Skip to main content

Sonnette Lombaard

Oudpresident Jacob Zuma se langdurige stryd om voor die regbank te volhard om sy naam in ere te herstel, het ‘n hupstoot gekry nadat regter Piet Koen homself vandag in Pietermaritzburg aan een van die voormalige landsleier se kern-strafsake onttrek het.

Die regspan van oudpres. Zuma het vroeër ‘n aansoek by die KwaZulu-Natal Hooggeregshof ingedien waarin versoek is dat regter Koen hom aan die wapenskandaalsaak onttrek. Dit het gevolg op Koen se beslissing laas jaar dat die omstrede staatsadvokaat Billy Downer wel in die Zuma-hofsake kan aanbly.

Volgens Zuma se regspan het Koen sterk oortuigings rakende die staat se saak teen die oudpresident, veral in sy beslissing dat Downer steeds vir Zuma kan vervolg, ondanks die feit dat Zuma met ‘n privaatvervolgsaak teen Downer begin het.

Diė saak waarin Zuma vir Downer en die News24-joernalis Karyn Maughan privaat vervolg, het einde laas jaar begin, en is weer op die hofrol vir aanstaande week in Pietermaritzburg. Daarin kla Zuma vir Downer en Maughan aan van skending van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag. Dit hou verband met die lek van vertroulike mediese inligting oor Zuma tussen die regsman en joernalis.

Downer en Maughan het intussen ‘n mosie by die hof ingedien waarin hulle versoek dat dié saak uitgegooi word. Die regter sal aanstaande Woensdag die mosie aanhoor. Dié saak sal na verwagting uiteindelik ook in die Konstitusionele Hof of Appèlhof opeindig.

Die klein oorwinnning vandag is ‘n regmerk vir die Zuma-hoek omdat Koen met sy onttrekking toegegee het dat hy nie onafhanklik genoeg is om verder in die wapenskandaalsaak voor te sit nie. Koen het gesê dat hy tot die slotsom gekom het dat hy in belang van geregtigheid homself van die saak moet verskoon. “Dit was nie ‘n maklike besluit nie, maar is ter wille van gesonde regsadministrasie, die grondwet en my gewete,” het hy bygevoeg.

Volgens hom sal die kwessie oor die billikheid van die konstitusionele verhoor vir Zuma vorentoe bepaal word. “My bevindinge vroeër dui egter op ‘n voorkeur vir ‘n spesifieke interpretasie van die feite wat tot ongelukkigheid kan lei.”

Die adjunkregterpresident van KZN moet nou ‘n nuwe regter aanstel vir die strafsaak, wat op 17 April in die Pietermaritzburgse hof voortgesit word. Die nuwe regter sal na verwagting vinnig aangewys word.

In die wapenskandaalsaak word Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales aangekla van beweerde korrupsie met betrekking tot ‘n wapentransaksie van $2 biljoen. Die beweerde voorvalle van korrupsie het glo plaasgevind tydens Zuma se ampstydperk eers as adjunkpresident vanaf 1999 en toe as president van 2009-2018. Hy het glo vanaf 1999 jaarliks R500 000 omkoopgeld van Thales gekry in ruil vir beskerming van dié buitelandse maatskappy tydens ‘n ondersoek na hulle bedrywighede.

Zuma ontken enige korrupsie of vergrype. Die 80-jarige Zoeloe-veteraan se uitgebreide stryd om sy naam in ere te herstel ná hy aangekla is in verskeie regstryde oor twee dekades duur volstoom voort. Hy het reeds te kenne gegee dat hy nie sal rus voordat Suid-Afrikaners die volle waarheid weet van wat alles agter die skerms gebeur het gedurende sy ampstydperke nie.

Die Jacob Zuma Stigting het gesê regter Piet Koen se sobere besluit word verwelkom omdat objektiwiteit en onafhanklikheid deurslaggewend in die saak is. “Die besluit was boonop die regter se eie – hy het diep in sy siel gaan kyk en sy eerlikheid verdien applous.”

Volgens die stigting moet Koen se besluit as voorbeeld dien vir ander regters soos hoofregter Raymond Zondo en adv. Billy Downer, wie daaruit kan leer. “Ons doen ‘n beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag om ook ag daarop te slaan en nou die regte ding te doen, naamlik toe te laat dat oudpres. Zuma se privaatvervolgsaak voorwaarts beweeg. Indien dit nie gebeur nie, sal ‘n aansoek gebring word om Downer te verwyder,” het die stigting gesê.

Leave a Reply