Of dit nou Kathu, Kakamas of Kuruman is, enige klein dorpie het sy intriges, politiek en skindertories en ’n nuwe reeks, wat in Februarie op kykNET (DStv-kanaal 144) gaan begin draai, beloof om kykers vasgenael te hou.
Mooiweer en warm is die nuutste produk uit die veelbekroonde skrywer Paul C. Venter se pen. Hy is veral bekend vir trefferreekse soos Arende, Konings, Vlug na Egipte en Terug na Egipte.
Die reeks is vanaf Dinsdag 7 Februarie om 20:00 op kykNET te sien.
By ’n doodgewone kerk in die Hoëveld sukkel Ds. Issie, soos vele van haar mede-predikante, om die kerk se koffers vol te kry. Dis juis vir hierdie rede dat sy instem om ’n kontrak te sluit met Alex Kemp om ’n gereelde Saterdagmark op die kerk se gronde te hou.
Ons volg die lewens van hierdie naweeksmouse en kry ’n blik tot in die diepste hoekies van hul lewens. Hul swaarkry en hul blydskap, ook hul oorwinnings en verliese.
“Ek wou lankal iets oor ‘n vlooimark se mense doen,” verduidelik Paul C. Venter. “Terwyl ek met die navorsing by ‘n regte vlooimark besig was, het iemand genoem hoe gevaarlik dit sou wees as die vlooimark aan die brand raak. Toe laat dit my dink aan ‘n groot disaster wat so ‘n mark gaan bedreig. Gaan dit die mark tref of nie? Ek dink dit gaan die kykers laat naels byt tot die einde!”
Soos die karakters die kykers met hul sout-van-die-aarde-mannewales inkatrol, word die spanningslyn versterk wanneer die ondenkbare prut in die agtergrond – die dam wat reg bokant hierdie gemeenskap sit, gaan bars en al wie hiervan weet, is die wetenkaplikes wat oor min tot geen mensekennis beskik. In hierdie wêreld sit komedie en tragedie saam op dieselfde stoeltjie.
In die rol van Cezanne Dippenaar, die geoloog wat vir Geo Solutions werk en wie se verslag die moontlike ramp voorspel, is Carla Smith (Tydelik terminaal, Troukoors). Cezanne het haar familie in ’n ongeluk verloor en het so ryk geërf dat sy nie eintlik nodig het om te werk nie, maar sy besluit tog om in haar geoloog-pa se voetspore te volg.
Carlo Daniels (Skemerdans, Barakat) is die slim weerkundige Ruben Arendse, Cezanne se beste vriend. Hy is gelukkig getroud met Maddy (Athina Jansen – Suidooster en Desemberdiewe), ’n fisioterapeut wat ook ’n stalletjie by die vlooimark het waar sy mense se seer spiere masseer.
Alex Kemp (Geon Nel van onder meer Die Boekklub en Nêrens, Noord-Kaap) is die suksesvolle organiseerder van popkonserte en vlooimarkte. Hy is geskei en deel ’n huis met sy voormalige skoonma, Sonica Winters (Egoli en Lui maar op, Belinda se Brümilda van Rensburg). Skinder die mense oor dié vreemde verhouding? Natuurlik!
Marisa Drummond (Spoorloos: Die eiland, Elke skewe pot) is Isabella Boshoff (Ds Issie vir die inwoners), die eerste vroue-predikant wat die gemeente nog gehad het. Sy was nog nooit getroud nie en die kerkraad begin wonder of hulle die regte besluit geneem het om haar op die preekstoel toe te laat. André Samuels (Sara se geheim) is Bokkie Oktober, die skriba van die kerk wat glo alles in die lewe moet volgens die Bybel bestuur word.
Meyer Basson, ’n jong ouderling in die kerk en ’n voëlkenner wat boeke en sketse by die vlooimark smous, word vertolk deur Beer Adriaanse (Hotel, Kanarie). Is Meyer die ridder wat Cezanne van die bose magte gaan red? Of mense soos Hannah Brand (Susan Danford – Raised by Wolves en Indemnity), bestuurder van Geo Solutions wat onder politieke en finansiële druk is. Of die gevaarlike en glibberige Dieter (Jacques Theron – Moffie en Sheperds and Butchers) wat bang is Cezanne gaan Geo Solutions sink.
Mooiweer en warm is vervaardig deur Nagvlug Films, wat ook verantwoordelik was vir trefferreekse, soos Dinge van ‘n kind, Nêrens, Noord-Kaap en Hotel. Die regisseurs is Zandré Coetzer en Ephraim Gordon. Pieter Bezuidenhout het die titelsnit geskryf en gekomponeer en dit word deur Amanda Strydom gesing.
Mooiweer en warm begin op Dinsdag 7 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.