoop want Enzo het dit landuit gevat. Jare later het ek eendag by ‘n gallery ingestap, toe hang daar een van my werkies. Hulle het gesukkel om dit te waardeer omdat dit nog nie op veilings of in die lokale mark beskikbaar was nie. Die kunsvereniging het toe daardie tyd een van my klein skilderytjies vir R4 500 gewaardeer, toe besluit die eienaar dat hy dit eerder sal hou en dit nie gaan verkoop nie.

Vertel ons van jou skilderstyl

Ek probeer my eie ding doen, met my eie styl en metodes en ek berei my doeke op my eie manier voor. Ek prime weer die doeke wat reeds geprime is, want ek vertrou nie die handelaars nie. Ek maak ook my eie doeke.

Jy bied skilderklasse aan. Wat is die interessantste groep of persoon wat al by jou klasgedraf het?

Ek het ‘n groep Koreaanse vroue wat nou by my klasloop. Hulle skilder fantasties. Daar is van hulle wat al meer as ‘n jaar by my aanmeld.

Ek bied op die oomblik drie klasse per week aan by my studio in Pretoria, en dan een Saterdag elke tweede maand by die Johann van Heerden Gallery. Hierdie klas is gewoonlik volgeboek. Dis baie informeel. Ek maak gewoonlik die mense twee goed doen: Om selfvertroue te kry en om die vrees vir die wit doek te oorkom. Mens is mos bang dat hulle ‘n gemors op die nuwe doek gaan maak. Weet jy, kinders het nie daardie vrees nie? Hulle het nog nie hang-ups nie, en pak alles vreesloos aan.

Groot name het al by my opgedaag om te kom leer skilder. ‘n Bekende komediant was een van hulle. Hy het groot konsternasie veroorsaak, want hy het sy twee honde saamgebring, en hulle het een van Johann se katte doodgebyt.

Raad vir jou studente?

Ek sê altyd vir my studente: As jy dink jy’t arrive, hou op skilder. Los dit net daar.

Hoe het die inperking as gevolg van Covid jou geraak?

Covid het my nogal goed pakgegee vanaf die tweede jaar se geforseerde lockdown. Ek was reeds afgetree uit die musiekwêreld en het net my kuns as inkomste gehad. Johann, die eienaar van hierdie gallery het so ‘n skildergroepie in Mooikloof gehad. Hy het my toe gevra of ek nie daar wil kom klasgee nie. Dit het my baie gehelp. Nou is ons soos familie.

Johan-hulle het eers so ‘n klein plekkie gehad voordat hulle hierdie een gekoop het. Hulle het ‘n ‘rowwe plek’ in hierdie pragstuk omskep. Hier is ‘n groot raam-winkel ook hier agter.

Vertel ons een persoonlike ding van jouself

Ek is maar ‘n korrelkop. Veral deesdae met die politiek voel ek dat ek eerder wil onttrek van alles en net weer ‘n kluisenaar word.

Jou werke is so kleurvol, treffend

Dit gaan alles oor vorm, kleur en lig. Kyk die kontras in die een stuk, beduie hy na een van die vele skilderytjies wat hy saamgebring het vir die afspraak.

Is jou skilderye bekostigbaar?

My A-4 skilderye verkoop vir tussen R6500 en R8500 hier in die gallery. Dit hang af van die onderwerp. Dit word nou maar deur die mark bepaal. Mens is dit ook aan die versamelaars verskuldig om elke jaar jou pryse op te stoot. Ek verkoop ook van my werk uit die hand uit by my studio. Op veilings vir liefdadigheid behaal my skilderye tot R25 000.

Wat maak jou skilderye anders as ander s’n?

My skilderye het altyd ietsie van ‘n misterie in. Ek sal byvoorbeeld nie ‘n ding 100% definieër nie. Ek sal dit aan die kyker oorlaat om self die stukkies in te vul.

Mense sê jy is beroemd. Hoe affekteer dit jou?

Ek sukkel nog om vrede te maak dat mense my as beroemd of bekend afmaak. Ek het al duisende volgelinge op Facebook, maar dis steeds onwerklik. Die feit dat groot name my ‘n giant noem, het nog nie tuisgekom nie. Ek is ook nie een wat sommer my eie beuel blaas nie.

Op ‘n dag, terwyl ons ‘n kompetisie beoordeel het, het dr Jan van der Merwe– voormalige hoof van TUT se kunste en huidig die hoof van beeldende kuns by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns –  en André Prinsloo, een van die Mandela beeldhouers, albei ‘n vrou wat moeg was vir klasgee en eerder wou leer skilder, sommer in dieselfde asem na my verwys. Dit was ‘n moerse kompliment vir my.

Wie is Koos Bronkhorst vir sy vriende?

Ek word gereken as ‘n  konserwatiewe persoon. My werklike konserwatiewe vriende reken ek is ‘n bietjie van ‘n f****p, maar ek is nie gepla wie doen wat, of wie sê wat nie. Maar … ek is eintlik ‘n skamerige ou.

My een vrees is dat mense my sal sien as ‘n windgat, ‘n egoïs, daarom praat ek nie graag oor my prestasies nie.

Wie en wat ander mense is, het niks met my uit te waai nie. Solank hulle my nie wil oortuig van hulle oortuigings is nie, kan ons lekker kuier.

