Skip to main content

Ardern groet as vaandeldraer vir vroue én jong leiers

Die millenniumlandskap stel streng en eiesoortige eise aan die mensdom, vererger deur die ongekende pandemie wat almal vuisvoos uitgespoeg het. Uitbrandsindroom is lankal nie meer ‘jappiegriep’ nie en aan die orde van die dag. Al meer bekendes en presteerders in verskillende velde knak onder oorlading en gooi handdoek in. Die jongste is Jacinda Ardern, eerste minister van Nieu-Seeland wat ná net vyf jaar in die premierstoel genoeg gehad het. Haar petroltenk is leeg, het dié skrander vrou gebieg, wat aan die voorpunt was van die golf wat jong leiers wêreldwyd bloots ry. Sonnette Lombaard berig.

Die gesaghebbende nuustydskrif Newsweek het in die 1980s gewaag om kroniese moegheidsindroom die moderne naam “jappiegriep” te gee. Dit het destyds gesinspeel op die jong ambisieuse professionele en/of welgestelde stedelinge wat al vinniger opgang gemaak het en dan onderweg vasval. Maar dis niks anders nie as die meer bekende uitbrandsindroom wat sedertdien omgangstaal geword het en vir alle mense, ongeag ouderdom, geslag, kleur of nasionaliteit geld. Teen die draai van die eeu was uitbrandsindroom een van dié siektes van ons tyd met die moderne mens wat al strammer byhou met die stresvolle lewenspas en snel veranderende omgewings waarbinne oorleef moet word.

Veral die koms van sosiale media laai bykomende druk af, meer so vir diegene in die fel openbare oog. Alles en almal is nou 24/7 onder die vergrootglas en enigeen kan van oraloor daarop inloer en ‘n eiertjie lê. Gruwels soos boelie op al jonger ouderdomme en eietydse trolle of aanlynpeste steek kop uit op alle vlakke en plekke, soms met tragiese gevolge. En hoewel die moderne mens daarvan hou om met kitsroem te flankeer, kom dit teen die duur prys van elke hoekie van jou lewe wat genadeloos oopgevlek kan word.

In Kiwiland het Jacinda Ardern (42) pas as eerste minister bedank – nog ‘n uitbrandsindroom-slagoffer. Volgens haar binnekringe het dié jong ma van ‘n vierjarige dogterjie ook kwaai deurgeloop onder vieslike dreigemente en selfs afpersing uit verskillende oorde.

Ardern, wat in 2017 verkies is en in haar tweede termyn dien, ontruim vandeesweek die premierstoel. Sy het laas week ‘n bom gelos toe sy bekendgemaak het dat sy gaan bedank omdat sy nie meer gerat genoeg voel om in die stresvolle amp aan te bly nie. Sy is wyd geloof vir haar dapper besluit om eerlik te wees en weg te stap van haar magsposisie. Die donkerkop was een van haar klein eiland se suksesvolste leiers en ‘n prominente deel van die internasionale politieke korps, asook ‘n voorbokkie in die opkoms van jong landsleiers wat tans in wêreldpolitiek die oog vang.

Ardern is lank nie al bekende in die openbare oog wat onder druk knak nie. Waar diegene in stormwaters in vorige eras meestal stil onttrek of “slim” van die toneel verdwyn het, is dit nie meer ‘n skande om te erken dat jou geestesgesondheid lol nie. Vandag word al minder gefrons oor sielswroeging en stap selfs bekendes tydelik of permanent weg van mag, roem en geld. Hollywood wemel van welgedokumenteerde gefolterde siele soos Selena Gomez en Lady Gaga, asook top-akteurs soos Joaquin Phoenix, Christian Bale en Mel Gibson. Raak sterre wat vroeg roem gesmaak het die kluts kwyt, slurp paparazzi-lense gierig die amok op. Soos Britney Spears, Amanda Bynes en Lindsay Lohan kan getuig. Rockgod wyle Elvis Presley se enigste kind, Lisa Marie, wie nes haar pa teen roem se demone gestry het, het ook laas week op 54 gegroet.

