Skip to main content

Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes, bekend vir sy omgewingsprogramme, vier die geboorte van ‘n jong ‘Rau’-kwagga, ‘n skaars sebra-subspesie.

Die koms van die gesonde jongeling is ‘n mylpaal in ‘n ambisieuse projek, wat in 1987 deur ‘n toegewyde groep natuurbewaarders geïnisieer is, om ‘n dier te teel wat so na as moontlik aan die kwagga lyk.

Hierdie dier is in die tweede helfte van die 19de eeu tot uitsterwing gejag en die laaste bekende merrie is in 1883 in die Amsterdamse dieretuin dood.

Die jong Vergelegen-vul is op 14 Desember gebore na ‘n 12 maande dragtigheid.

Dit is ongestoord gelaat om met die ander sewe kwagga te bind en die geslag daarvan is nog nie bepaal nie. “Hierdie jongeling kom baie ontspanne voor en is as een van die trop aanvaar,” sê Eben Olderwagen, omgewingsprojekbestuurder by die 323 jaar oue landgoed. “Dit het in ’n maand sowat 15 cm langer geword en is opgemerk terwyl hy lusern peusel. Hy suip ook steeds aan sy ma.”

Die kwagga was korter en stewiger as Suidelike Vlaktesebras, met ‘n ligbruin vel en swart merke, anders as die wit vel en swart merke van ander Vlaktesebras.

Kwaggas het gewoonlik net strepe op die kop, nek en voorste gedeelte van hul liggame.

Die kwaggas by Vergelegen, wat in Mei verlede jaar vanaf Pampoenvlei in die Atlantis/Darling-omgewing bekend gestel is, is geleë in ‘n 180 hektaar reservaat met welige natuurlike weiding, ‘n mengsel van renosterbos, Bolandse granietfynbos en verskeie grasse. Olderwagen sê die bestuur hoop dat dié stigterkudde by Vergelegen sal voortgaan om te teel en na sowat twee jaar sal uitgesoekte kwaggas met ander in die program uitgeruil word.

Dit sal inteling voorkom en die strewe om kwagga so na as moontlik aan die oorspronklike spesie te teel, versterk.  Die bestuur beplan om voort te gaan met die bekendstelling van histories natuurlik voorkomende spesies by Vergelegen, het Olderwagen gesê.

Leave a Reply