Akteur Jacques Gombault gesels oor sy passie vir jongmense en om hulle te help
Elri Boucher
Die akteur Jacques Gombault het al gepronk in van Hollywood films, stemwerk op Turkse telenovelles tot plaaslike sepies, maar dis sy liefde vir die jeug wat hom vreugde bring terwyl hy die land plat toer en van skool tot skool praatjies gee oor hoe jy die boelie in jou lewe kan oorwin!
Die passie-projek het in 2010 begin toe Jacques die film Lang Gras verfilm en vervaardig het en toe volg daar twee ander jeugfilms uit sy pen: Simson Het Nie Muscles Gehad Nie in 2011, en Populariteit in 2013. “Elkeen van die films het ’n boodskap gehad oor waar jy jou identiteit vind en vanuit dié films het ek my veldtog teen boelies ontwikkel,” sê Jacques. In die jare wat gevolg het, het Jacques by skole regoor die land praatjies gegee oor boelies en by verskeie skoue en feeste DVD’s met sy films verkoop met die hoop dat dit ’n impak op mense sou maak. “Ek het altesaam 26 000 DVD’s uit die hand verkoop en die grootse kompliment wat ek in my lewe gekry het was in 2013 by die Innibos fees waar ʼn man met ’n langpunt-baard voor my kom staan het en vir my gesê het hy was vir 17 jaar ’n tandarts in Engeland, en twee jaar terug het ek jou film ‘Simson Het Nie Muscles Gehad Nie’ gesien en dis die hoofrede hoekom ek teruggekom het na Suid-Afrika want ek het gesien ek kan ’n verskil maak in my land.” Dit was vir Jacques wonderlik om te sien watse impak die films, wat almal in Afrikaans is, gemaak het en kort daarna het hy besluit om sy eerste film Lang Gras weer te vervaardig, maar dié keer in Engels en in 2015 was Khumbula – I Will Remember vrygestel.
Jacques het ook sy eie boelie in sy lewe gehad en dit was sy broer, Paul. “Hy is ’n slim man, en op skool was hy gewild onder die meisies en almal het hom gelike. Hy het my nooit fisies seergemaak nie, maar hy het my afgeknou en daar was ʼn tipe sibling rivalry tussen ons wat ʼn vorm van boelie is. Dis waar die boelie die verskoning gee van ‘ek speel net met jou’, maar die ding is dit maak steeds seer en dit kan letsels agterlaat.” Toe Jacques ernstig betrokke raak met sy boelie-veldtog het hy eendag ʼn oproep van Paul gekry, wat nou ʼn ingenieur is, en Paul het Jacques om verskoning gevra vir sy boelie-gedrag teenoor Jacques en die band tussen die twee broers het versterk.
Teleurstelling is nie altyd ’n maklike ding vir jongmense om te verwerk nie, en Jacques weet goed hoe dit voel, want dis ’n tema wat hy ook aanspreek in sy boelie-praatjies. “Op 12 jarige ouderdom het daar ’n filmspan na my skool gekom om die fliek Rienie (1980) te skiet en een gelukkig seun in ons skool sou die geleentheid kry om ’n rol in die film te speel,” sê Jacques. “Ek wou met my hele hart daardie rol losslaan en was erg teleurgesteld toe ek nie die rol kry nie en die gewildste seun in die skool dit kry.” Jare gelde was Jacques, toe al ’n gesoute akteur, besig om vir ’n toneelstuk by die Staatsteater te repeteer toe hy met ʼn man gesels het wat besig was met ʼn studie oor al die Afrikaanse films wat in Suid-Afrika gemaak was. “Ek het hom vertel van Rienie en toe kry ek die geleentheid om die film weer te kyk en toe ek daardie seun sien wat my rol gekry het toe bars daar ’n sweer hier binne my oop, en ek besef hoe ek ʼn wrok gekoester het en aan my teleurstelling vasgeklou het. Hier staan ek nou as kranige akteur en dié seun het nie eers ʼn loopbaan in die kunste gehad nie, maar ek het gevoel ek is nie goed genoeg nie, net omdat ek al daai jare nie gekies was nie.” Met tyd het Jacques vrede in sy hart gevind, en met sy sterk geloofspad het hy gesond geword van daardie pyn – iets wat hy ook vir die kinders leer in sy praatjies.
In 2023 gaan Jacques voort met sy boelie-veldtog en is al klaar op die pad na skole in die Vrystaat en ander provinsies waar hy hoop om ’n verskil in tieners se lewens te maak.
Wanneer dit kom by sy televisiewerk gaan hy ook weer in Binnelanders dié jaar te sien wees waar hy weer die bose rol van die huursoldaat Jonas, Dr. At Koster (Hans Strydom) se aartsvyand, gaan speel. “Ek kan nie te veel weggee oor wat gaan gebeur nie, maar Jonas bring altyd groot moeilikheid en drama,” sê Jacques en vertel ons nog ʼn Jonas staaltjies. “Oor Desember verlede jaar het ek in Stilbaai vakansie gaan hou en in daardie tyd het almal gedink At is dood [later het dit aan die lig gekom hy het sy dood vervals] en die sepieliefhebbers was boos vir my en wou weet of Jonas At doodgemaak het, ek moes mooi verduidelik dit was nie Jonas nie,” voeg Jacques laggend by.
Nog ’n wonderlike geleentheid het ook pas oor Jacques se pad gekom met ’n rol in ’n splinternuwe Netflix reeks genaamd Soon Comes Night wat binnekort in produksie sal wees. “Ek is baie opgewonde daaroor; dis ’n romantiese reeks propvol aksie met ’n storielyn wat steun op Suid-Afrika se politieke geskiedenis,” deel Jacques.
Sjoe, dit alles klink baie opwindend, maar as jy vir nou meer van Jacques wil sien is hy tussen die jongmense besig om hulle te inspireer ‘om die beste jý te wees’.