Skip to main content

“Ek dra ‘n halfmaan-halssnoer wat aan haar behoort het, daagliks. Ook ‘n ring wat ek vir haar vir haar verjaardag gegee het. Daar is ook stukke van my ma oral om my: skilderye, lampe, my ouma se boeke…”

So vertel die legendariese sestiger-digter Ingrid Jonker se kleindogter, Margarita oor hoe sy die afsterwe van haar ma, Simone Jonker, verwerk.

Simone is verlede Maandag skielik en onverwags aan ‘n agressiewe kanker oorlede.

Margarita het aan Die Waarheid vertel dat Simone in Oktober begin siek voel het.

“Aanvanklik is sy met prikkelbare ingewandesindroom gediagnoseer. Sy het haar gesondheid probeer verbeter deur beheer oor onder meer haar dieet te neem. In Desember het sy ‘n skandering ondergaan, en daarvolgens is sy met ‘n nie-kwaaraardige gewas gediagnoseer. Ons was almal verlig oor wat ons geglo het die nie-kwaadaardigheid van die gewas is, maar haar gesondheid het steeds vinnig agteruitgegaan.

“Sy was toe in Hartebeestpoort. Ek het haar gaan haal en teruggebring Kaap toe sodat ons haar beter kan ondersteun. Sy was steeds baie positief. Toe, in Januarie, net ‘n paar dae voor haar dood, word sy met kanker gediagnoseer. Die hospitaal het vir my gesê sy is in geen lewensgevaar nie – daardie deel verwar my steeds. Sy is ses dae na die diagnose oorlede.”

Margarita, wat die van Celeste verkies ondanks die feit dat haar amptelike van Strybis is, ly ‘n baie spirituele lewe. Sy bedryf die afgelope sewe of agt jaar ‘n suksesvolle en welbekende astrologie-onderneming en skryf heelwat astrologie-artikels.

“My ma was baie spiritueel en my pa het Tarot-kaarte gelees. Astrologie was maar nog altyd in my – ek voel sterk daaroor om mense te help, en vir my is astrologie die manier om dit te doen.

“Ek het by my ouers gewoon totdat ek 18 was en wil voortgaan op die pad wat my ma bewandel het.”

Sy vertel dat sy nie aktief by die digkuns betrokke is nie.

“Toe ek 16 was, het ek my ouma se gedigte in Engels begin vertaal. Die projek het my twee jaar lank besig gehou. Ek het die vrug van my arbeid aan my ma gegee, en sy het dit in 2019 onder die titel Waterfall of Moss and Sun uitgegee.

“Ek hou my egter lankal nie meer besig met die digkuns nie. Ek wil graag my eie paadjie uitkap en astrologie speel ‘n belangrike rol daarin. Dit het my agt jaar geneem om my onderneming tot ‘n suksesvolle, stabiele besigheid te ontwikkel.

“Wat die Ingrid Jonker nalatenskap betref… Ek sal na sekere goed omsien, maar sal tyd neem om konkrete besluite in hierdie verband te neem. Ek is nog besig om die stukke op te tel. Ek het nie genoeg duidelikheid om hieroor kommentaar te lewer nie.”

Sy en haar ma se man, Ernesto, het nog nie veel rondom die onderwerp bespreek nie. “My ma het altyd haar vriende gekoester. Ek glo hy sal voortgaan om baie ondersteunend te wees, ongeag wat ek besluit om te doen.”

Simone is veras, maar die gesin het nog nie die as gekry nie.

Gerald was die enigste van Simone se drie kinders wat nie teenwoordig was toe sy gesterf het nie. Benewens Gerald en Margareta (37), het hulle ook ‘n ouer halfbroer, Tyron (46). “My ma het elke tien of wat jaar ‘n kind gehad,” sluit sy af.

Leave a Reply