Skip to main content

Amerikaanse president Joe Biden is gereeld onderbreek deur ‘n geboe en geskree tydens sy staatsrede, met die Republikeinse Marjorie Taylor Greene van Georgia wat hom ‘n “leuenaar” genoem het nadat hy die Republikeine se ekonomiese agenda gekritiseer het.

Biden het groot klem op sy binnelandse beleid geplaas, en het sy administrasie se pogings teen inflasie, werkloosheid, klimaatsverandering, Covid-19 en ‘n reeks ander kwessies tydens gister se toespraak voorgehou, en het op ‘n stadium wetgewers dwarsdeur die bank daarvan beskuldig dat hulle saamsweer om welsynsvoordele te beëindig vir Amerikaners.

“Sommige van my Republikeinse vriende wil die ekonomie gyselaar neem – ek verstaan dit – tensy ek tot hul ekonomiese planne instem. Almal van julle by die huis behoort te weet wat daardie planne is,” het hy gesê. “In plaas daarvan om die rykes hul regverdige deel te laat betaal, wil sommige Republikeine hê dat Medicare en Maatskaplike Sekuriteit moet sink.”

Die opmerking het onmiddellik ‘n herrie ontketen, met die Republikeine wat die president – wat probeer het om die woedende skare te paai – luidkeels uitgejou.

“Ek sê nie dit is ‘n meerderheid van julle nie,” het hy voortgegaan en ‘n afskrif van ‘n Rebuplikeinse-voorstel oor Medicare en Social Security-voordele aangebied vir “enigiemand wat daaraan twyfel.”

Te midde van die hekelry, het Greene – wat onder kritici en ondersteuners bekend staan as ‘MTG’ –  “leuenaar” na die podium geskree, en Biden ook herhaaldelik met ‘n duim na onder uitgejou. Ander wetgewers het by die geveg aangesluit, hoewel sommige, soos Huismeerderheidsleier Kevin McCarthy, hulle van openlike ontwrigting weerhou het en bloot hul koppe in afkeur geskud het.

Terwyl hy grootliks op ekonomiese kwessies en probleme tuis gefokus het, het Biden se toespraak ook buitelandse sake aangeraak en verklaar dat die VSA sal voortgaan om hewige “mededinging” met China voort te sit.

“Voordat ek president geword het, was die storie oor hoe die Volksrepubliek China sy mag vermeerder het en Amerika besig was om in die wêreld te misluk. Nie meer nie,” het hy gesê en bygevoeg: “Vandag is ons in die sterkste posisie in dekades om met China of enigiemand anders in die wêreld mee te ding.”

Die president het gesê dat sy administrasie, waar moontlik, met Beijing sal saamwerk, maar het daarop aangedring dat “as China ons soewereiniteit bedreig, sal ons optree om ons land te beskerm, en ons het dit gedoen,” met verwysing na die onlangse afskiet van ‘n Chinese ballon wat oor die VSA gevlieg het. Washington het gesuggereer dat die toestel vir spioenasie bedoel was, hoewel Chinese amptenare die aanklag verwerp het.

Die konflik in die Oekraïne is ook kortliks bespreek, met Biden wat beweer het dat hy “NAVO verenig” het en ‘n globale koalisie gebou het om Rusland teë te staan, wat die vyandelikhede as ‘n “toets vir Amerika” bestempel het. Die president het die Oekraïne se ambassadeur in die VSA, Oksana Markarova, as ‘n spesiale gas voorgestel, en het die beloftes herhaal om Kiëf met wapens en ander hulp te ondersteun vir “so lank as wat dit neem”, nadat hy sedert verlede jaar sowat $30 miljard se direkte militêre bystand gemagtig het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!