Skip to main content

Vroueharte slaan bollemakiesie wanneer mans op hul een knieg ‘n ronde stuk goud met ‘n steen of twee daarin aanbied, maar het jy geweet dat daar eintlik interessante feite agter goud lê?

Goud, wat een van die mees gesogte metale op aarde is, is al vir duisende jare as betaalmiddel tydens handeldryf-transaksies gebruik.

Maar … het jy geweet dat goud meer as twee miljard jare gelede eintlik vanuit die buitenste ruim aarde toe gekom het tydens ‘n meteorietstorm? Volgens geoloë het die gouddraende meteoriete ontstaan nadat eksotiese sterre met mekaar gebots het.

Die gesegde ‘geld groei nie aan bome nie’ is nie waar nie, maar goud groei wel aan bome. Inderdaad! Australiese wetenskaplikes het ontdek dat bloekombome gouddeeltjies bevat. Dit is omdat die bome se wortels tot 130 voet onder die grond kan reik, en hulle absorbeer die mikroskopiese gouddeeltjies saam met water waarna dit na die blare oorgedra word.

Kan jy glo dat een kubieke voet goud ‘n halwe ton weeg?

Aangesien goud een van die mees smeebare metale is, kan een gram daarvan ‘n hele vierkante meter dek, en ‘n Troy ons kan in ‘n dun draad van ongeveer agt kilometer gerol word.

Goud is dié metaal waarvoor mense deur die geskiedenis oorloë gevoer het.

Selfs die son bevat goud: ongeveer 6 tienmiljardstes (0,0000000006) van die massa van die Son bestaan uit goudatome.

Die grootste goudstaaf ter wêreld, wat in ‘n skoenboks kan pas, weeg 250 kg. Dit is meer as 240 miljoen rand werd, was deur die Mitsubishi Materials-korporasie gemaak en  word in ‘n museum in Japan tentoongestel.

Iets wat my asem weggeslaan het is die feit dat daar 20 miljoen ton goud in die see is. Dit is egter ‘n nagmerrie om te ontgin omdat die goudafsettings op fel dieptes – ‘n paar kilometer onder die water – lê en deur rotse omhul is.

Hoe suiwer is 24 karaat goud?

Goud se suiwerheid word bepaal deur ‘n millesimale finessewaarde, wat ‘dele per duisend waarde’ vir die metaal kwantifiseer. 24-karaat goud soos dit in die juweliersware-handel bekend staan, word aangehaal as 999,9 of ‘vier nege’ of 99,99%, wat ‘n byna suiwer metaalkonsekwentheid bevat. Ander algemene suiwerhede, soos 22 karaat (91.6%), 18 karaat (75%) en 9 karaat (37.5%) bevat ‘n aanvullende metaal, gewoonlik koper of silwer om ‘n harder, meer duursame konsekwentheid aan die produk te verskaf.

Leave a Reply