Skip to main content

Hangkas Cloete

 Aubrey Baartman

Isaac Cloete

Twee beskuldigdes het verlede week behoorlik klei getrap in ‘n groot tenderbedrogsaak.

Hulle is Nevie Aubrey Baartman en sy jarelange vriend, Zihaadt “Hangkas” Cloete van Springbok. Hulle staan tereg op bedrogklagtes van ongeveer R80 miljoen. .

Die saak handel onder andere oor beweerde tenderbedrog van R79.9m. Dit het gedurende 2013 gebeur toe Baartman die munisipale bestuurder van die Nama Khoi munisipaliteit (NKM) op Springbok was, volgens Nomthandazo Mnisi, die Valke se woordvoerder.

Dinsdag het die staatsaanklaer vir Zihaadt daarvan beskuldig dat hy en Baartman ‘n vrienskaplike verhouding gehad het. Dit het veroorsaak dat die tender aan hom toegeken was.

Zihaadt het deurgaans die staat se bewerings tydens kruisondervraging ontken. Hy het ook gesệ dat hy nie sal toelaat dat die staatsaanklaer woorde in sy mond plaas nie.

Die staat het verder beweer dat Baartman en Zihaadt se oorlede suster in ‘n verhouding betrokke was. Die staatsaanklaer het aangevoer dat die “hele Springbok gepraat het van hulle hoerdery”.

Tydens kruisondervraging deur sy regsverteenwoordiger, het Baartman die verhouding ontken. (Die suster het intussen in ‘n motorongeluk gesterf, terwyl sy en Baartman, asook iemand anders, op pad na Kimberley was.)

Die staatsaanklaer het gereeld dit aan Baartman gestel dat hy nie sy vrae beantwoord nie, maar dit ontwyk. En dat hy nie die voorskrifte soos bepaal deur finansiele wetgewing nagekom het nie. Hy het vir Baartman beskou as ‘n roekelose en onverantwoordelike munisipale bestuurder; iemand wat die munisipale finansiële wette geïnterpreteer het soos dit hom pas.

Voor die staat sy saak gesluit het, het hul advokaat aan Baartman gesệ: “U het saamgewerk met mnr Cloete om nie sy betrokkenheid by ander maatskappye te openbaar nie. U het ‘n gemeenskaplike oogmerk met hom gehad om hom te bevoordeel en bedrog gepleeg.”

Baartman het dit ten sterkste ontken.

Luidens Nomthandazo Mnisi, die Valke se woordvoerder se verklaring, was Zihaadt en sy vrou, Maralise Cloete, (boesemvriende van Baartman) die alleen-direkteure van die konstruksie-maatskappy MPG Construction.

Laasgenoemde het toe na bewering die onregmatige tender gekry om plavei- en randsteenwerk te doen. Hierdie maatskappy, as ‘n regs-entiteit, was dus ook aangekla van bedrog.

Die maatskappy het ook nie aan die vasgestelde kriteria voldoen nie, luidens dokumentasie. Ook was die korrekte verkrygingsproses nie gevolg nie en glo doelbewus verontagsaam.

Afriforum op Springbok was die klaers in die saak. Eers in June 2021 was die drie, asook die maatskappy MPG Construction, gedagvaar om in die hof te verskyn. Maralise kon in Januarie nie met die bedrog verbind word nie en was vrygespreek op die bedrogklagtes.

Die twee beskuldigdes se regsverteenwoordiger was woedend toe Die Waarheid se joernalis sy naam en van wou weet.

Die saak gaan intussen op 3 Mei voort waar die slotargumente van die partye aangehoor sal word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!