Skip to main content

Iga Swiatek is een van die topgekeurde spelers wat reeds in die eerste week van die Australiese Ope uitgeskakel is. Foto: Twitter / @AustralianOpen

 

Kobie Cilliers

Die topgekeurde mans- en vroue-speler op die Australiese Ope word albei in die eerste week van die toernooi uitgeboender, die Blitsbokke sak van eerste na vierde op die Wêreld-sewesreeks se punteleer, en Suid-Afrikaanse rugbyspanne vind dit nogmaals moeilik om in Europa te wen.

TENNIS

Vanjaar se Australiese Ope in Melbourne, wat soos gewoonlik onder kritiek deurloop weens die hitte waarin spelers moet meeding en wedstryde wat soms eers in die vroeë oggendure voltooi word, is sommer vroeg reeds as die “toernooi van opskuddings” gedoop.

Gekeurde spelers het van die eerste rondte af teen buiteperde gesneuwel, met ‘n Suid-Afrikaner wat verantwoordelik was vir een van die eerste verrassings op Melbourne Park vanjaar.

Lloyd Harris, Suid-Afrika se voorste speler, het verlede Maandag op die eerste dag van die Grand Slam vir ’n ligte opskudding gesorg deur Lorenzo Musetti van Italië te verslaan.

Die Kapenaar het Musetti, die 17de gekeurde, in ’n titaniese stryd met 6-4, 6-1, 6-7(0), 2-6, 7-6(4) geklop.

Hy het voor die aanvang van die Australiese Ope slegs die 186ste plek op die wêreldranglys beklee.

Hy kon weens sy kniebesering nie verlede jaar op Wimbledon of in die Amerikaanse Ope speel nie.

Ongelukkig het Harris se aanslag in die enkelspel in die tweede rondte tot ’n einde gekom toe die Hongaar Márton Fucsovics hom met 6-2, 6-3, 5-7, 6-4 geklop het.

Harris en sy dubbelspel-spanmaat, Raven Klaasen, is egter nog in die wedloop in die eerste major van die jaar. Die Suid-Afrikaanse landgenote het Saterdag 20 wenhoue gemoker in hul oorwinning met 6-4, 6-4 oor die Franse Sadio Doumbia en Fabien Raboul om na die derde rondte deur te dring.

* Die tweede rondte is toevallig ook toe waar die eerste gekeurde Rafael Nadal en die tweede gekeurde Casper Ruud hulle rieme styfgeloop het.

’n Heupbesering en briljante spel deur die ongekeurde Amerikaner Mackenzie McDonald het tot Nadal se skoknederlaag bygedra.

Nadal was met 4-6, 3-5 agter toe hy sy heup beseer het toe hy gehardloop het om ’n handrughou te slaan.

Nadal, die verdedigende kampioen, se nederlaag het Novak Djokovic se kanse nou aansienlik verbeter om ’n tiende Australiese Ope-kroon te verower – mits die Serwiese ster se fiksheid hou.

Djokovic het sy opmars in Melbourne Saterdag voortgesit met ’n oorwinning van 7-6(7), 6-3, 6-4 oor die Bulgaar Grigor Dimitrov, maar kommer oor sy beseerde linkerdyspier het verder toegeneem.

Djokovic, wat homself vir die 15de keer in die vierde ronde bevind, sal volgende teen die Australiër Alex de Minaur te staan kom.

* In die vroueloting het die 22ste gekeurde Elena Rybakina van Kazachstan Sondag vir ’n groot opskudding gesorg deur die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek, met 6-4, 6-4 uit die toernooi te boender.

Die Russiese gebore Rybakina, verlede jaar se Wimbeldon-kampioen, sal in die vierde ronde weer teen ’n Grand Slam-kampioen te staan kom wanner sy vir Jelena Ostapenko aandurf.

Ostapenko het self vir ’n verrassing gesorg toe sy met die sewende gekeurde Coco Gauff afgereken het.

Die derde gekeurde Jessica Pegula van Amerika is nou die hoogste gekeurde vrouespeler wat oorbly.

SEWES

Die Blitsbokke het Sondag twee naelbyt-nederlae gely en in ‘n teleurstellende sewende plek op die FMG Stadium in Hamilton geëindig.

Sandile Ngcobo, afrigter van die die Blitse, se span het na dese tot die vierde plek op die HSBC-Wêreld-sewesreeks se punteleer teruggesak.

Argentinië het die titel beklink deur Nieu-Seeland in die eindstryd met 14-12 te klop. Al het die tuisspan in die eindstryd verloor, het sy goeie vertoning in Hamilton gesorg dat hy na die boonste plek op die punteleer skuif. Die geelwortel vir spanne wat hulle aan die einde van die seisoen onder die top-vier op die punteleer bevind is natuurlik dat hulle outomaties vir die Olimpiese Spele in 2024 in Parys, Frankryk kwalifiseer.

Die Blitsbokke het Saterdag skoonskip gemaak in hul groepwedstryde, onder meer deur met die uiteindelike kampioen, Argentinië, af te reken. Dus was Sondag se twee nederlae – met 17-22 teen Frankryk en 14-21 teen Ierland ­– uiters teleurstellend vir Ngcobo.

