‘n Ongeluk op die N1, net voor die Rietfontein padstal voor Leeu Gamka in die rigting van Kaapstad, het vanoggend net na 05:00 die lewens van al vyf insittendes van ‘n silwer sedan geëis nadat hulle voertuig onder die agterste sleepwa van ‘n Logos Carriers trok wat by ‘n trok-rusplek uitgery het, beland het.
Volgens omstanders is die kar ‘heeltemal plat’ en die maak daarvan kon nie bepaal word nie.
Teen 08:30 was twee ambulanse en ‘n helikopter steeds op die toneel.
Sydney Volkwyn van Logos Carriers is nie seker wat gebeur het nie. “Die polisie het my net na vyf vanoggend gebel om van die ongeluk te vertel. Hulle het nie meer inligting gegee nie. Ek is juis nou besig om met my versekeringsmaatskappy te praat oor die ongeluk. Dit is vir my ‘n skok om te hoor dat mense hul lewens daar verloor het.”
Die pad was sedert net na die ongeluk versper van beide rigtings af, maar verkeer het teen -8:30 begin beweeg.