Die gemeenskappe van Namakwaland kyk nie meer na die owerhede om hulle probleme op te los nie. Hulle gaan nou hande vat en die uitdagings wat hulle in die gesig staar, self aanpak.
Die besluit volg op ‘n vergadering gisteraand in Kleinzee na aanleiding van ‘n griefskrif wat die inwoners van die dorpie opgestel het om hulle probleme uit te wys.
Die griefskrif het hoofsaaklik gehandel oor ‘n verswakte veiligheidsituasie vir Kleinzee se inwoners, wat die vinger wys na onwettige immigrante en kriminele elemente in die geledere van die ongedokumenteerde delwers.
“Dit was ‘n positiewe vergadering, met baie mense van die plaaslike sowel as die omliggende gemeenskappe. Dit is deur maklik 300 mense bygewoon. Die ongedokumenteerde delwers van die gebied was ook verteenwoordig en almal het hulle standpunte in ‘n goeie gees gestel,” sê Walter Niedinger, regsverteenwoordiger van Louis Liebenberg, die grootste rolspeler in die diamantmynbedryf in Namakwaland.
Liebenberg het in sy boodskap aan die vergadering versoening gepreek. Hy het almal teenwoordig aangemoedig om ‘n Christelike benadering as uitgangspunt te gebruik in hulle hantering van die probleme in die dorp en in die streek.
“Daar moet eendrag in Namakwaland wees. Een gemeenskap se probleem is almal se probleem,” het hy gesê.
“Ons kan nie onderling baklei nie. Ons moet werk aan ‘n nuwe bedeling van deelname van almal. Die dorp, die delwers en alle gemeenskappe. Ons moet saamstaan om ‘n drukgroep te vorm sodat die owerhede die situasie verstaan en bydra tot ‘n oplossing.”
Hy het uitgewys dat “ons nie die resepte van die verlede kan herhaal nie, want die uitslag sal dieselfde wees.”
Liebenberg het dit duidelik gemaak dat dit moontlik is vir delwers en die georganiseerde mynbou om hand-aan-hand in die streek te werk.
Delwers kan delf – wettig met permitte – terwyl georganiseerde mynbou ‘n belangrike rol speel in die skepping van werksgeleenthede vir delwers se gesinne.
Die besluit is tydens die vergadering geneem dat ‘n komitee met verteenwoordiging vir lede van alle plaaslike gemeenskappe op die been gebring sal word. Daardie komitee sal dan met die hulp van Liebenberg onderhandel met die Nama Khoi-streeksmunisipaliteit, die provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling en die DMR.
Die kwessie van delwerspermitte en die feit dat as iemand eers as ‘n onwettige delwer gearresteer is, hy nie weer wettiglik in die diamantbedryf werk kan kry nie, is ook bespreek en sal ook deur die komitee hanteer word.
Die ongedokumenteerde delwers het ook onderneem om hulle eie geledere te suiwer van misdadige elemente en onwettige buitelanders. Die gemeenskappe en die sakesektor sal ook saamwerk om sekuriteit op te knap.
“Dit was die idee om almal se insette te kry. Die vloer was oop en almal het deeglik daarvan gebruik gemaak,” het Niedinger na afloop van die vergadering gesê.