Skip to main content

Foto: Francois van Zyl

Wen koffie-geskenkpakke! Henriëtte Marx gesels oor haar liefde vir koffie en die groei van haar maatskappy Coffee Excellence.

Elri Boucher

Koffie het op ’n jong ouderdom deel geword van die besigheidsvrou en TV- persoonlikheid Henriëtte Marx se lewe. “Ek onthou as kind het ons by my oupa op sy plaas naby Paul Roux in die Vrystaat gaan kuier en hy het vroegoggend koffie op sy ou koolstoof gebrou. Ek het met die geur van koffie wakker geword en dan het ek na die kombuis gegaan, ’n koppie geniet en met my oupa gesels,” vertel Henriëtte met heimwee. Haar oupa is oorlede toe Henriëtte nog jonk was, maar hy en sy koffie het  ’n groot impak op haar lewe gehad en na ’n suksesvolle loopbaan as kommersiële bestuurder by ’n logistieke maatskappy het Henriëtte haar koffie-droom nagejaag,  bewaarheid en vandag is haar koffiemaatskappy Coffee Excellence 12 jaar oud en spog met ’n splinternuwe winkel in die Kaap.

Die koffiewinkel het in Januarie vanjaar sy deure in die voorstad van Century City, Kaapstad oopgemaak en volgens Henriëtte is dit ’n groot eer. “Ons het die geleentheid gekry om hande te vat met die koffiemasjien maatskappy, Jura, wat ’n deel is van die nuwe koffiewinkel,” sê Henriëtte. “In die winkel het ons showrooms vir die Jura masjiene, Coffee Excellence produkte, asook ’n Espresso bar waar kliënte op hulle gemak na kan kom kyk en proe en besluit of hulle saam met ons op ’n koffie avontuur wil gaan.”
Tans het Henriëtte en haar maatskappy ’n promosie met Jura waar jy ’n Jura masjien maandeliks kan huur en ’n vars pak koffie elke maand kan kry. “Daar is verskeie pakkette en opsies om van te kies en die wat belangstel kan ons gerus kontak by hoofkantoor in Gauteng 016 100 9777 of Kaapstad by 021 200 0796,” sê Henriëtte.

Henriëtte Marx Foto: Willem Botha

In 2020 het Henriëtte haar debuut op TV gemaak met haar eie leefstylreeks Net Koffie op DStv se Afrikaanse kanaal kykNET (144). In seisoen 1 het sy na Nicaragua gereis en meer oor die land se unieke koffie-industrie geleer, in seisoen twee het sy ’n draai in Colombia gemaak en in seisoen 3 in El Salvador. In elke seisoen (tans op die aanlyn stroomdiens Showmax beskikbaar) het sy ook lekker gekuier saam met bekendes soos sepiesterre Hykie Berg (Conrad in die sepie Binnelanders), Gantane Kusch (Siya in Suidooster), asook sangers Willem Botha en Coenie de Villiers met ’n koppie boeretroos en het ook bedrywig agter die kospotte geraak en smaaklike geregte met koffie as bestanddeel gemaak. Ons mond water al klaar wanneer sy praat van ’n dekadente donkersjokolade koek met koffie, of ’n kaaskoek met koffie, maar dis haar filet met koffie wat sy saam met die oud Springbok en TV-aanbieder Toks van der Linde in seisoen 1, episode 10 van Net Koffie gemaak het wat ons rasend honger maak. “Daardie is ’n heerlike resepte en ek en Toks het so lekker saam gebraai toe ons daardie episode verfilm het,” sê Henriëtte.
Nou is die vraag is daar ’n vierde seisoen in die pyplyn in 2023? “Ek het nie enige konkrete planne op die stadium nie. Ek het besluit om 2023 toe te wy aan my besigheid en my gesin, maar ek het nog nie die deur op Net Koffie toegemaak nie,” sê Henriëtte.

Swart en warm: Dis hoe Henriëtte van haar koffie hou. “Geen suiker nie, dis net ek en die bone,” sê Henriëtte wat vele verskillende koffiesoorte per dag kan drink en ’n sagte plekkie het vir ’n stewige Macchiato (espresso met melkskuim of gestoomde melk). Op haar maatskappy se webtuiste coffeeexcellence.co.za kan jy gaan loer watter smaaklike koffieprodukte sy verkoop soos haar ikoniese Cup A Ground koffiesakkie wat vanjaar 10 jaar oud is. Dit bevat fyngemaalde koffie in ’n gefiltreerde sakkie wat twee vlerkies aan die kant het wat jy oor ’n koppie hak. Jy voeg kookwater by wat die koffie filtreer en dan gooi jy die sakkie weg.
“Ek kan nie glo ons het sover al gekom nie. Dis ’n wonderlike produk en ek wil net dankie sê aan elke personeel lid by Coffee Excellence wat my gehelp het om my koffiedroom ’n werklikheid te maak. Ek is geweldig dankbaar om elkeen in my span te hê, sonder hulle sou ons nie die sukses behaal het wat ons vandag het nie. Ons is een groot koffie-familie.

*Kompetisietyd: Jy kan een van vyf gelukkige wenners wees wat ’n koffie-geskenkpak ter waarde van R4000 (ongeveer R787 per geskenkpak plus koerier koste) kan wen! Kontak ons op Facebook Messenger en verskaf jou kontakbesonderhede en beantwoord die volgende vraag: Waar is die nuwe Coffee Excellence winkel?

*Lesers kan ook 10% afslag op sekere produkte op Coffee Excellence se webtuiste kry wanneer hulle die volgende koepon kode: 10CEMEDIA gebruik.

Leave a Reply

error: Content is protected !!