Skip to main content

Rapport is ‘n trotse ou publikasie met ‘n stoere verlede van goeie joernalistiek. Ongelukkig sal die mediageskiedenis die jaar 2023 onthou as ‘n laagtepunt in hierdie Sondagkoerant se verhaal – grootliks danksy die vreemde joernalistiek wat mense soos Pieter Steyn besig is om daar te pleeg. Sondag het die voorblad dit uitgeskree: “So skep Louis se mense uit skema”. Dirk Lotriet vertel hoe ‘n enkele berig propvol feitefoute twee gesinne in smart gedompel het.

Ek was Saterdagoggend tuis besig om koffie te maak toe die boodskap deurkom:

Hallo Dirk, Pieter Steyn van Rapport hier. Ek werk aan ‘n storie vir more se koerant. Ek verstaan jy het goeie opbrengste gekry uit jou beleggings in pakkies by Louis Liebenberg. Hoeveel geld het jy bestee om uiteindelik die opbrengs(te) te kry? Beskou jy jouself as gelukkig om wel opbrengste te gekry het, terwyl duisende ander steeds wag op hulle geld? Wil jy enige ander kommentaar byvoeg? Groete, Pieter

Dit het my laat kopkrap. Die insinuasie was duidelik: die vent beskuldig my daarvan dat ek op twyfelagtige wyse geld uit Louis se diamantskema gemaak het. Dat ek toutjies getrek het om pakkies uitbetaal te kry, terwyl ander geld “verloor”.

Hy vra nie eers of ek opbrengste uit pakkies gemaak het nie – hy stel dit as ‘n feit en ek moet antwoord. Probleem is net … ek het nie een sent se inkoop in pakkies gemaak nie. En nie een sent opbrengs gekry nie. Niks. Sy bedekte beskuldigings is snert.

Ek het kortweg geantwoord dat sy “feite” verkeerd is, dat my persoonlike beleggings of gebrek daaraan niks met hom te doen het nie en dat ek nie op sy vrae kan kommentaar lewer nie. Hoe dan anders – dis immers bog?

Ek het dit vir my vrou gewys. Sy het onlangs ‘n groot nek- en rugoperasie gehad en kan nog nie eintlik loop nie. “Dis mos twak! het sy gesê. Jy het tog nie ingekoop nie! Ek weet jy het dit lank oorweeg, maar het nooit sover gekom om dit te doen nie.”

En sy was reg. Ek dink nie Louis se skema is ‘n slegte manier om besteebare inkomste te waag nie. Ja, dis ‘n risiko-belegging, maar dis nie asof Louis ‘n geheim daarvan maak nie. Ek het sterk oorweeg om in pakkies in te koop en het selfs daarvoor geregistreer, maar het net nooit sover gekom nie.

Ek het die middag van Steyn se navraag vergeet, maar Sondag toe vertel Derick Hougaard my: “Jou gesiggie pryk in Rapport.”

Ek gaan koop toe ‘n koerant, en so by my kool: Daar is ek toe. “Dirk Lotriet het glo lekker geld gemaak. Hy wou nie kommentaar lewer nie.”

My vrou was erg ontstig. “Dink die onnosel vent ons sal in ‘n nederige huisie bly as jy ‘n spul geld so gemaak het? Dink hy ons raap en skraap om al die mediese rekeninge te betaal omdat dit vir ons lekker is?”

“Pieter Steyn? Ag, jy weet teen die tyd hoe moedswillig die stomme kêrel is. Kyk na al die goed wat hy die laaste maande oor Louis skryf. Hoe bitterlik onnosel moet iemand wees om so-iets te glo?”

“Dis darem ‘n mooi foto wat hulle van my gebruik het,” het ek die situasie probeer ontlont. Dit het niks gehelp nie.

Vanoggend, toe ek met my dogtertjie skool toe stap, toe groet die meeste ouers op ons roete soos gewoonlik vriendelik. Maar hier en daar was een wat my skeef aangekyk het. En ‘n wye boog om ons geloop het.

***

“Dis leuens – totale leuens!” sê Hannes en Christelle Badenhorst oor die berig in Rapport. Volgens die berig het Hannes, ‘n direkteur van Tariomix, R400 000 in sy vrou, Christelle, se e-wallet inbetaal.

Die inligting kom volgens Pieter Steyn uit ‘n verklaring wat AE Switch se rampokkerbaas, Tiaan Lombaard, by die hof ingedien het in die aansoek om AE Switch te dwing om Tariomix-vennote se e-beursies toeganklik te maak.

Christelle vertel hoe sy reeds in 2020 ‘n JV-vennoot was. Sy het haar pakkie-opbrengste in daardie jare – lank voordat Rapport en sy Media24-makkers ‘n skadu van wantroue oor die pakkiestelsel gewerp het – opgegaar met die ideal om eendag vir haar ‘n kar daarmee te koop.

Toe sy genoeg bymekaargemaak het vir haar kar, het sy die kar uit haar wallet gekoop.

“Hannes betaal nie die pakkies uit nie. Hy het nie ‘n enkele sent in my wallet inbetaal nie. Kyk hier…” Haar AE Switch-beursierekords wys doodnormale uitbetalings en inkope – niks verdags nie.

Volgens hulle is hulle verskeie kere vandag deur lede van die publiek gekontak wat hulle as diewe en skelms uitkryt. Dit terwyl daar geen ongerymdhede hoegenaamd is nie.

“Ek is ‘n ma. Ek moet aan my kinders dink – hulle kan geboelie word oor die onsin wat hierdie mannetjie geskryf het.”

Hannes knik. “As ons kwansuis so baie gesteel het, kan hulle maar in my rekening kom kyk. Ek waarborg jou, dis nie die bankbalans van iemand wat kamptig so geskep het soos Rapport beweer nie.”

“As hulle net weet hoeveel van ons geld sit vas in die gevriesde rekening…”

***

Hierdie is die verhale van slegs twee gesinne wat uit die bloute valslik beskuldig is van wat aan diefstal grens. Alles net in een berig, geskryf deur ‘n joernalis wat nie die moeite doen om hom van die feite te vergewis nie.

Gesinne wat bekommerd is oor die invloed van Steyn se leuens op hulle kinders, op hulle loopbane.

‘n Joernalis is veronderstel om moreel bo verdenking te staan. Nie Steyn nie. Dis onmoontlik om te glo hy was oortuig van die waarheid in sy berig.

Maar sy probleem is dat hy geen berig het sonder sy oneerlike beriggewing waar dit die Badenhorste en my eie sogenaamde “lekker geldmakery” aanbetref nie. Daarsonder verdamp sy storie. Die res van die berig bestaan uit weinig meer as ou, opgewarmde halwe waarhede.

“Ek dink ons moet dagvaar,” het Hannes aan my gesê. “Ek dink ons moet,” het ek geantwoord. Watch this space…

  • Ek het Pieter genader om op die feite in hierdie berig te reageer. Teen saktyd het hy nog nie geantwoord nie. Seker te besig om nuwe snert uit sy duim te suig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!