Skip to main content

Jana van der Merwe, die ondersoekende redakteur van Netwerk 24, het ‘n geskiedenis van obsessiewe vervolging, meen ‘n boer van Bethlehem.

Johan Strydom sê hy het alles verloor nadat hy onder Jana se venynige pen deurgeloop het.

Hy vertel dat hy beroepsjagter was wat met honde gejag het. Die hondejagtery was omstrede en het party mense die harnas ingejaag. Uiteindelik het hulle hom aangekla.

“Hulle het geen gronde gehad om my aan te kla nie. Ek het goed vir my honde gesorg. Die saak het uiteindelik vier jaar geduur, en ek het alles verloor.

“Al my klante het onttrek en ek het geen inkomste gehad nie. Ek het later geen geld meer gehad om te baklei nie. Ek moes my paspoort ingehandig het, en ek kon geen bemarking buite die land doen nie,” het hy aan Die Waarheid vertel.

“Jana het heelparty stories oor die saak teen my geskryf. Elke Vrydag in die Vrystaat-koerant.”

Die venynige nuusdekking het daartoe bygedra dat sy openbare beeld tot niet is en dat sy sakebedrywighede gekwyn het, sê hy.

Laat in die saak het hy net mooi genoeg van haar gifpen gehad. Hy het ‘n hengse uitval met Jana gehad en hy het haar weggejaag.

“Ek en my vrou het vir jare net een keer ‘n dag geëet oor haar. Maar ons het weer opgestaan met die hulp van vriende. God slaap nie.”

Uiteindelik het hy in 2007 die saak gewen. Hy is onskuldig bevind aan dieremishandeling, maar skielik was Jana stom. Die nuus oor sy oorwinning is nooit in die koerant gepubliseer nie, ondanks die feit dat die hofsaak in detail gedek is, vertel Strydom.

Strydom sê hy herken die onvermoeide manier waarop Van der Merwe deesdae oor die diamantkoning Louis Liebenberg skryf. Dit is presies wat hy deurgemaak het.

“Ek het baie simpatie met hom. Ek weet wat hy deurmaak.”

Media24 se koerante, nuusdienste en televisiekanale het die afgelope vier maande 135 – feitlik deur die bank negatief en grootliks onwaar of verdraai – sensasieberigte oor Liebenberg gepubliseer, met die partydige Jana aan die spits.

“Daai ding is van die duiwel, man. Ek en Louis moet haar nie saam raakloop nie, daar sal f****l van haar oorbly. Ek weet nie of ek haar voete of kop gaan gryp nie.

“Die dag as hy hof toe gaan met haar, ry ek deur. Ek kan dit nie mis nie.”

Jana het ‘n dekfoto van Liebenberg op haar Facebookblad, wat kan dui op haar doelgerigtheid om die diamantkoning vir geen oomblik met rus te laat nie.

“Ek hoor sy trou binnekort. Ek kry haar man jammer,” sluit Strydom af.

Van der Merwe het by navraag gesê sy meen sy word verwar met iemand anders. Later het sy gesê sy het wel twee berigte oor Strydom geskryf.

“Strydom is in 2006 aangekla. Ek het in Junie 2007 by die koerant begin. Daardie Augustus het ek ‘n berig geskryf toe hy op die aanklagte in die hof verskyn. In 2009 het ek weer oor hom geskryf toe hy onskuldig bevind is en geen veearts hom glo wou help met sy verlamde worshondjie nie weens die klagte wat daar teen hom gemaak is.”

3 Comments

Leave a Reply

error: Content is protected !!