Skip to main content

Tommy Thompson

Heldersiende sintuie is siggestremdes se geskenk

Die sensasie van sien is een van die mees onderskatte voorregte en wonders van leef. Diegene wat nie kan sien nie of daarmee sukkel wis dit al te goed. In ‘n visueel-gerigte wêreld staar blindes en diegene met ernstige oogsiektes tawwe uitdagings in die (ge)sig. Maar dit hou ook aweregse voordele in, soos opskerping van ander sintuie vir fyn kyk met luister en ruik, ‘n ryk verbeelding en diepe waardering vir als anders. Twee van Die Waarheid se redaksielede ken van in dié dowwe boot vaar en sienplanne maak om te funksioneer. Sonnette Lombaard berig.

Die pad uit Johannesburg na Die Waarheid se kantoor in Kemptonpark is per snelweg relatief reguit maar kan kinkels hê. Vra vir my en kollega Dirk Lotriet. Laas jaar was ons twee siggestremde kollegas agter dik donkerbrille wat daagliks ons weg na die werkplek moes vind. Dirk was afwagtend op oogoperasies om sy swak sig te red en my oogsages kom oor dekades. Dit het minstens die druk oggend- en later middagverkeer draaglik én avontuurlik vir ons blinde duo gemaak en ondanks gegewes, was Dirk ‘n goeie, veilige bestuurder.

Verlede maand het vermaaklegendes in Suid-Afrika ge-oe-en-a toe ‘n beeldskone jong vrou op die verhoog in die Centurion Teater gelei is. Rochelle Veenemans (18) het skouspelagtig as koloratuursopraan gedebuteer. Deel van ons beroemdste singende familie, het sy haar ouma, die bekende sopraan Barbara Veenemans vir haar 85ste verjaarsdag toegesing. Rochelle is dié familie se vyfde sopraan … met ‘n kernverskil. Sy is van kort ná geboorte as prematuurbaba blind weens suurstofnalatigheid. Rochelle het perfect pitch en haar bogemiddelde gehoor – sy kan tussen verskillende frekwensies onderskei – maak op vir haar visie-uitdagings.

Tommy Thompson (53) wis van wankelende visie. Gebore met familie-verwante keratokonus wat hy onbewustelik kleintyd op Frankfort in die Vrystaat verereger het deur sy oë te vryf as hy hooikoors gehad het, het hy in St. 5 begin sukkel om in die klas te sien. Hy is met keratokonus gediagnoseer en moes harde kontaklense begin dra. Keratokonus gebeur wanneer die kornea – die oog se helder, koepelvormige voorste oppervlak – verdun en oor tyd in ‘n kegelvorm uitbult. Geblurde en verslegtende visie en erge ligsensitiwiteit is die gevolg.

Thompson, ‘n besigheidsontwikkelingskonsultant by Remax in Kaapstad, moes in 1998 as Raukie-student ‘n korneaoorpanting met ‘n skenkerkornea kry. Daarna met lense was sy visie links 20/20. Sy visie regs verswak egter ook en hy dra sedertdien ‘n dubbele paar lense bekend as “piggyback” (sagte lense onder hardes). Die fikse Kapenaar leef nomaal en is baie aktief, maar moes sy leefstyl aanpas. Sy oë moet genoeg rus om ordentlik te kan sien en laatnagte, asook lugreëling in die motor is uit. Hy lees graag maar kan nie saans in die bed lees nie, vermy stofplekke en moes watersporte soos swem en sy eens geliefde waterski opgee.

Hy erken ruiterlik dat sy oogsages hom op sy knieë hou. “Ek beskou dit as suiwer genade en ‘n wonderwerk dat ek slegs twee weke op die kornea-waglys was voor ek gehelp is. Dit kan môre weggevat word – met só ‘n reis wis jy hoe gou dinge kan verander.”

