Skip to main content

Isaac Cloete

Nog ‘n Namakwalandse pasiënt het gesterf in ‘n voorval waarby ‘n pasiëntbussie betrokke was.

Die tragedie het Sondagaand gebeur terwyl die pasiënt per bussie vanaf Springbok op pad na die hospitaal in Kimberley was.

‘n Bron na aan die voorval het later bevestig dat die pasiënte van Namakwaland vir tot 12 ure  in die bussies moet sit.

Indien hulle klaar ‘n dokter gesien het of behandel was, moet hulle onmiddellik vanaf Kimberley na Springbok terugreis. Dit beteken weer ‘n ellelange 12 uur in die bussies tot by Springbok, wat 800km verder is.

Hierna moet hulle nog soms vir ure wag dat iemand hulle na hulle onderskeie dorpe kan vervoer. Van die dorpe is soms meer as 200 kilometers vanaf Springbok.

Inwoners kla ook dat daar tans geen oornaggeriewe vir Namakwalandse pasiënte en die bestuurders van pasiëntebussies by die Kimberley-hospitaal is nie.

Dus moet die moeë bestuurders dwarsdeur die nag ry. Dit skep ‘n groot veiligheidsrisiko vir die pasiënte weens die grootwild soos koedoes, ensovoorts, wat oor die nasionale pad beweeg en in die bussies kan vashardloop.

Namakwalanders is verder die hel in omdat die bespreking van ambulanse die afgelope jaar onder die Upington se mediese nooddienste (EMS) val. Met ander woorde hulle moet nou na ‘n sentrum bel wat 400km vanaf Springbok is.

Dit beteken dat ambulanse nooit betyds of glad nie by hulle bestemmings opdaag nie. Veral tydens noodgevalle.

As gevolg hiervan het ‘n oom van Komaggas onlangs ook gesterf omdat die ambulans nooit opgedaag het nie, het sy familie vertel.

Die waarnemende hoof van die beheersentrum van EMS op Springbok, Ayabonga Somi, het so op die ongelukkighede en frustrasies geantwoord:

“Ons probeer om die ritte na Kimberley hospitaal te reël soos voorheen. Ons wil dus net twee keer per week hierheen gaan. Die pasiënte word Sondae met ‘n groter bussie vervoer. Dan bly hulle daar tot ons Donderdae weer die bussie stuur. Vrydae kom hulle dan weer terug na Springbok.”

Volgens Somi was geskikte akkommodasie vir die pasiënte nog altyd die probleem. Hulle werk egter aan ‘n plan om dit uit te sorteer.

Hy het verder gesê dat dit baie duur is om elke dag met n pasiënte-bussie na Upington en Kimberley te reis. Maar dat dit ook onveilig is om ambulansdrywers en pasiënte daagliks so ver te stuur.

Ten slotte het hy gesê: “EMS het nie hulle eie gebou op Springbok nie, maar gebruik die gebou van die Namakwa Distriksmunisipaliteit. Intussen word EMS in Upington gedigitaliseer, want die tegnologie is daar.”

Somi hoop egter dat persone van Namakwaland by die EMS-sentrum in Upington sal kan gaan werk.

Dit sal veroorsaak dat ambulanse vinniger na ‘n plek in Namakwaland gestuur kan word omdat die persone die area baie goed ken.

Leave a Reply

error: Content is protected !!