ELRI BOUCHER
Daar is altyd ’n glimlag op die sprankelende aktrise Mila Guy, bekend vir haar rol as Dr. Zee in die Afrikaanse sepie Binnelanders, se gesig. Praat jy met haar is daar net positiwiteit en seënwense wat uit haar mond kom ten spyte van die feit dat sy en haar gesin tans deur ʼn moeilike tyd gaan. Haar ma Belinda veg teen ’n aggressiewe kanker en die kanse op oorlewing is skraal, maar steeds steun Mila op haar geloof en klou vas aan hoop.
Die kankermonster het Belinda al geteister toe Mila nog op universiteit was in 2016. “Daar was kanker in my ma se maag gevind en die dokters het toe ’n gedeelte van haar maag uitgesny, en daarna was my ma vir lank in remissie,” sê Mila.
Maar in Desember 2021 slaan die monster weer toe en Belinda word gediagnoseer met kanker in haar pankreas. “My ma het Kersfees in die hospitaal spandeer na ’n gedeelte van haar pankreas uitgesny is en haar galblaas en milt heeltemal verwyder was,” voeg Mila by en sê sonder haar milt is haar ma se immuunstelsel swak, dus kan enige siekte of kiem wat sy optel haar in ongevalle laat beland as sy nie versigtig is nie.
In 2022 kry Belinda die slegte nuus: Die kanker is terug in haar pankreas asook in haar lewer in die vorm van ‘n fase 3 Neuroedocrine gewas. “Dis ’n groot ding want dis in ’n orgaan wat jou aan die lewe hou en dit kan nie sommer net verwyder word nie,” sê Mila. Belinda en haar man Johan, ’n siviele ingenieur wat in 2006 na Nieu-Seeland geïmmigreer het [Mila het in 2012 teruggekeer na SA om haar aktrise-drome te verwesenlik], het toe weggespring met chemo-behandeling en bestraling, maar die behandeling het nie gewerk nie. “My ma het begin navorsing doen oor alternatiewe behandelings en selfs met dokters in Australië, Israel en Suid-Afrika gepraat wat motiveringsbriewe gestuur het na die dokters in Nieu-Seeland dat sy ’n PRRT treament (Pepride Receptor Radionuclide Therapy wat spesifiek neuroendocrine gewasse teiken) kan kry, maar hulle het my ma afgekeur.”
Dit was swaar vir Belinda om die realiteit te verwerk dat sy nie hulp in Nieu-Seeland sal ontvang nie. “Al wat my ma wil hê is om daar te wees op my troudag [Mila is verloof aan die akteur en filmmaker Bennie Fourie] en my jonger sussie Marò sien haar meestersgraad in Environmental Studies vang,” sê Mila. En dis as gevolg daarvan dat Mila en haar gesin begin uitreik het na dokters en spesialiste op eie bodem en wonder bo wonder het Belinda plek gekry in ’n PRRT proefneming hier in SA. “Ek het sommer op Instagram gevra vir hulp en of iemand dokters ken en die reaksie wat ek gekry het was verstommend; almal was so behulpsaam.” Op 11 Januarie het Belinda en Johan per vliegtuig na Suid-Afrika gereis en tans is hulle saam met Mila in die Kaap waar hulle almal saam in ʼn klein twee slaapkamer huis bly.
“Dis bittersoet,” sê Mila om haar ouers saam met haar in Suid-Afrika te hê en tyd saam met hulle te spandeer en te dink kanker het hulle bymekaar gebring. “My pa se ma, ouma Johanna, kuier op hede saam met ons en later, as my ma sterk genoeg is, gaan sy Nelspruit toe om vir háár ouers wie sy vier jaar laas gesien het, te gaan kuier .” Met tye kan die situasie vir Mila, wat ʼn sterk vrou is, oorweldig. “Dis in daai tye wat ek dankbaar is vir Bennie in my lewe; dis by hom waar ek toevlug vind, waar ek kan gaan huil, kla of skreeu, hy luister altyd. Hy en sy familie is my rots en die ondersteuning wat hulle vir my gee help my om aan te hou veg.”
Terselfdertyd is Mila baie gelukkig om haar ma by haar te hê om haar te help met haar en Bennie se troureëlings. “Dis so lekker om vir haar die trou-venue te gaan wys of haar opinie oor ’n lap of versiering te kry wat ons op ons troue gaan hê,” deel Mila. En wanneer is die groot dag? “Dit kan ek nog nie verklap nie, maar dis vinniger as wat julle dink,” sê Mila kripties.
Kankerbehandeling, of dit nou chemo is, eksperimenteel of alternatief, is geweldig duur en mediese fondse betaal nie sommer vir eksperimenteel of alternatief nie. “Net om my ouers hier in Suid-Afrika te kry het R110 000 gekos, en slegs een van haar PRRT behandelings kos R89 000, en sy moet nog vir vier sessies gaan.” Boonop is daar ook hospitaalkostes want Belinda moet daar oornag wanneer sy die behandeling kry en vir vier dae daarna kan Mila-hul haar nie sien nie weens die radioaktiewe bestraling en lutetium wat in haar lyf gepomp word. “Dis moeilik wanneer die dokters jou vra waar sal jou ma begrawe wil word indien sy sterf in Suid-Afrika of Nieu-Seeland, en dan om dit vir jou ouers te vra is hartverskeurend,” sê Mila. “Maar ek wil ook dankie sê aan elkeen wat ons gehelp het om tot hier te kom, daar is net nie genoeg woorde nie.”
Annelize de Wit, ’n vriendin van Belinda het ’n fondsinsamelings-blad vir haar begin om verligting vir die astronomiese kostes te bring en indien jy in hart gelei voel om ’n donasie te maak kliek op dié skakel: https://givealittle.co.nz/cause/help-us-fight-cancer-with-hope
Intussen kan kykers vir Mila sien pronk op die kassie in Binnelanders en in ’n spesiale Valentynsdag-episode van die vasvraprogram, Wie Word ’n Miljoenêr? op Woensdag 15 Februarie om 20:00 op die DStv kanaal kykNET 144 saam met Bennie waar hulle teen twee ander bekende paartjies, sanger Bouwer Bosch en sy meisie Lucinda Neethling en die getroude akteurspaar Altus Theart en Zetske van Pletzen gaan deelneem om fondse vir liefdadigheid in te samel. “Die episode gaan kykers nie wil misloop nie,” sê Mila.