Skip to main content

Isaac Cloete

Dis altyd goed om nuwe bloed na ‘n nuwe onderneming of plek te bring.

In die geval van SA van Wyk Hoërskool (SA) in Bergsig naby Springbok, is die nuwe bloed boonop ‘n relatiewe  jong hoof.

Stanley Thiart, oorspronklik van Nababeep, het laasweek hier die leisels oorgeneem, te midde van afwagting, opgewondenheid en nuwe hoop. Ja, hoop vir ‘n skool wie se matriekuitslae verlede jaar tot ‘n skamele 56% gedaal het.

Nietemin, Rome was nie in een dag gebou nie, daarom verwag die plaaslike gemeenskappe nie nou te veel van Thiart en sy personeel nie.

Terloops, laasgenoemde is die eerste blanke hoof van hierdie skool in Bergsig, wat ‘n oorwegend bruin woongebied is.

Sover bekend, is hy ook die eerste manlike blanke hoof by ‘n bruin skool in die Springbok-omgewing. Die ander was of is vroulike blanke hoofde.

Thiart het gesê dat sy lus vir die onderwys nog nie geblus is nie en dat hy volstoom besig is met nuwe inisiatiewe. Alles sal egter eers teen ‘n slakkepas gedoen word om die skool se “seer te genees.” Daar sal eers gebou en gebou en gebou word om stelsels reg te kry, volgens hom.

Sover het hy groot lof vir sy personeel wat ‘n “verlossing” vir hom is, vertel hy vasberade. Hy beskou hulle as ‘n fantastiese en wonderlike span.

Ook sê hy: “Ek het nog geen teenkanting van enigiemand gekry nie. Die gemeenskap van SA wat ons bedien, het my met ope arms verwelkom. Dit het my hart so warm gemaak, daarom wil ek nie as ‘n buitestaander gesien word nie, maar eerder as deel van die familie.”

Sy versoek aan die ouers is: “Byt met ons saam vas sodat ons kan doen wat gedoen moet, want die regte kanale sal gevolg word. En die regte dinge gaan in plek gestel word.”

Sy onmiddelike visie is om die skoolomgewing veilig en dwelmvry te maak. Verder moet leerders gedissiplineerd raak, benadruk hy.

Ten slotte vertel die ambisieuse hoof dat hierdie skool gesond sál word van die verlede. Hy hou egter in gedagte dat daar ‘n wenslys én prioriteitslys is wat elkeen sy pond vleis vereis.

Op die langer termyn wil hy die trotse tradisie van SA terugbring. Hy is bewus van die ryke geskiedenis wat die skool het, daarom voel hy dat die trots onder leerders sistemies teruggebring moet word.

Leave a Reply