Skip to main content

Daar is groot goed aan’t gebeur op Orania, die dorp waar alles werk.

Die dorp is stewig op pad na 3 000 inwoners. “Orania kan ‘n streekskerndorp word – dit is reeds die grootste dorp in die Bo-Karoo, groter as De Aar, wat al heelwat ouer as ‘n honderd jaar is,” sê Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania-ontwikkelingsmaatskappy.

“Die mediumtermynbeplanning is ‘n populasie van tussen 10 000 en 15 000 inwoners. Sodra daardie mylpaal bereik is, sal ons verder beplan.”

“Orania groei met tussen 15 en 16% per jaar,” sê De Klerk.

“Orania het ‘n professionele stadsraad wat effektiewe dienste lewer en onderhoud op datum hou. Dit is ‘n veilige omgewing waar mense hulle wìl vestig. Dit is ‘n Afrikaner-omgewing wat kultuurvriendelik is. En al hoe meer mense doen navraag om hierheen te trek. Nou moet die maatskappy die proses versnel om aan die groeiende behoefte te voldoen.”

En die manier om die proses te versnel, is om 500 erwe vir ontwikkeling uit te sit, het die maatskappy besluit. Dit sluit sowat 400 woonerwe, besigheidserwe en nywerheidserwe in.

“Goeie dienste is noodsaaklik. Ons wil ‘n munisipale infrastruktuur daar skep want dit lei tot betroubare dienste wat die basis is vir suksesvolle ekonomiese groei,” sê hy.

Orania het stadsbeplanningsdeskundiges gekry om met die proses te help, maar dit is duidelik dat die hele projek om veel meer as blote ontwikkeling gaan.

“Dit is belangrik dat die plek waar nuwe inwoners hulle vestig, aantreklik moet wees. Mense moet daar kan LEEF, vrylik kan rondbeweeg in ‘n plek wat omgewingsvriendelik is en waar kinders veilig kan voel. Dit is belangrik dat die area ‘n sosiale karakter en atmosfeer het. Ons neem mense eerste in ag, daarna voertuie,” sê De Klerk.

Volgens hom is die grootste behoefte residensieel. “Mense koop eiendomme in Orania en verhuur die huise. Ontwikkelaars en beleggers doen woonontwikkeling sodat mense wat nog nie kan koop nie, kan huur.

“Dan is daar mense wat gedienste erwe aanskaf en self hulle huise bou of laat bou. Ons wil uiteindelik ekonomies ontwikkel, en dis hoekom ons sake-, nywerheids en gemengde gebruik-erwe beskikbaar stel.

“Intrekkers kyk nie net na erwe nie, maar ook na die ligging van skole, mediese dienste en ander tipe instellings wat in ‘n gemeenskap nodig is.”

Volgens De Klerk wil hulle hê Afrikaners moet die demografiese gat kom vul sodat hulle die meerderheid in die gebied kan wees.

Hy sê die eiendomsmark het die laaste vyf of ses jaar geweldig gegroei. “Orania is op die platteland, daarom is erwe bekostigbaar. Jy kan Orania egter nie met die platteland vergelyk nie, jy moet dit met ‘n stedelike gebied vergelyk. En in vergelyking met stede is pryse hier baie kompeterend.”

Hy noem dat alles wat nou gebou word, nuwe infrastruktuur is, dus sal dit effe duurder wees as die oorspronklike huise. Dit sluit in nuwe dreinering, elektriese kabels, en nuwe geboue.

Hulle het nie ‘n sosialistiese benadering of staatsubsidies nie, daarom wil hulle erwe effe kleiner maak om dienskoste te verminder, maar ook omdat arbeid beperk is en mense self hulle erwe moet skoon hou.

“Die klimaat is lekker, dit is net ‘n kort tydjie van die jaar koud. Mense ken Orania as ‘n veilige plek. Daar is ‘n gemeenskapswembad, speelgronde, en kinders kan met veiligheid op straat fietsry. Jou erf is jou privaatruimte, maar die hele dorp is joune.”

De Klerk verduidelik dat daar verskeie projekte in die totale ontwikkeling is. “By Gannabos, byvoorbeeld, ontwikkel ons 100 behuisingseenhede. Tans is ons besig by Olienhoud, waar ons 62 wooneenhede bou wat fokus op die gesinsmark. Ons wil graag meer beleggers en ontwikkelaars betrokke kry wat in hierdie mark kan belê.”

“Ons geloofwaardige idee is nou besig om prakties sigbaar te raak,” sê hy. “Die volgende fase van groei in Orania is gebou op gesonde beginsels wat dit omgewingsvriendelik gaan maak. Dit is veilig daar en daar is gemeenskap-interaksie. Dit maak ‘n groot verskil.”

Hy sê dit is bevredigend om te sien dat enige nuwe idee vrugte oplewer.

“Ons is toenemend in gesprek met ander rassegroepe in Suid-Afrika oor gemeenskapselfstandigheid. Ander gemeenskappe wil weet hoe kry ons dit reg en hoe ons by mekaar kan leer.”

Volgens hom sal die stad uiteindelik twee sakekerns hê – een by die ingang tot die dorp met ‘n groter sakekern rondom die dorpsplein in die middel van die dorp.

“As jy by die stadsplein kom, moet jy voel jy is in die hart van Orania.”

Die stigting het ‘n nuwe hoof van beplanning en ontwikkeling, Hugo van Zyl, ‘n ingenieur, aangestel. Daar is ook ‘n tweede projek-ingenieur om te verseker dat beplanning so gou moontlik uitgevoer sal word.

“Die deskundigheid van ons bestuur is kritiek om te verseker dat alles glad verloop. Ons wil in Oktober hierdie jaar by Kleingeluk begin ontwikkel, en binne 3 tot 5 jaar die hele ontwikkeling uitverkoop hê.”

Leave a Reply