Skip to main content

Wêreld verenig vir eers ná aardbewings verwoesting saai

‘Bid vir ons. Die situasie is kritiek,’ laat weet ‘n Suid-Afrikaanse vriendin uit die Turkse hoofstad. Ondanks oorloë en onstuimige tye oraloor is die internasionale gemeenskap se oë en harte vir eens verenig gefokus op Turkye en Sirië waar kragtige aardbewings vandeesweek ingeruk het. Met reuse skade en verliese – die dodetal klim vinnig na 13 000 wyl derduisende geboue en huise in puin gelê is en nog hordes dreig om in te vou. Noodtoestande en routydperke is in beide lande afgekondig. Dié nuutste natuurramp laat die 9/11-terreuraanval waarin 3 000 mense dood is, na ‘n vulletjie lyk. Vir ‘n wyle staan die mensdom dus weer saam – selfs die oorloggeteisderde Oekraïne het hulp gestuur. Suid-Afrikaners is deel van die bykans 120 000 reddingswerkers uit 70 lande wat te midde van die grootskaalse chaos en hartverskeurende tonele help, skryf Sonnette Lombaard.

 

Bekend asTurkoois Towerland en lank een van die top-toerismebestemmings op Aarde, het Turkye die laaste handvol jare ook diep in die harte van miljoene Suid-Afrikaners van alle ouderdomme gekruip. Dié oeroue, interessante land met sy ongeëwenaarde geskiedenis is egter tans in asvaal rou gedompel nadat kragdadige aardbewings groot dele van minstens tien provinsies in puin gelê het. Ver verwyderd van die Turkse TV-reekse wat dié beeldskone reuse-land en sy mooi mense vermaaklik afwys en ook hier in Afrikaans oorgeklank word; waarmee plaaslike kleinkassiekykers saans op ‘n towertapyt na Turkye ontvoer word en soos die res van die mensdom nie genoeg kry nie van die talentvolle Turke se keurige kykkuns.

Terug na die harde werklikheid, steier Turkye en sy oorloggeteisterde buurland Sirië egter tans waar apokaliptiese tonele 24/7 ontvou. Dit volg die reusagtige aardbewings wat sedert Maandagoggend een ná die ander die twee lande verniel en plek-plek platvee. Teen die vierde dag (Donderdag) het die dodetal reeds tot 13 000 gestyg met 8 000 mense wat gered is en nog derduisende geboue en huise wat dreig om inmekaar te vou. Intussen voorspel die Wêreldgesondheidsorganisasie die dodetal kan tot 20 000 toeneem en dat meer as 23 miljoen mense deur die ramp geraak sal word. 62 914 mense is beseer.

Die gewelddadige aardbewings het vroeg Maandagoggend getref wyl die Turke in die land se suidooste, naby aan die Siriese grens, geslaap het. Verskeie kragtige náskokke, ook verder aan, het gevolg – die aardbewings het hoër as 7 op die Richterskaal gemeet. Intussen trotseer groot spanne reddingswerkers én inwoners in bitterkoue winterweer van minus 8 grade die puinhope en dik sneeu in ‘n poging om nog lewens betyds te red. Dis veral beeldmateriaal van die vasgekeerde babas en kinders wat van onder die puinrommelhope lewend boontoe gebring word, wat harte grensloos ruk.

Massiewe reddingsaksies is onderweg. Bykans 120 000 reddingswerkers, insluitende mediese personeel, asook snuffelhonde van 70 lande verleen tans in die twee lande dringende noodhulp. Dit sluit in die Suid-Afrikaanse Gift of the Givers-organisasie. Baie lande stuur ook mediese voorrade en lewensmiddele soos kos, klere, komberse en tente om die miljoene mense te help wat beseer is en/of oornag sonder ‘n heenkome en met niks sit. Oorkant die grens in Sirië is die situasie meer benard weens die langdurige oorlog met baie van die reeds gebrekkige basiese dienste en infrastruktuur nou verwoes. Van die mees geaffekteerde gebiede daar is afgesny en moeilik bereikbaar en boonop is Sirië se betrekkinge met Westerse moondhede weens mensvergrype broos.

