Skip to main content

Merkwaardige storie van Holocaust-oorlewende wyd bekroon

Ons bereis die eeu van langslewendheid waarin die gesogte prys die goudpot onder die fontein van die ewige jeug is. ‘n Nuwe grootdoekster hierbinne het in Afrika ontpop en sy kan Lalaland se gemanikuurde veterane ‘n les of twee leer. Ná ‘n eeu op Moeder Aarde, sprankel Ella Blumenthal van Kaapstad voort en haar ware lewensstorie laat enige Hollywood-draaiboek vaal lyk. ‘n Groep jong Suid-Afrikaners verbeeld Ella – eens ‘n bekende sakevrou op Brakpan – se storie skitterend in ‘n nuwe dokumentêre fliek wat wyd pryse inpalm. Sonnette Lombaard het gaan loer en koer nou saam in diė lofkoor.

Ná tagtig jaar is ware stories rondom die afgryslike Joodse volksmoord in die Tweede Wêreldoorlog steeds gewilde onderwerpe vir topverkoperboeke, wat dikwels hulle weg na die groot skerm vind, en as lokettreffers wyd bekroon word. Die lys oor dekades van sulke onvergeetlike oorlogflieks is lank, van Patton, Casablanca, The Bridge on the River Kwai en Hope & Glory tot die meer moderne Schindler’s List, The Thin Red Line, Downfall, Saving Private Ryan, Life is Beautiful, Inglourious Basterds en The Reader.

‘n Nuwe een, boonop trots tuisgemaak, pryk nou saam in dié uitsoekkring wat ná kyke kleef en jy nie goedmoeds wíl afskud nie. I am Here is ‘n tranetrekker-triomftog waarin oorlog se gruverhale van pyn, swaar en dood oor die groot skerm spat maar die onoorwinlike mensgees terselfdertyd telkens seëvier. Dís die Suid-Afrikaner Ella Blumenthal se sonderlinge verhaal wat die donkerste dele van menswees oorleef het en sedertdien positief en plesierig aanleef!

In dié dokumentêre fliek, wat in Kaapstad net betyds voor die pandemie se koms klaargeskiet is, kan kykers haar brawe lewensreis meemaak. Dit het reeds op filmfeeste hier en oorsee pryse ingeryg, insluitende by die Durbanse Filmfees en is welverdiend orals as die gehoorgunsteling aangewys.

Ella is ‘n Poolse Jood wat in 1921 in Warskou as jongste van sewe kinders gebore is. Haar kinderjare was gelukkig en sorgvry maar in haar 18de jaar, breek WOII in 1939 uit. In lyn met Hitler se bose drome van wêreldoorheersing is sy en haar familie blitsig as Jode gebrandmerk en is die Dawidster en ‘n nommer op hulle voorams getatoeër. Ingebondel soos slagskape, is hulle na konsentrasiekampe vervoer om hulle lot af te wag. Binne ‘n kort tyd was net Ella en haar niggie Roma oor nadat 23 van hulle familie wreed uitgewis is, insluitende Ella se geliefde tekstielhandelaar-pa.

Oor die volgende vier jaar is die niggies gereeld verskuif na ander kampe, insluitende die berugte Auschwitz. Met geluk het hulle telkens oorleef en is selfs een keer in die gaskamer geboender waar “Duitse presisie” hulle nogeens van die dood gespaar het. Ella vertel in die fliek “die opdrag van bo was dat 500 Joodse vroue daai dag daar verbrand moes word” en toe gevind is dat 700 van hulle afgetel was, was sy en Roma onder die 200 gelukkiges wat weer uitgegooi is.

Tot aan die einde van die oorlog in 1945 was Ella en Roma in nog drie konsentrasiekampe. Hulle is daarna na Parys vanwaar Ella op ‘n boot na die destydse Israel gevaar het waar die Suid-Afrikaanse Jood Isaac Blumenthal haar voete onder haar uitslaan. Net 13 dae later trou hulle en voer hy haar weg na sy tuisland. Ná ‘n ruk in Johannesburg koop hulle die winkel LAMB’S in Voortrekkerstraat, die hoofstraat in Brakpan waar jy enigiets van klere en skoene tot materiaal kon kry. Ella was ‘n bekende en geliefde gesig in die dorp waar hulle vier kinders grootgemaak het. Toe Isaac siek word, verhuis hulle na Kaapstad waar hy later dood is en Ella in vanjaar se winter haar 102de se verjaarsdag sal vier.

Terloops, die skrywer hiervan is gebore en het grootgeword op Brakpan. “Ons het almal LAMB’S en eienaar Ella geken – die dorpenaars het graag daar ingegaan, al was dit net om die interessante verskeidenheid binne te gaan beloer. Ek onthou goed: klas en styl het jou daarbinne omgeef. Min het ons almal natuurlik gewis van Ella se unieke lewensreis van ver tot daar aan die Oos-Rand …”

‘n Mens moet dus dankie sê aan die jong span van Sanktuary Films, wat hierdie juweelstorie so besonders vir nageslagte gedokumenteer het. Regisseur Jordy Sank het Ella deur die Joodse kringe in die Moederstad leer ken en langsamerhand besef haar storie móét vertel word. Toe die jong vervaardiger Gabriella Blumberg eers aanboord kom, kon die kameras begin rol. Hulle is produkte uit die hedendaagse filmskole en het die draaiboek modern geskiet en treffend verpak – waar bv. genoeg spesifieke oorlogfootage vir Ella se storie ontbreek, is dit slim ingekleur met animasie. Wat, soos Jordy bevestig, die draaiboek se gru-ontknoping versag en vir die kyker meer verteerbaar maak.

Jordy wat deesdae vanuit Johannesburg woeker, werk ook flink in die Afrikaanse mark en van sy flieks is op die Silwerskermfees bekroon. Hy werk tans aan ‘n nuwe fliek. Sulke blink talent in agterplaas is altyd verblydend, gesien ons plaaslike rolprentbedryf se groei met rukke en stote.

I am Here is ‘n rou fliekervaring met ‘n swaarder tema en ondertone maar die onbetwiste hoofster Ella se gevatte humor hou dit draaglik. Sy bruis en vat jou enduit saam. Saam met die afgeronde tegniese werk, verdien die eindproduk elke prys en lofgesang.

Ella Blumenthal het op die rype ouderdom van ‘n eeu+ nog ‘n onmisbare huppel in haar stap – haar eva-energie is aansteeklik. Ver van verbitterd, leef dié ouma van elf kleinkinders en grootouma van nege agterkleinkinders steeds voluit en dankbaar en predik versoening aan almal wat wil, of nie wil luister nie. Haat kry geen vatplek aan haar deurleefde en siersiel nie. Sy is ‘n heerlike ontdekking en tydlose inspirasie wat welkom bries, juis nou wyl ons land deur donker dae stoei.

  • I am Here wys by uitgesoekte kunsteaters en draai nou by die Cinema Nouveau in Rosebank, Johannesburg.

One Comment

  • Lynelle Clark says:

    Wat ‘n uitsonderlike verhaal. My ma was ‘n groot ondersteuner van Lamb’s en ons was gereeld daarin. Ek het nooit besef wie die eienaar is nie (was natuurlik nog te jonk om te verstaan). Sal beslis die fliek wil sien.

Leave a Reply

error: Content is protected !!