Chinese afloerballon en Oscars hou mensblik gefikseer na bo
Te midde van verwoestende natuurrampe, helder supersoniese vaartbelynde vegvliegtuie tans ons nuusradars skouspelagtig op. Wyl die Yanks ‘n Chinese spioenballon sekuur met ‘n enkelmissiel uit die hemelruim neergevel het, loop Oscar-koors op Moeder Aarde hoog met die hoop dat bobaas-doekvlieënier Tom Cruise se triomfantelike terugkeer in Top Gun2 aanstons as die fliek van die jaar bekroon sal word. Sonnette Lombaard loer na die Chinese se astrante afloertrieks en gesels met een van ons top-oudvegvlieëniers oor die spoed-lugblitse wat oud en jonk tydloos bekoor.
“Die geknetter-raas van die vegvliegtuig soos die krag doer bo toeneem wyl die reuse-voël wat jy beheer al vinniger deur die lug klief, trek jou gesig plat en jou borsbeen begin tril. Dis ‘n surreale onaardse sensasie wat jy nie op die grond kan naboots nie.”
Aan die woord ‘n held wat wis – lt.kol. Koos Kieck is een van ons mees ervare vegvlieëniers wat dikwels die voorreg gehad het om die sensasie van spoed eerstehands te ervaar. Soos die Mach-euforie wanneer jy deur die klankgrens bars. “Die Aarde smelt dan weg vanuit jou klein kajuit agter die stuur van jou supervinnige en peperduur masjien wat jy grasieus deur die lug navigeer,” vertel hy. Dis hoendervleis-stil in die kajuit wanneer jy deur die spoedgrens breek, maar onder op die Aarde volg ‘n knal as getuienis van mens-en-masjien-vernuf.
Kieck is oudbevelvoerder van die 85 Geveg Vliegskool oftewel ons eie Top Gun-skool in die Laeveld waar ons beste jong vlieëniers in top-vegvlieëniers geslyp is. Die Waarheid het dié veteraan met meer as ‘n halfeeu se ervaring in die vegvliegkuns gepols oor die supersoniese blitse wat tans die kollig annekseer.
Dit volg ‘n naweek van hoogdrama met wêreldvrede opnuut in die gedrang, nadat ‘n oënskynlike vreedsame wit ballon uit Chinese kontrei in die Weste kom draai het. Want wyl die Russiese beer Vlad Putin se oorlogspeletjies in die Oekraïne voortwoed, grom die ander twee grotes toenemend vir mekaar in die supermagstryd. Die brose verhouding tussen die VSA en China het ‘n vars wond nadat die verdagte Chinese lugballon die Amerikaanse lugruimte ingesypel het. Hoewel die Chinese volgehou het dis bloot ‘n onskuldige burgerlike weerballon wat van koers was, het die Yanks dit as ‘n spioenballon geteiken. Die lugindringer is Saterdag ná ‘n Withuisopdrag skouspelagtig oor die see langs Suid-Carolina neergeskiet.
Pres. Joe Biden het daarna breëbors via die media die Amerikaanse Lugmag en vegvlieënier van die supersoniese F-22 geloof vir sy akkurate neerskiet van die reuse-wit ballon. Dit het gevolg op ‘n week van volgehoue druk vanuit veral Amerikaanse regse politieke kringe, asook van gewone burgers om die Chinese se astrante aggressie terstond stop te sit en die Oosterse magsland in eie munt terug te betaal.
Intussen word wrakstukke van die ballon se toerusting steeds uit die see gehaal vir leidrade oor wat dit afgeneem het. En word ‘n tweede, soortgelyke vreemde Chinese lugballon oor Venezuela en Latyns-Amerika deur die Amerikaanse Weermag dopgehou.
Die afgeskiete afloerlugballon het vanuit Kanada oor die grens gevlieg en vir lank bokant die staat Montana gehang, waar Amerikaanse kernmissiele gestoor word. Dié strategies-sensitiewe kernmissielaanleg daar heet hoeka Doomsday Base.
Die presisie waarmee die lugoperasie uitgevoer is om die verdagte ballon eensklaps te laat disintegreer, laat patriotiese Amerikaners se harte bult. Hoewel beeldmateriaal wys hoe die missiel vanuit die F-22 Raptor die ballon oombliklik in flarde skiet, moes dit vooraf haarfyn beplan word. Daar is gewag dat dit eers oor die see is, uit vrees dat die neervel daarvan oor land menslewens in gevaar kon stel.
Nogtans meen Kieck dat die Yanks te lank gewag het. “Jy laat nie die vyand ’n week lank ongehinderd in jou agterplaas rondloer nie.”
Reuse-lugballone gevul met helium en toegerus met kameras, radars en sensors word al lank gebruik vir spioenasie omdat radars dit moeiliker optel. Dit kan hoër vlieg as vegvliegtuie, tot sowat 120 000 voet en word deur solarpanele aangevuur.
Die F-22 Raptors wat vanuit die Langley-lugmagbasis ingespan is, kos $200 miljoen stuk. Dit het ‘n topspoed van 1 500 mph tot op ‘n maksimum hoogte van 65 000 voet, en is toegerus met superhaastige missiele, wat teen 1 900 mph vlieg. In ‘n simboliese stap, het die F-22s Saterdag die roepsein “FRANK” gebruik as ‘n huldeblyk aan ‘n landgenootheld in die Eerste Wêreldoorlog. Die brawe lt. Frank Luke jnr. het die bynaam die Arizona Balloon Buster verwerf nadat hy 14 Duitse observasie-lugballonne suksesvol in net 17 dae afgeskiet het.