Volgens Ngcobo, wie se span voor die die naweek die boonste plek op die algehele puntelys gesamentlik saam met Samoa ná verlede maand se Kaapstad-toernooi gedeel het, het sy spelers nie die wedstrydplan uitgevoer nie.

Die Blitse sal vinnig ‘n plan moet maak om hul foute reg te stel. Die volgende toernooi in die Wêreld-sewesreeks word reeds van Vrydag tot Sondag in Sydney, Australië beslis.

BOKS

Voorbrandmakery is ‘n kenmerk van boks. Hoe meer “hype” voor ‘n boksgeveg genereer word, hoe beter vir die organiseerders, promotors en boontjietellers van die byeenkoms.

Maar verlede week het twee boksers sake so ver gevat, dat hulle voor hul geveg die afgelope naweek jammer gesê het vir hul aandeel in ’n onaangename nuuskonferensie.

Chris Eubank jr. en Liam Smith, twee Britse middelgewigboksers, het mekaar Saterdag in die Manchester-stadion in Engeland gepak.

Albei vegters het mekaar in die voorafgaande nuuskonferensie lelike dinge toegesnou. Smith het homofobiese aanmerkings teenoor sy teenstaander gemaak en Eubank het die standvastigheid van sy opponent se huwelik bevraagteken.

Ten spyte van die aanmerkings het die boksers mekaar darem nie op die media-konferensie te lyf gegaan nie.

Maar Smith (34) het toe, effens teen die verwagtinge, laaste gelag en vir die 33-jarige Eubank jr. in die vierde ronde van hul geveg platgeslaan.

RUGBY

* ‘n Mens wonder met elkeen van die Bulls se wegwedstryde in Europa hierdie seisoen hoe op dees aarde hulle die gedugte Leinster verlede jaar in die halfeindronde van die United Rugby Championship in Ierland geklop het.

Want die Pretorianers het Vrydagaand in hul eerste besoek aan Frankryk in die European Professional Club Rugby (EPCR) se Kampioenebeker-kompetisie teen Lyon ’n groot nederlaag met 31-7 gely.

Die besoekers het een ligapunt nodig gehad om seker te maak van ’n plek onder die voorste 16 spanne en ‘n afspraak in die uitklop-rondes, maar die Bulls se teleurstellende vertoning sal hulle nogmaals stof tot nadenke gee.

Daar is in die verlede dikwels gewys op die Bulls wat gereeld benede standaard op toer in die Superrugby-reeks vertoon en dieselfde stigma begin posvat in Europa.

* Die Sharks het Saterdagmiddag hulle eerste nederlaag in die Kampioenebeker-reeks gely, maar ‘n bonuspunt vir vier drieë in die doodsnikke van hul kragmeting teen Harlequins op Twickenham Stoop het aan die Durbaniete ‘n Kampioenebeker-uitspeelwedstryd in die laaste 16 op hul tuisveld verseker.

Die Harlequins het vyf drieë gedruk om die Springbok-belaaide Sharks met 39-29 in Londen te klop.

* Die Stormers het Saterdagaand weereens vir slegs 40 minute van ‘n kragmeting werklik meegeding. Maar hierdie keer was dit in die tweede helfte wat hulle eers wakker geskrik het, eerder as om in die eerste 40 minute uit te blink en dan te gaan lê.

Die tuisspan het Clermont met 30-16 en ‘n bonuspunt in die DHL-stadion geklop en sal danksy dié vyf punte ’n tuis-uitspeelstryd in Maart se Kampioenebeker-uitkloprondte aanbied.

Die Kapenaars het tussen die 48ste en 64ste minuut vier drieë aangeteken en die wedstryd uiteindelik gemaklik gewen nadat hulle met die rustyd met 3-6 agter was.

* Die Lions het Sondagmiddag in die eerste helfte van hulle Uitdaagbeker-wedstryd teen die Dragons in Ystrad Mynach,Wallis, genoeg gedoen om ‘n oorwinning met 30-25 te verseker.

Die Johannesburgers het hul vorige vier wedstryde agtereenvolgens verloor en ná ‘n goeie begin teen die Dragons het hulle hul ondersteuners weer vir ‘n wyle bekommerd gelaat.

* Die losskakel Siya Masuku het Sondagmiddag in die Cheetahs se “tuiswedstryd” in die Stadio Sergio Lanfranchi in Parma reg teen die einde ’n strafdoel teen Pau aangeteken om sy span se veldtog in die Uitdaagbeker-reeks lewendig te hou.

Die Cheetahs, wat al hul tuiswedstryde in die kompetisie in Italië moet speel, het hulle Franse teenstanders met 9-6 te klop.

Die telling was met rustyd 3-3 en met speeltyd verstreke 6-6 toe Masuku kans kry om pale toe aan te lê.

Die Cheetahs het danksy die oorwinning verby Pau op die punteleer geskuif en sal in hul volgende wedstryd in die Uitdaagbeker-reeks teen Toulon speel.

Leave a Reply