Skip to main content

Hoe meer dae hoe meer dinge. Want asof die onstuimige wêreld en dreigemente oor kernwapens inspan nie genoeg vrees inboesem nie, moet ons nou vir ‘n nuwe, ietwat ongewone vyand koes. Papawersaad – die sade van die geliefde en nederige papawerblom – is nou deel van die gevaar!

Dit volg ‘n nuwe waarskuwing van die Pentagon (Amerikaanse Weermagdepartement) aan sy soldate om alle kos en produkte met papawersaad versigtig te verbruik aangesien dit kan lei tot ‘n positiewe dwelmtoets. Dit sluit in gewilde bagels, muffins, rolletjies en ander gebak met papawersade in of bo-op.

Ironies, is die einste papawerplant wyd ‘n militêre simbool vanaf vroeg in die 19de eeu. Ná die slagtings in Napoleon se tyd was die land verwoes en kaal. Magies het rooi papawers toe begin blom rondom die lyke van soldate en sedertdien word die fyn blom met hoop en vrede vereenselwig. In die Eerste Wêreldoorlog is papawerblomme van materiaal gemaak om fondse in te samel. By vieringsdae ter herinnering van WO II-gebeure word rooi papawers tot vandag oral gesien, in van lapelgate tot op kleredrag, as juwele en in herdenkingskranse.

In sy memo Dinsdag, waarsku die Pentagon Yanktroepe egter nou teen papawersade wat die crunchy bolaag verskaf op veral broodprodukte en ook deel is van lekkernye en koekversiering. En ons dink al die tyd dis gesonde sade! Papawersade is ‘n oliesaad, afkomstig uit die opium papawerplant (Papaver somniferum) en word al duisende jare deur baie beskawings gebruik vir gebak, asook as spesery en vir papawersaadolie.

Gilbert R. Cisneros jnr, ondersekretaris van die weermag gemoeid met personeel en paraatheid, het Yanksoldate gemaan dat die inneem van papawersade daartoe kan lei dat die weermag se dwelmtoets positief is. Troepe word aangeraai om dit te vermy.

Die Washington Post berig dat die Pentagon laas jaar bewus begin raak het van die “papawersaad-probleem”. In die ondersoek wat gevolg het, is studies bestudeer en saam met ‘n laboratorium is die kodeiëne- en morfienvlakke in papawersaadprodukte ontleed. “Nuwe data wys papawersade het hoër kodeiënevlakke as voorheen gerapporteer. Dit kan inderdaad lei tot ‘n positiewe urientoets vir dwelms en die department se oogmerke ondermyn om onwettige dwelmgebruik uit te skakel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!