Kieck bevestig dat die afskiet makliker lyk as wat dit is. “Jy moet in die lug teen supersoniese spoed die vegter se geweerpunt in ‘n presiese blok na die teiken kan rig voor jy jou missiel afvuur. Dít verg baie oefening en gefokusde toewyding.”
Inmiddels het die sensitiewe betrekkinge tussen die twee wêreldmoondhede blitsig afgekoel, en is die voorgenome kernbesoek van Anthony Blinken, die Yanks se minister van buitelandse sake, aan China gekanselleer. China het die VSA ná die neerskiet van oordadige optrede beskuldig en gedreig om die nodige retaliasie-aksies te neem.
Dit is haas nie al lugskouspel in die nuus nie. Met die pasafgelope aankondigings van die Oscar-benoemings is Top Gun: Maverick welverdiend vir ses pryse benoem. Dié afgewagte opvolg 36 jaar ná die oorspronklike lokettreffer Top Gun (1986) was soos sy voorganger ‘n wegholwenner. Dit word geprys as die fliek wat laas jaar mense oraloor na teaters laat terugstroom het. Rolprentteaters se deure moes sluit en sommiges het gesink tydens die Covid-inperkings, wyl teaters reeds onder druk was weens die gewilde stromingsdienste.
Niemand stry wat die Top Gun-flieks as eietydse kulturele fenomene tydloos vir supersoniese vegvliegkuns, vegvlieëniers én hul sexy sonbrille en natuurlik patriotisme doen nie. Die oorspronklike Top Gun het F-14A Tomcats net so gewild as superster Tom Cruise gemaak, wyl hy in die opvolg die kollig met die nuwerwetse F-18 Super Hornets moes deel. Cruise en sy blink span agter Top Gun: Maverick en miljoene aanhangers moet tot 12 Maart wag om te sien of die opvolg skermskouspel by vanjaar se Oscars in Los Angeles bekroon gaan word.
Kieck, wat van albei flieks hou, meen die opvolg is meer realisties. Hoewel hy die mens se verwondering oor vegvliegkuns kry, is akkurate verstaan oor wat dit vat om ‘n top-vegvlieënier te wees en veral te bly, helaas gebrekkig. “Die hemelruim is ‘n ongenaakbare omgewing en jy kry fisies seer – dis veral swaar vir jou hart en longe om daarbinne te funksioneer. Boonop moet jy dikwels in gespanne en taai situasies nugter en flink presteer want die tweede prys is meestal die dood. Dis nie vir almal nie.”
Die agteruitgang van die SA Lugmag wat die naasoudste lugmag in die wêreld is, maak Kieck hartseer. Eens het ons vlieëniers oor grense gepronk want vanaf die draai van die 20ste eeu moes met ons lugvernuf rekening gehou word. Daar was skitterende lugoperasies van die 1922-mynstaking op tuisbodem tot kerngevegte in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, veral in Italië en Wes- en Noord-Afrika. Herhaal in die Koreaanse oorlog in die 1950s. In WO II het die SAAF ‘n groep fighter aces opgelewer – vlieëniers wat vyf of meer vyandvliegtuie in luggevegte kon neerskiet.
Nader tuis, het die lugmag in die Rhodesië-oorlog uitgehelp en sy trotse rekord voortgesit in die Bos-grensoorlog in Suidwes-Afrika en Angola waar ons Mirage F1s-vegvliegtuie in die1980s suksesvol ontplooi is teen die Russiese MIG-21s van Angola.
Daar was ook ander inheemse prestasies in lugvaartkuns midde-in die isolasiejare. Toe Suid-Afrika in die latere fase van die Grensoorlog agter raak teen die nuuste Russiese en Kubaanse lugvegters is met die hulp van Israelse tegnologie ‘n nuwe lugblits ontwikkel. Die Cheetah D-vegvliegtuig was op die IAI Kfir geskoei. Suid-Afrika het in dié tyd ook verskeie lugmissiele ontwikkel.
Met die beëindiging van die Grensoorlog en die infassering van demokrasie post-1994, is die rol van die SA Lugmag egter afgeskaal. Aanvanklik is ons lugvloot steeds versterk met nuwe tipes lugvegters soos die Gripen- en Hawk-vegvliegtuige, asook die Rooivalk-, Atlas Oryx- en Lynx-helikopters. Verdere begrotingbesnoeiings het egter die slaankrag bly inperk en vliegure is drasties ingekort. Talle ervare lugmaglede het terselfdertyd die pad gevat en teen 2021 se einde was al die Gripen-vegters gehalt.
Nuwe hoop het laas jaar opgeflikker toe ‘n ooreenkoms met die lugreus Saab gesluit is om oor drie jaar 13 van dié Gripens weer vlieggereed te kry. En ondanks geldnood en terugslae, speel die lugmags steeds ‘n sigbare rol in nasionale veiligheidsoperasies hier en verder op die vasteland.
Kieck se hart bloei oor die agteruitgang. “Dis bitterswaar om te sien dat mense wat geen benul het van die lugvaartbedryf nou in beheer daarvan is. Dat wanbesteding en wanbestuur gelei het tot geen brandstof vir vliegtuie wat gegrond is. Die uitvloei van kosbare kundigheid is nog meer hartverskeurend. ‘n Era is verlore vir altyd.”
Elders bly lugkuns betowered en is een van die moderne mens se blinkste prestasies. Beeldskone supersoniese lugwonders bly luglangs én grondlangs onweerstaanbaar opwindend en verdien die status as popkultuurikone. Mars kan wag – ons salueer die rocksterre van die lugruim wat koelkop bly in drukkokertye en hoog oor ons koppe klief om te gaan doen wat hulle moet. Soos pas in Yankland.