Aan sukkel-met-sien moes Dirk gewoond raak. Dié 56-jarige baas van Die Waarheid-mediaplaas se oë het in 2021 skielik erg verswak. Toe kry hy boonop Covid, en versleg sy sig tot sowat 30%. Hy het gesukkel om te lees en sien en moes by die werk aanpas. Ná twee oogoperasies in 2022 kon hy weer sien.Die verskil is lewensveranderend.” Hy gebruik nou by uitsondering ‘n leesbril. Dis so lekker om weer skerp te sien, hy koop gereeld blomme vir sy vrou, Estene. “Net omdat ek weer die kleure kan sien.”

Dirk skuif nou weer flink agter ‘n naaimasjien in om vir Estene, wat onlangs ‘n ernstige operasie moes ondergaan, ‘n rok te maak sodat hulle haar tuiskoms kon vier. Hy skram ook nie weg nie om ‘n aandrok vir sy skoondogter en trou-onderbaadjie vir sy seun te stik.

Hierdie skrywer, ék, ken ook van sigsages. “My trane het plotseling op 27-jarige ouderdom opgedroog terwyl ek as dagblad-joernalis gewerk het. Dit het durende siensages ontketen wat my lewenskoers sou verander. In die 1990s was daar nog nie al die nuwerwetse behandelings nie en metodes om my oë vogtiger te kry, het almal misluk. Met toegeplakte oë en vinnig-verslegtende visie was ek agt maande afgeboek. Daarna is ek terug werk toe met verbandlense om my oë oop te hou en ‘n donkerbril. Sere het bly op my korneas vorm en dit permanent beskadig. Selfs kersvlam was te skerp. Voor vandag se silikoonproppies, is koperdraadjies in my traanbuisie geplant, maar het min gehelp. ‘n Onkoloog het my met die outo-immuunskeet Primêre Sjögrens en MGUS (voorloper van beenmurgkanker) gediagnoseer. Wyl ek met behandeling begin het, het die oogsiekte keratokonus toegetree en was ek op die kornea-oorplantingslys.

In 2004 het die voorspelde bloedkanker gekom en kry ek ‘n beenmurgoorplanting (met my eie stamselle). Ek was gou blind daarna toe die steroïdes waarop ek moes bly, oornag trosse katarakte op my swak oë gegroei het. In 2005 is lense tydens noodoperasies ingeplant. Dit was magic en ek kon terugkeer na Beeld waar ek rolprentresensent geword het. Op prins William en sy Kate se troudag in 2011 skeur die retina in my sterker regteroog los. Ná ‘n rits operasies en maandelange rehab, het ‘n werkonderhoud gewag. Ek kon niemand om die tafel sien nie maar was voortaan taalpraktisyn in die sakewêreld! Met ‘n vergrootglas oor my rekenaarskerm kon ek proeflees maar moes ná vyf jaar groet weens verdofte visie. Daarna bestuur ek ‘n paar jaar ‘n gewilde, tweedehandse boekwinkel in Linden waar ek nooit op die kasregister kon sien nie, maar ek het pryse ingetik asof ek kon en het min nié gebalanseer nie. Ek werk sedert 2022 by Die Waarheid en hoop met kollageenkruisingsbehandeling om my keratokonus te verbeter, en sal ek hopelik weer kan motor bestuur.

My oogsage het jonk gebeur en ek moes blitsig aanpas – jou ander sintuie duik dadelik in en “sien” eenvoudig waar jou kykers faal. Tans het ek pinhole-visie links en middelvisie regs. Dit verg aanpassings en geduld. Ek dink nooit dat ek nié kan sien nie en navigeer my lewe rondom dit. My brein kleur die lewe vir my in. Ek hoor altyd eerste mense se stemme omdat ek moeilik gesigte sien wat nie naby is nie. Wanneer ek jou ken, sal ek nogtans áltyd weet wanneer jy aankom. Visiegebrek leer jou dat mense wat dieselfde klink, trek ook na mekaar (gesigsgelaatstrekke). Só ontdek ek toe die fassinerende veld van fisionomie (gesigstudie). Beperkte visie is ’n agterstevoorom-geskenk en lei tot superskerp-sensors. Dit het my ook voorberei en versterk vir my kanker- en breinreis wat sou volg. Ek leef ootmoedig dankbaar en brand graag kersies.

Laastens, Marcel Proust was reg: “The real voyage of discovery consists, not in seeking new landscapes, but in having new eyes.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!