Skip to main content

Bianca Pretorius  – Kan ek jou vashou?

“Verlore liefde is ’n onderwerp wat selde bespreek, maar dikwels ervaar word,” vertel die mooi donkerkopsangeres van Vanderbijlpark, Bianca Pretorius, oor haar nuutste enkelsnit, Kan ek jou vashou? wat pas op radiostasies landswyd uitgereik is.

Dit is Bianca, wat so vars en uniek is soos ’n veldblom wat net iewers haar kop in die natuur uitgesteek het, se sesde enkelsnit.

En met dié snit, wat spesiaal deur Vincent Gordon vir haar geskryf, opgeneem en vervaardig is, bewys sy dat sy nie hoef terug te staan vir enigiemand in die Afrikaanse musiekbedryf nie.  Sy is baie bedrywig op ons land se verhoë en haar ondersteuners beskryf haar vertonings as energiek en lewendig.

Bianca, wie se stem so tussen Riana Nel se donkerhout note en Elizma Theron se vonkelwynsopraan dans,  is al amper twee dekades besig met haar musiekdinge. Sy het gedurende haar skooljare al begin sing. Terwyl ander talentvolle sangeresse besluit om maar eerder hul stemme by die kerk te oefen, het sy haar stem dik gemaak en nie opgehou om haar passie ten volle uit te leef nie.

Vir haar is stemoefeninge net so belangrik soos ’n harde oefensessie in die gimnasium. Dit is ook dié rede waarom sy haar stem en talent by die sangeres Rea le Roux slyp.

Haar uithouvermoë, lang ure in die ateljee, en nog langer ure op die verhoë het vrugte afgewerp, want sy is verlede jaar vir ’n South African Country Music Award én ’n Afri-Indie Musiektoekenning vir beste nuweling genomineer.

Bianca het sowat twee jaar gelede haar debuutalbum, Net een keer, uitgereik. Dié album, wat bestaan uit haar eie oorspronklike skeppings, is uitstekend deur plaaslike gehore en radiostasies ontvang.

Kan ek jou vashou? beweeg so tussen liefdespop en country, maar dit is veral die country-klanke wat dié liedjie soos ’n volstruis laat skop.

Die snit is nie ’n tradisionele liefdesliedjie in die ware sin van die woord  nie, maar raak aan onderwerpe soos beheptheid met dáárdie persoon wat jou nooit sal wil of kan lief hê nie.

Die titel van die snit is ook simbolies, ’n retoriese vraag waarop daar nie altyd ’n antwoord is nie.

Sy vertel: “Die snit neem jou op ’n emosionele reis van gevoelens; opwinding, verlies en behepte verliefdheid.“

Dié liedjie is pasknap perfek vir haar stem, wat afgerond en suiwer is.

Vincent het die liedjie ook uitstekend verpak en dit is tegnies baie goed versorg.

“Ek hoop dat almal – so tussen 18 en 80 – by die liedjie sal aanklank vind. Alle geslagte en generasies, want dit handel oor ’n tydlose onderwerp,’’ sê sy.

Bianca skop die amper-einde van die somer op ’n hoogtepunt af. Kan ek jou vashou? is pure luistergenot en ons hoop dat Bianca en Vincent weer kragte sal saamsnoer en nog baie liedjies neer-ink, want dié een is pure betowering.

Leave a Reply

error: Content is protected !!