Skip to main content

Groot breine skuif slim in klein karre …

’n Studie het onlangs bevind dat mense met hoë IK’s (intelligensie-kwosiënt) kleiner, kompakte motors bestuur. Dié interessante studie het ook gaan vasstel wat die kleur van jou keuse motor, asook jou persoonlike nommerplaat van jou IK verklap. Dié studie is oorsee gedoen, en kan dus plek-plek hier anders vertolk word want motorfabrikate verskil van dié in Suid-Afrika. Tog sit dit jou aan die dink. Steek daar dalk bietjie of meer waarheid agter die bevindinge? Die studie het boonop slegte nuus vir bestuurders van luukse BMW’s en Land Rovers! Gerald Eloff het met ʼn paar plaaslike bestuurders gesels om te hoor of hulle saam met dié studie se uitkomste stem.

Wat het intelligensie en bestuur of eerder met die keuse van jou motor in gemeen? Pas is bevind die wêreld se slimste bestuurders skuif glo agter die stuur van kleiner motors in. Dui dit daarop dat jy nie ʼn fortuin hoef te spandeer om te bewys dat jy iets tussen die ore het nie? Scrap Car Comparison, ʼn firma in Engeland, het ‘n interessante studie gedoen om onder meer te bepaal watter motorfabrikate mense met hoë IK’s verkies.

Suzuki vir die slimmes

Die Suzuki motorfabrikaat het in Engeland met die louere weggestap. Met dié studie is meer as 2 000 motoriste gevra om ʼn IK toets te doen, asook om die motorfabrikaat in hulle besit, neer te skryf. Toe die data verwerk is, is bevind dat Suzuki bestuurders die hoogste IK het met ʼn gemiddeld van 98.09%. Hierna het Peugeot gevolg met ʼn 97.79% en daarna Mini Cooper (97.41%). In die vierde en vyfde plek was Mazda (95.91%) en Toyota (95.76%). Die afleiding hieruit is dat “slim” motoriste bekostigbare, kompakte motors as vervoermiddels verkies.

Van die 21 motorfabikate wat deel van die studie was, het BMW (91.68%) en Land Rover (88.58%) die heel slegste gevaar!

Kleur van jou motor veklap ook iets

Die studie het voorts gewys dat motoriste met hoër IK’s kies wit, grys en ander monochroom motorkleure, terwyl motoriste wat helder motorkleure verkies slegter in die IK toets gedoen het. Groen is uitgewys as die gekose kleur van mense wat die swakste in die toets gevaar het.

… en daai persoonlike nommerplaat?

Interessant, beweer die studie dat mense wat geld spandeer op ‘n persoonlike nommerplaat, se IK laer op die skaal (91.95%) meet. Daarteenoor was die mense wat standaard-nommerplate verkies (94.15%). Laastens, bestuur mense met hoër IK’s petrolmotors (94.35%), vergeleke met hibriede motors (93.89%) en dieselmotors (92.91%).

Dit kan genoem word dat die studieleier wel melding maak dat deelnemers se gemiddelde IK tussen 85 en 115 is, so die verskil op die IK-skaal is relatief klein. Maar hoe voel ons eie motoriste hieroor? Hier is tog heelwat faktore wat ʼn eiesoortige rol speel op plaaslike bodem soos bekostigbaarheid, status en veiligheid. Of klik dit tog iets van daai BMW-bestuurder wat altyd op die snelweg op jou stert sit?

Die akteur Germandt Geldenhuys vind dié studie bietjie verdag. “Ek dink dis moeilik om ‘n direkte korrelasie tussen IK en karkeuse te bevestig … dit klink effens vergesog. Daar is vir my wel ‘n verwantskap tussen hoe laag jou IK is en hoe veel van ‘n padvraat jy is. Toevallig ry die meeste padvrate, mynsinsiens, wel BMW’s. Hey, miskien het die studie tóg ‘n punt beet.”

Hannes Barnard, Afrikaanse fiksieskrywer, glo dat die meeste karre in Suid-Afrika met goeie rede wit is. Dis die feit dat wit karre “koeler” as swart karre, onder Afrika se bloedige son is. Hulle herverkoopwaarde is ook beter. Dié tendens geld nie in Engeland nie. “Ek dink nie daar is ʼn direkte verband tussen IK en die kleur van jou motor in Suid-Afrika nie. Ek dink wel dat status ʼn baie groot rol speel hier. Daar steek dus dalk tot bietjie waarheid agter die studie – ʼn denkende mens sal die nut insien van ʼn meer ekonomiese, goedkoop voertuig, pleks van ʼn motor van oor die miljoen rand.”

Riaan Grobler, ʼn teksredakteur van Johannesburg, voeg by: “Dis volgens my spekulatief om ʼn verband te trek tussen mense se intelligensie en die motors wat hulle ry. In die Suid-Afrikaanse konteks is daar tog ʼn paar motors waaroor vraagtekens by my hang. Een van hulle is die Ford Ranger – spesifiek die Wildtrak. Dit is swaar op petrol of diesel, nie omgewingsvriendelik nie en parkeer moeilik. Hoekom só bakkie koop? Dit geld ook die Ford Mustang met dieselfde negatiewe eienskappe. Wat is die beweegrede om só ʼn motor aan te skaf? Dis net nie prakties nie,” wonder Riaan.

Wanneer dit kom by ʼn verband tussen intelligensie en die motor wat jy kies, sê sy logika vir hom dat meer intelligente mense meer praktiese keuses sal uitoefen. “Dink byvoorbeeld aan Volvo – dis vir my ʼn merker van intelligensie as iemand ʼn Volvo aanskaf. Dis dalk nie die opwindendste keuse nie, maar dit is prakties en veilig.”

Hy meen ook in die toekoms sal ʼn mens meer ʼn kousale verband tussen intelligensie en keuse van motorfabrikaat kan maak, met die aankoop van omgewingsvriendelike, elektriese motors. “Europa poog reeds om teen 2030 net elektriese voertuie te vervaardig. Hier sal ons moet sien hoe lank dit neem, aangesien die Suid-Afrikaanse ekonomie gevoed word deur vervaardiging soos dit nou lyk. In kort, meer intelligente mense kies meer praktiese karre, minder intelligente mense kies maar wat hulle wil. Dis almal se reg en keuse.”

Riaan het wel ʼn vraag aan BMW as motorvervaardiger: “Dit kom voor, uit persoonlike ervaring, dat BMW steeds nie flikkerligte aan hulle karre behoorlik kan laat werk nie. Hoekom nie?”

Hoe dit ookal sy, die blink bestuurders van dié gewilde, duurder wiele sal hul laagste plek op die studielys hand en tand wil beveg. Laat ons dus hardop hoop jy ry nié ʼn groen BMW met ‘n nommerplaat wat lees: The Boss nie!

Leave a Reply

error: Content is protected !!