Jy noem dat jy vir ‘n lang tydperk musiek gemaak het by een plek

Ja, ek het vir 17 jaar ‘n musiekkontrak gehad by die Manhattan Hotel in Pretoria, en vir ses aande ‘n week het ek musiek voorsien. Ek dink dis ‘n wêreldrekord. Ek dink nie daar is ‘n ander musikant wat een gig gehou het vir so lank nie. Ek het baie musikante ingetrek. My een Kongolese vriend maak nou permanent musiek in Frankryk. Hy is ‘n baie goeie jazz musikant.

Watter groot oomblikke het jy in jou lewe bereik?

Ek het een van die top trompetspelers in die land se opleiding afgeskop … Richard was ‘n kaalvoet tjokkertjie wat met sy trompetjie by kom leer het. Toe gee ek hom later aan vir ander onderwysers. Hy het uiteindelik ‘n beurs gekry om Engeland toe te gaan.

Ek was by sy finale eksamen. By hook and by crook.

Ek het pas ‘n nood-hartomleiding gehad omdat daar ‘n bondeltak-blok in my hart was. Die gevolg was dat my hart te stadig geklop het en ek heeltyd moeg en uitasem was. Na die omleiding is ek op ‘n Sondag uit die hospitaal ontslaan. Richard moes sy finale musiekeksamen die opvolgende Dinsdag by Tukkies aflê. Ek het teen die spesialiste se bevele, dat ek nie mag kar bestuur nie, aangetrek en Tukkies toe verkas. My vrou was nogal geskok toe sy sien dat ek verklee vir die geleentheid.  Teen die tyd dat ek by Tukkies aangekom het, het Richard se ma gedink dat ek is spook was, want ek was so bleek.

Sy oupa was jare lank die hoof van SARS, en sy pa is toe ook later die hoof. Sy grootouers het vir hom die trompet gekoop nadat ek vir hul gesê het dat Richard ‘n bestaan sal kan maak met daardie instrument. Die pa wou my nie glo nie. En kyk waar is Richard vandag. Een van die beste trompetonderwysers en -spelers in die land.

Toe ek by die saal instap, spring Richard se oupa op en sê: “And here is the man who started this off!” Dit was een van die grootste oomblikke in my lewe. Ek vat nie die eer daarvoor nie; ek het net my deeltjie gedoen, en dit was vir my ongelooflik.

Dr Niel van der Watt, ‘n Suid-Afrikaanse musikus en Donny Bouwer, ‘n top trompetspeler, was beoordelaars tydens hierdie geleentheid. Ek en Donny het jare saamgewerk en ek en Neil het  kontak gehad want ek het die blaasorkes van Afrikaans Hoërskool afgerig vir 9 of 10 jaar.

Daar is heelwat ander wat ek by die musiekwêreld ingefaseer het. Die genoegdoening was vir my die dryfkrag.

Nog ‘n groot oomblik was toe een van my kleinkinders sy eerste skilderytjie vir R1500 verkoop het. Hy het natuurlik breed gesmile, en sy oupa was sy groot hero.

Hoeveel kinders is daar in jou onmiddelike gesin?

Ons is 9 broers en susters waarvan een oorlede is. En voor jy vra, nie almal het probeer om ‘n instrument te leer nie.

Jy het genoem dat jy twee maal met die drankduiwel geworstel het

Ek was twee keer in ‘n kliniek vir drankverslawing. Na die eerste maal was ek vir 25 jaar nugter toe ek op ‘n dag by ‘n winkelsentrum indraai waar ek nog nooit voorheen was nie. Ek weet tot vandag toe nie wat ek daar wou doen nie. En toe ek stop is daar ‘n Tops drankwinkel voor my. Die uiteinde was dat ek ‘n halfjack gin en ‘n bottel Sprite gekoop het, van die Sprite uitgegooi het, en daarna die halfjack in die bottel koeldrank gegooi het. Dit was vinnig weggesluk.

Dit vat net een dop vir ‘n alkoholis om weer in sy/haar ou maniere te verval. Dit het my 6 maande gevat om weer op te hou drink en ek was byna dood. Ek het vroeër jare op 2 bottels Old Brown Sherry plus ‘n paar ander goed per dag geleef toe ek 27 jaar oud was. Hierdie keer was dit 2 bottels whiskey per dag. Mens het sterker drank nodig as jy weer begin drink na geheelonthouding. Die weerstand teen alkohol is progressief, ‘n mens se weerstand neem nooit af nie. Ek dink dis hoekom baie dokters en ander dit nie mooi verstaan nie. Mens bly ook nie lus vir ‘n dop as jy op die waterkar is nie.

Wat is jou planne vir die toekoms wat skilder betref?

Ek poog om elke dag te verbeter.

Ek wil nou weer begin verf in die veld. Daar is ‘n hengse klomp kunstenaars wat wil saamkom, maar hulle is te skaam om selfs in die middel van Kerkstraat te gaan staan en verf. Dit pla my nie. Almal wat vir my toeter blaas kry ‘n lang vinger.

Het jy al met ander kunsmiddele gespekuleer?

Ek het op ‘n stadium met klei ‘gespeel’ maar het dit nie verder gevat nie.

Hoe voel jy oor Covid entstowwe?

Ek weier om ingeënt te word.

As groet kry ek opsluit ‘n pragtige skildery as geskenk en in my kop huppel ek in die wolke.

As enigeen vir Koos wil kontak om sy skilderklasse by te woon, skakel hom gerus op die onderstaande nommer.

072 723 5962

Of besoek sy Faceboekblad om meer van sy werke te besigtig.

One Comment

Leave a Reply