In die sportarena waar druk konstant is om te wen en bo te bly en vol toerprogramme die pas vererger, sukkel sportsterre al meer. Die Amerikaanse gholfster Tiger Woods, Japannese tennisspeler Naomi Osaka, en die Yank-gimnas Simone Biles is supersterre wie se sielstryde hulle genoop het om eers hokaai te roep. In die Engelse krieketspan is dit nou vaste gebruik om betyds te breek wanneer jy begin sukkel om by te hou en vreugde in jou sportloopbaan te behou. Selfs die toetskaptein Ben Stokes het tydelik gehalt en erken hy stry teen angs- en paniekaanvalle. Hy en ander bekendes span graag hul eerstehandse ondervinding van die siel se skadukant in as aktiviste vir die bewusmaking van geestesgesondheid. Hier by ons het Bok-rugbyspeler Sbu Nkosi onlangs die “geestesdruk om ‘n professionele speler te wees” as rede gegee vir sy verdwyning kort voor Kersfees.

Die Johannesburgse kliniese sielkundige Barry Viljoen sê dit als dui inderdaad op die veranderde tye wat ons in die 21ste eeu bereis. Hy is tog oortuig dat die moderne mens intussen geleer het om leiers sagter te takseer. “Hulle is net mense met ook lewens weg van hulle werk en posisies.”

Volgens hom was Ardern se leierskap self gekenmerk deur ‘n groter fokus op geestesgesondheid in haar land. “Die uitbrandsindroom kan erger beleef word in loopbane wat hoogs stresvol is en waar voldoende ondersteuning soms te kort skiet.” Voorts het die pandemie tawwe eise aan almal gestel, meer so aan ons leiers, verklaar Barry.

Haar besluit om haarself eerste te stel verklap ook ‘n groter selfbewustheid en kwesbaarheid wat ons nie gewoonlik met sterleiers vereenselwig nie. “Toe die vorige Pous dieselfde gedoen het, was mense in opstand. Die wêreld verander egter vinnig en ingrypend.”

Voorts beklemtoon Ardern se besluit verskillende soort leierskapstyle. “Sy sou in Oktober ‘n verkiesing moes beveg en statistieke wys leiers word nie maklik meer as twee termyne gegun nie. “Sy het waarskynlik haar kanse opgeweeg en besluit om as ‘n wenner eerder as ‘n verloorder te groet.”

Politieke analiste prof. André Duvenhage en Piet Croucamp is dit eens dat Ardern gemis sal word. “Mag is ‘n kerndeel van politiek en politici se status is een van invloedrykwees. Hulle kan groot veranderinge teweeg bring óf skade berokken. Dít lei tot die romantisering van  idividue wat só ‘n pos okkupeer, verduidelik Piet. Volgens hom was Ardern een van die mees menslike mense. “Sy het die status van ‘n politikus afgebreek tot dié van ‘n gewone mens met dieselfde behoeftes en komplekse emosies as almal anders.”

André verwys na die patroon van magsverslawing in veral Afrika waar leiers weier om daarvan afstand te doen en tot op oudag regeer. “Daarteenoor het Ardern juis die insig en wysheid openbaar om te weet wanneer haar tyd verby is. Die feit dat sy met ‘n skoon reputasie uit die morsige politieke kryt klim, is bewonderenswaardig. Niemand kan haar suksesse as premier, ook in die pandemietyd, uitvee nie.”

Piet sal Ardern se puik pragmatisme onthou.”Sy het ‘n sosialistiese agtergrond maar het aanvaar dit werk nie vir haar land nie en ‘n sosiaal-demokraat geword omdat ‘n markekonomie se voordele beter werk afgewentel na die landsburgers.” Hy noem ook die moskee-aanvalle in 2019 in Christchurch en hoe Ardern wetgewing onmiddellik en drasties ingespan het om dié plofbare situasie te ontlont. “Sy het eweneens die staat se mag gebruik om Nieu-Seeland se samelewing meer menslik te maak met die aanvaarding van diversiteit. “Hoe sy bedank het, is g’n swakheid nie. Eerder ‘n bevestiging van haar menslikheid en krag. Haar vertrek is ‘n moerse verlies in hoe ons politieke mag definieer,” aldus Piet.

Vir André het Ardern eerstens die kollig gevang omdat sy as vrou bo uitgekom het, wat in lyn is met ‘n beweging van regerende evas in Westerse lande. “Tot nou verlaat egter relatief min vroulike premiers die politiek met eer. Ardern is ‘n rolmodel wat daarin geslaag om haar land met lof te dien. En sy het ook só gegroet toe sy uit energie begin hardloop.

“Die wêreldorde skuif teen ‘n drastiese tempo met al groter uitdagings. Min politici het die insig en lewensoordeel om te besef wanneer om te gaan,” bevestig André. Tog het sukses op een gebied in haar ampstyd haar ontwyk. “Die magtige All Blacks kon nie die Wêreldrugbybeker wen nie,” voeg hy ondeund by.

Leave a Reply