Daarteenoor is Turkye lank ‘n kern-bondgenoot van die Weste. Die groot land se ligging tussen die Weste en Ooste, maak Turkye, ‘n Navo-lidland, ‘n strategiese bondgenoot in die onstuimige internasionale geo-politiek. Hoewel dit ‘n Moslemland is, spog Turkye met ‘n ryk geskiedenis wat al die groot gelowe en kernheerskappye insluit en het oorhoofs ‘n moderne Westerse aanslag.

Hoewel vandeesweek se aardbewings die sterkste in bykans honderd jaar in Turkye is, is aardskommelinge niks nuut in dié streek nie. Drie verskillende tektoniese plate loop deur of naby aan Turkye en sorg vir gereelde seismiese aktiwiteite. Wanneer wrywing tussen die plate ontstaan, lei dit tot aardbewings, wat die lande daar met reëlmaat teister.

Iets waarvan die Suid-Afrikaner Woudrina Ekinci (nee Otto) eerstehandse ervaring het. Volgens haar leef die Turke met aardbewing-trauma saam. Woudri, ‘n Noodwes-boorling, woon sedert 1994 in die Turkse hoofstad Ankara. Sy en haar Turkse ingenieurman het hier by Wits ontmoet en getrou en daarna twee kinders, nou 21 en 27 jaar oud, in sy tuisland grootgemaak.

“My seun was drie toe die reuse-aardbewing van 7.4 Istanboel in 1999 getref het.” Dit het Turkye se westekant, insluitende Ankara lamgelê en 17 000 mense het omgekom. Hulle het nagte in hul motor deurgebring te bang om binnenshuis vasgekeer te word, onthou Woudri. “Midde-in so intense ramp wis jy dat jy nie te diep moet voel en dink nie, eers moet fokus op oorlewing. Later word die spoke lewendig. Dit laat diep merke wat jy nooit kan afvee nie met die post-traumaties stres wat kleef.”

Nou herleef die nagmerrie van vooraf, vertel ‘n hoorbaar-verslae Woudri vanuit Turkye. “Maandagoggend het ek vroeg met ‘n onrustige gemoed wakkergeword. As jy ‘n aardbewing deur is, ken jy daai vreemde vooraf-gevoel. Met ‘n beklemmende hart wis jy wat in aantog is.”

TV-beelde het gou die vrese van die verwoestende vernietigingspoor in Turkye se suidooste bevestig. “Ons het so twee ure daarvandaan ‘n vakansiehuis. Dis ‘n besondere streek met baie geskiedkundige geboue en ‘n ryk kultuur. Alles daar ruik na geskiedenis. Om te sien hoe dit eensklaps rommel word, was hartverskeurend.”

Nog erger is die massa-lewensverliese, veral as jy mense ken wie se naastes steeds onder die rommel vasgekeer is, vertel Woudri. “Die tonele van die babas en kinders wat uit die puin gered word, laat jou van pyn dubbel vou. My hart gaan uit na elkeen – hierdie soort smart en terselfdertyd wonderwerke wat volg, is ingeprent in diegene wat dit deur is.”

Volgens Woudri is sulke trauma opvallend erg in lande waar familiebande sterk figureer, soos Turkye. “Dis ook aangrypend om te sien hoe reddingswerkers in absolute stilte voortsoek – te bang praat sal vasgekeerdes se noodkrete uitdoof. Geliefdes drom ook saam by die puinhope en roep onverpoos na hul naastes, party graaf self met hul kaal hande daarin met die hoop om hulle te hoor en nog lewend te vind.”

Woudri wat in teaterkunde en as grafiese kunstenaar opgelei is, is benewens Afrikaans, Engels en Turks ook genoegsame Grieks en Italiaans magtig. Sy hoop om binnekort handig te raak in die opruimingsaksies. Haar tuishart het trots gehuil toe sy sien dat Suid-Afrikaners ook onder die reddingspanne tel, voeg Woudri by. “Dis die mooier gesig van hierdie hel. Mense wat ondanks alle verledes en huidige spanninge dadelik hande vat en verenig hierdie krisis hanteer.”

Inderdaad want wyl hierdie nuutste natuurramp pynlik is om te aanskou, wys dit hoe vriend en vyand in nood vrywillig hande vat en uitreik. Getuienis van ‘n moderne mensdom wat steeds lewe respekteer en met erbarming en menslewendheid mekaar wil ondersteun. Soos Woudri raakvat: “Dít glimmer helder hoop in die dikwels donker en deurmekaar tye wat ons tans bereis.”

Leave a Reply