George April
Dit gons die afgelope paar weke op sosiale media oor die swak slaagsyfer by die Steynville Senior Sekondêre skool in Piketberg.
Vanaf 69% in 2021 het slegs 53.6% dit gemaak in verlede jaar se Nasionale Senior Sertifikaateksamen. Verskeie redes word gegee waarom slegs 142 uit die 265 leerlinge sukses in die jaareindeksamen behaal het.
Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die landelike en plaaswerkers ontwikkelingsorganisasie, blameer ‘n polisieklopjag wat tydens die eksamen plaasgevind het.
“Watter regsdenkende mens kan so ‘n slegte beplanning uitvoer in die middel van ‘n eindeksamen? Hoe kan ‘n senior polisieman van Piketberg en die Bergrivier-wetstoepassers tydens eksamen ‘n dwelmklopjag uitvoer?” het Claasen uitgevaar.
Pieter Engelbrecht het kommentaar gelewer en gesê daar moet ingegryp word voordat dit daal tot onder die 50%.
Nico Blanckenberg het bygevoeg almal moet skouer aan die wiel sit. “Dit is almal se werk, vra ons gemeenskap om te help al is dit ‘n uur se werk. Kom ons wys nie vingers nie, dit is geskiedenis. Die toekoms lê voor.”
Kevin Arries het sonder omhaal gese: “Ja reg, dit is geskiedenis, nou hoe gaan die toekoms lyk as ons kinders saans laat op strate, sowel as in drinkplekke is?”
Millicent Merton, kommunikasiebeampte van die Wes-Kaapse onderwysdepartement het so op navrae reageer: ‘n Onaangekondigde soek- en beslagleggingsoperasie het plaasgevind van 07h35 tot 08h30 op Maandag 14 November 2022. Dit was omdat die skool ‘n toename in daggaverwante voorvalle en geweld onder leerders gehad het.
Hierdie operasie het nie die 11 fisiese wetenskap NSS -kandidate wat op die dag geskryf het, beïnvloed nie. Die NSS -kandidate was nie betrokke by die soekoperasie nie. “Teen die tyd dat hulle begin skrywe het, was die operasie afgesluit.”
Die polisie het nie op medianavrae reageer nie.