Skip to main content

Die polisie in Northam het gister sewe (7) verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle koperkabels wat vermoedelik gesteel is op die Middeldrift-Koedoesdorp openbare pad vervoer het.

Die polisie het inligting ontvang oor verdagtes wat glo verantwoordelik was vir die diefstal van koperkabels op ‘n plaas. Hulle het dit Sondag omstreeks 21:00 in ‘n wit Ford Ranger-bakkie vervoer.

‘n Taktiese gesamentlike operasie in samewerking met boere is in die omgewing uitgevoer en daarna is die voertuig wat by die beskrywing gepas het langs die pad opgemerk en is deur die polisie gestop.

Die voertuig met vier manlike insittendes is deursoek en die polisie het op koperkabels afgekom. Die vier mans kon nie sê waar hulle dit gekry het nie. Die vier verdagtes is onmiddellik in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

In die proses het die eienaar van die plaas by die toneel opgedaag en die gesteelde koperkabels positief uitgeken.

Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die gesteelde koperkabels by Northam HOP-afdeling verkoop sou word.

Met aankoms daar het die polisie ‘n 42-jarige vrou gekry wat glo die gesteelde koper so aankoop. Daar was ook twee ander mans wat in besit was van verskeie sakke met nuut-gestroopte koperkabels, badkamerkrane en Transnet-koperdrade. Die vrou het erken dat sy onwettig handel dryf met koperkabels en die drietal is dadelik in hegtenis geneem.

Verdere polisie-ondersoeke kan moontlik die verdagtes positief verbind met ‘n reeks inbrake wat in die gebied gepleeg is ná diefstal van krane, koperpype, lugversorgers en graansirkelmotors.

Die verdagtes tussen die ouderdomme van 29 en 46 sal binnekort voor die Northam-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde eiendom ter waarde van R250 000.

Polisie-ondersoeke duur voort.

Leave a Reply