Sonnette Lombaard
Die benoemings vir vanjaar se gesogte Oscartoekennings is duidelike ondersteuning en ‘n aansporing vir fliekvlooie om post-pandemie na die rolprentteaters terug te stroom. Terselfdertyd word asem opgehou dat vanjaar se glansaand sonder voorvalle sal afloop minus die podiumklap van Will Bad Boy Smith laas jaar wat meer aandag as die wenners gekry het.
Die hoofstroom-loketwenners Top Gun: Maverick en Avatar 2: The Way of Water is verdienstelik benoem vir genoeg van die goue beeldjies wat op 12 Maart in Hollywood uitgedeel word. Die Oscars is die groot afwys in Lalaland en die hoogtepunt van die jaarlikse toekenningsseisoen in die rolprentbedryf wat tans onderweg is.
Die internasionale rolprentbedryf staan juis voor sy grootste uitdaging nog met leër teaters sedert die opkoms van die universeel-gewilde stromingsdienste, asook die pandemie-grendels wat teaters lank toe gehou het. Beide ons eie Ster-Kinekor en Cineworld, die wêreld se naasgrootste rolprentkettinggroep, het blitsig bankrotskap in die gesig gestaar en is in sakeredding geplaas.
Interessant is albei die supergewilde rolprente Top Gun en Avatar opvolgflieke, wat ‘n waagstuk bly omdat fliekgangers tradisioneel langtand byt aan tweede en of meer flieks ná die oorspronklike een en veral as die eerste een ‘n wegsholsukses was. Maar die mensdom het 36 jaar tande geslyp vir Tom Cruise om weer windmakerig agter die supersoniese stuur in te skuif. Die wag was die moeitewerd: Top Gun: Maverick het die loketsyfers ook deur die spoedgrens laat bars! Die fliek, wat $1.5 biljoen ge-in het, het ses benoemings gekry vir beste rolprent, redigering, liedjie, klank, visuele effekte en aangepaste draaiboek.
Avatar 2: The Way of Water is ook benoem as beste rolprent en is soos Top Gun 2 ‘n reuse-lokettreffer en ‘n visueelgedrewe fliekfees wat wyd meesleur. Avatar 2, wat reeds die $2 biljoen-inkomstegrens verby is, het laas jaar wêreldwyd die beste gevaar. Dié epiese wetenskapsfliek is die derde van regisseur James Cameron onder die top 10 grootste geldmakers van alle tye. Dit is ook benoem vir produksieontwerp, klank en visuele effekte.
Baz Luhrmann se afgewagte rock-en-rol bioprent Elvis, Steven Spielberg se kwasi-memoir The Fabelmans, asook Tar, Cannes-wenner Triangle of Sadness, Women Talking, Everything Everywhere All at Once All, Quiet on the Western Front en The Banshees of Inisherin is die ander benoemdes as beste rolprent.
Die Academy of Motion Picture Arts and Sciences het Spielberg weereens vir sy onuitputlike bydrae tot die moderne fliekkuns benoem met nog ‘n regmerk as beste regisseur. Hy is reeds die suksesvolste kommersiële regisseur van alle tye en spog met drie Oscarbeeldjies en verskeie ander leeftyd-eretoekennings.
Met China wat, nogal gedurende die Covid-pandemie, die VSA as die grootste fliekmark in die wêreld verbygesteek het, is dit gepas dat die fliek wat vanjaar die meeste Oscar-benoemings gekry het, Chinees-gedrewe is. Die absurde wetenskapfiksiefliek Everything Everywhere All At Once spog met 11 benoemings, insluitende beste rolprent en regisseur.
Die flieks wat die tweede meeste Oscar-regmerkies gekry het (nege benoemings elk), is Netflix se Duitse anti-oorlogprent All Quiet on the Western Front en die Ierse swartkomedie The Banshees of Inisherin. Albei is as beste rolprent en vir beste regisseur benoem, wyl die Duitse fliek ook as beste buitelandse rolprent sal meeding.
Die Aussies se spogster Cate Blanchett wat reeds twee Oscars tuis het, is vir Tar as beste aktrise benoem. Sy sal dit uitspook teen Michelle Yeoh vir Everything Everywhere All at Once. Yeoh is slegs die tweede Asiatiese vrou met ‘n beste aktrise benoeming in die Oscargeskiedenis oor 95 jaar. Hulle kom te staan teen die donkerkop Kubaan Ana de Armas vir Blonde, die Duitser Andrea Riseborough vir To Leslie en die Yank Michelle Williams vir The Fabelmans.
Angela Bassett (Black Panther: Wakanda Forever) is die vrou wat vanjaar kan geskiedenis maak in die afdeling vir beste ondersteunende spel. Sy is die eerste Marvel superheld-ster met ‘n Oscar-benoeming vir toneelspel.
Austin Butler het met sy kragvertoning as koning Elvis Presley in Elvis ‘n beste akteur benoeming losgeruk. Hy het egter taai teenstand van Colin Farrell (The Banshees of Inisherin), Brendan Fraser (The Whale), Paul Mescal (Aftersun) en Bill Nighy (Living).
Die gunsteling om as fliekliedjie van die jaar gekroon te word, is Lady Gaga se kragtreffer Hold My Hand wat sy spesiaal vir Top Gun 2 gepen het. Dít ondervang die groot hoop dat Tom Cruise se triomfantelike terugkeer welverdiend bekroon sal word. Oscarwenner Viola Davis wat vir ondersteunende spel inThe Woman King benoem is, het ná die aankondiging van die benoemings die afwagting tot toekenningsaand skerp saamgevat. Haar hart is ook op Top Gun: Maverick om die primaprys as beste rolprent in te palm. “Watter beter storie om te vertel? Die fliek wat die rolprentbedryf gered het, is as beste bekroon.”