Skip to main content

Mense wat in Maart gebore is het eintlik twee geboortestene, en hulle kon nie meer van mekaar verskil nie. Die eerste steen, ‘n akwamaryn of akwamarien (aquamarine) lyk soos die kleur van die see – ‘n pragtige turkoois kleur, en is ‘n lid van die beryl-familie. Die tweede steen is die bloedsteen (blood stone) wat heeltemal ondeursigtig is.

Die akwamarynsteen se naam is die eerste keer in ‘n publikasie gebruik in 1609. Dit was in Gemmarum et lapidum Historia aangeteken deur gemoloog Anselmus de Boodt.

Krale van akwamaryn is ook saam met die lyke van mummies ontdek.

Dié seskantige, seekleurige steen, wat grootliks in die Karakoram-berge in Pakistan asook Brasilië aangetref word, word ook as ‘n 19de huweliksherdenking-geskenk gebruik.

‘n Akwamarynsteen van bykans 109kg is in Brasilië opgediep. Hoe groter die steen, hoe dieper die blou, en hoe dieper die blou, hoe duurder is dit.

Die Smithsonian Institute huisves die wêreld se grootste gesnyde akwamaryn, die Dom Pedro – ‘n 10.363 karaat-obelisk wat 35.5cm lank en 10.1cm breed is.

Hierdie steen se naam is afgelei van die Latynse ‘aqua’ wat ‘water’ beteken, en ‘marina’ wat ‘van die see’ beteken.

Bloedstene, ook bekend as heliotrope, word in die Tsjeggiese Republiek, die Verenigde State, Indië, Brasilië, Skotland, China, Duitsland, Rusland en Australië aangetref. Bloedstene word ook sinteties vervaardig. Daar is wel een manier om die ware Jakob uit te wys: Vryf dit teen porselein, en as dit ‘n merk laat, is dit ‘n natuurlike steen.

‘n Bloedsteen, ‘n donkergroen steen met rooi kolle, is ‘n soort chalcedony – ‘n vorm van kriptokristallyne kwarts – en sy donkergroen kleur word deur die hoeveelheid chlorietdeeltjies bepaal.

Fotokrediet: GIA.edu

Leave a Reply

error: Content is protected !!